10-punt-plan om enige eksamenvraestel te benader

Deur Anja van den Berg, Solidariteit Jeug

“Solidariteit Jeug bied loopbaanadvies aan en help die jongmens van die klaskamer tot in die werkplek.  Sluit gratis aan deur ʼn profiel te skep by www.jeug.co.za.

Jy sit in die eksamensaal en wag om daardie gevreesde stuk papier in die hande te kry. Jy het hope inligting in jou brein ingeprop en jy het nie meer vingernaels nie ─ jy moet hierdie eksamen vir ´n ses slaan.

Dit is waaroor dit alles gaan.

Moenie die fout maak om halsoorkop in te duik sonder om eers jou aanloop te beplan nie.

Hier is ´n praktiese 10-punt-plan om jou bes te kan doen:

  • Die allerbelangrikste is om jou naam en studentenommer neer te skryf! Moenie dit vir laaste los nie.
  • Gaan vinnig deur die vraestel om ´n geheelbeeld van al die vrae te kry.
  • Lees die hele vraestel versigtig deur. Neem 5 tot 10 minute en werk uit watter vrae jy gaan beantwoord en die volgorde waarin jy hulle gaan beantwoord, en beplan hoeveel tyd jy aan elkeen gaan afstaan.
  • Let noukeurig op die punteskema. Moenie ´n halfuur lange opstel skryf vir twee punte nie. Probeer ´n balans vind tussen die tyd wat aan ´n vraag bestee word en die punte wat jy sal kry. As dit ´n 90-minuut-vraestel is wat uit 60 punte tel, het jy gemiddeld 1,5 minute vir een punt. Beplan jou tyd daarvolgens.
  • Onthou dat eksamenvrae nie daaroor gaan dat jy alles moet neerskryf wat jy van ´n onderwerp weet nie – as jy dit doen, sal jou tyd byna vir seker opraak! Jy probeer die beste punte moontlik vir die hele vraestel te kry, nie net vir die vraag waarmee jy besig is nie.
  • Doen die maklikste vrae eerste. Daar is geen rede om die vrae te beantwoord in die volgorde waarop hulle op die vraestel verskyn nie. Om aan die begin van ´n eksamen een vraag veilig agter die rug te kry, gee selfvertroue ´n hupstoot en kan help om die paniek in toom te hou wat kan ontstaan as jy na die moeiliker vrae kyk. En daarbenewens sal die maklikste vraag waarskynlik minder tyd as die gemiddelde in beslag neem. Dit beteken jy is van die begin af voor die skedule – nog ´n goeie hupstoot vir die selfvertroue.
  • Moenie vasval nie! Vermy skrywersblok, daar is nie tyd daarvoor nie. As jy vassteek by ´n vraag, beweeg aan. Begin ´n ander een doen. Om vir wie weet hoe lank te staar na ´n vraag wat jy nie kan antwoord nie, is ´n vermorsing van tyd en jy sal verbaas wees hoe goed skielik duidelik word as jy na ´n halfuur na ´n vraag terugkeer.
  • Verduidelik wat jy doen. Dit geld veral wiskunde, data en somme. Moenie net lang rye berekenings neerskryf nie. Voordat jy begin, verduidelik wat jy met die afleiding probeer doen en voeg kommentaar by soos jy aangaan. Dis maklik en kan ´n klomp punte verdien vir metode, selfs al is die antwoord verkeerd.
  • Maksimaliseer as jou tyd opraak. Veronderstel jy het tyd oor vir een vraag, maar daar is nog twee vrae oor. Watter een kies jy? Die manier om jou punte te maksimaliseer, is om die eerste helfte van albei te doen. Jy kry vinniger punte aan die begin van ´n vraag as aan die einde. As jy nie tyd het om sinne te skryf nie maar jy weet wat om te doen, gebruik dan net koeëlpunte. As jy nie tyd het om die berekenings te doen nie, skryf en verduidelik watter berekenings jy sou gedoen het. Jy kan punte kry vir metode.
  • Moet nooit ´n eksamen vroeg verlaat nie. Daar is altyd iets wat jy kan doen om jou vraestel te verbeter. Kontroleer, en kontroleer weer. Voeg meer verduidelikings by. Hersien en proeflees al jou antwoorde vir spelling, punktuasie en grammatika. Dubbelkontroleer jou berekenings. Het jy al die dele van al die seksies van al die vrae gedoen? Trek voordeel uit elke minuut wat jy oor het nadat jy jou vraestel afgehandel het.

Bronne
University of York: http://www-users.york.ac.uk/~dajp1/Exam_Hints/Exams.html
School A to Z: http://www.schoolatoz.nsw.edu.au/homework-and-study/homework-tips/eight-clever-ways-to-approach-an-exam
Edublox: https://www.edubloxsa.co.za/how-to-answer-exam-papers/

Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
[gravityform id=36 title=false description=false ajax=true tabindex=49]

Tags


Lees meer...

Gesels met ons