fbpx

15 Junie is D-dag vir aansoekproses in Gauteng

Ouers van voornemende Graad 1- en Graad 8-leerders in Gauteng moet aanlyn registreer sodra die registrasieproses vir die 2024 op 15 Junie 2023 open. Die 2024-aansoekproses skop op 15 Junie af en aansoeke sluit op 14 Julie om middernag. Ouers het ‘n maand om hul aanlyn aansoeke in te dien, maar drie van die vier weke val in die skoolvakansie.

“Die belangrikheid van vroeë aansoeke kan nie genoeg beklemtoon word nie. Skole sluit op 24 Junie vir die vakansie. Dit is dus noodsaaklik dat ouers die aansoekproses voltooi en bevestigende dokumente voor die vakansie begin by hul skool van eerste keuse indien. Tydige aansoeke sal help om moontlike vertragings of probleme wat mag ontstaan te voorkom,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). “Skole het slegs 5 dae vir die inneem en verifikasie van dokumente. Die redenasie agter die gekose datums is onduidelik en gaan vir duisende ouers ʼn struikelblok wees.”

Aansoeke vir plasing in Gautengse skole kan slegs aanlyn op die Gautengse Departement van Basiese Onderwys se webtuiste ingedien word. Die SOS raai ouers aan om hul keuse van skole te beperk tot een of twee, alhoewel daar voorsiening gemaak word vir tot 5 keuses op die stelsel.

Die nodige dokumentasie moet binne sewe dae ingedien word. Dit sluit in:

  • bewys van huisadres
  • ʼn gewaarmerkte afskrif van elke ouer/voog se ID
  • leerder se jongste rapport (graad 7)
  • elke leerder se geboortesertifikaat
  • leerder se kliniekkaart/immunisasieverslag (graad 1)

“Die SOS beveel aan dat dokumente fisies by die skool van eerste keuse ingedien word, en nie aanlyn nie. Dit is ook wys om ʼn skermskoot van elke stap in die aansoekproses te neem om as bewyse te dien indien daar later ’n dispuut oor die plasings van jou kind(ers) ontstaan,” sê Buys. “Maak seker dat jou kontakbesonderhede korrek is by die skool/skole waar jou kind(ers) tans skoolgaan, asook op die aansoekvorm. Onthou dat die bewys van huisadres die belangrikste dokument is wanneer ‘n aansoek ingedien word.”

Die SOS vat hande met AfriForum om die nodige bystand aan ouers en skole te bied. Stuur gerus ʼn e-pos na [email protected] indien enige probleme ondervind word.


Tags

GDO, SOS


Lees meer...