fbpx

15 Junie is D-dag vir aansoekproses in Gauteng

Ouers van voornemende Graad 1- en Graad 8-leerders in Gauteng moet aanlyn registreer sodra die 2024-aansoekproses op 15 Junie 2023 open. Aansoeke sluit op 14 Julie – in die skoolvakansie. Ouers het ‘n maand om hul aanlyn aansoeke in te dien, maar drie van die vier weke val in die skoolvakansie.

“Die belangrikheid van vroeë aansoeke kan nie genoeg beklemtoon word nie. Skole sluit op 23 Junie vir die vakansie. Dit is noodsaaklik dat ouers die aansoekproses voltooi en bevestigende dokumente voor die vakansie begin by hul skool van eerste keuse indien. Tydige aansoeke sal help om ʼn plek in jou skool van keuse te verseker en Afrikaanse skole help om Afrikaans te bly,” sê Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS).

“Skole het slegs 5 dae voor die skoolvakansie vir die inneem en verifikasie van dokumente, aangesien die res van die aansoektydperk in die vakansie val.

Aansoeke vir plasing in Gautengse skole kan slegs aanlyn op die Gautengse Departement van Basiese Onderwys se webtuiste ingedien word. Die SOS raai ouers aan om hul keuse van skole te beperk tot een of twee, alhoewel daar voorsiening gemaak word vir tot 5 keuses op die stelsel.

Die nodige dokumentasie moet binne sewe dae ingedien word. Dit sluit in:

  • Ouer se ID of paspoort
  • Leerder se geboortesertifikaat of paspoort
  • Bewys van huis- of werksadres
  • Mees onlangse graad 7-rapport vir gr. 8-aansoeke
  • Kliniekkaart vir gr. 1-aansoeke

Die SOS beveel aan dat dokumente fisies by die skool van eerste keuse ingedien word, en nie aanlyn nie. Dit is ook wys om ʼn skermskoot van elke stap in die aansoekproses te neem om as bewyse te dien indien daar later ’n dispuut oor die plasings van jou kind(ers) ontstaan,” sê Buys.

“Maak seker dat jou kontakbesonderhede korrek is by die skool/skole waar jou kind(ers) tans skoolgaan, asook op die aansoekvorm. Onthou dat die bewys van huisadres die belangrikste dokument is wanneer ‘n aansoek ingedien word.”

Die SOS vat hande met AfriForum om die nodige bystand aan ouers en skole te bied. Stuur gerus ʼn e-pos na [email protected] indien enige probleme ondervind word.

Gauteng toelatings2

Tags

aanlyn toelatings, aansoeke, GDE, Graad 1, Graad 8, Toelatings


Lees meer...