Blog

Kuberboelies – Hoe weet jy jou kind word geboelie op sosiale media?

Kinders wil dikwels nie hul ouers of onderwysers vertel dat hulle aanlyn geboelie word nie. Kinders wat swak akademies presteer en sukkel om te fokus op sekere take, word waarskynlik gereeld geboelie. Al vertel jou kind jou nie altyd wat aangaan in hul persoonlike lewe nie, is daar ’n paar rooi vlaggies waarvoor jy as ouer of onderwyser kan uitkyk om te identifiseer of jou kind aanlyn geboelie word. Carla de Beer, ’n regskundige verbonde aan The Digital Law Company, noem vier dinge waarvoor ouers en onderwysers kan uitkyk:

 

  1. Let op ’n verandering in jou kind se emosionele toestand

Navorsing wys hoe meer tyd jy aanlyn deurbring, hoe groter is die kans dat jy depressief word, aan angstigheid ly, meer aggressief sal wees en psigotiese simptome ervaar. Hierdie is alles gevaartekens dat jou kind ‘n slagoffer is van kuber boelies of wraak pornografie. Kyk uit vir verandering in die kind se humeur en persoonlikheid. Wanneer ‘n kind oornag van ’n ekstrovert na introvert verander, moet dit vir ouers en onderwysers ’n gevaarlig laat flikker. ‘n Kind wat baie vining tranerig raak, is waarskynlik ook ‘n slagoffer van kuber boelies.

 

  1. Let op ’n verandering in jou kind se fisiese gedrag

Sodra jou kind angstig raak wanneer hy ‘n boodskap op sy foon ontvang, nie meer so baie tyd op sy skootrekenaar/tablet/foon deurbring nie, of sy skerm toe hou as jy in die rondte is, moet daar ‘n rooi lig afgaan.

Jonger kinders sal indirek die geboeliery aanspreek deur byvoorbeeld te sê, “Ek het nie maats nie”. Ouer kinders sal baie verdedigend raak wanneer iemand hulle aanspreek oor boelies of vra of hulle aanlyn geboelie word. Nog ’n gevaarteken is wanneer jou kind nie meer wil skool toe gaan nie of skool bank. Die kuber boelie wat jou kind afkraak is waarskynlik ‘n leerder by die skool en jou kind probeer hom soos die pes vermy. As jou kind nie meer dinge wil doen wat hy geniet het nie, kan dit ook daarop dui dat hy geboelie word. As ‘n eerste span rugbyspeler skielik belangstelling verloor in die sport waarvoor hy lief is, wys dit iets is fout.

 

  1. Kyk na jou kind se slaap patrone

As jou kind tot laat in die aand wakker bly en televisie kyk of sukkel om wakker te word in die oggend, moet jy bekommerd wees. Onderwysers sal dit by die skool ook kan optel as die kind heeldag moeg is en sukkel om te konsentreer in die klas.

 

  1. Jou kind se eetgewoontes verklap baie

‘n Ouer of onderwyser kan ook vinnig optel dat ‘n kind geboelie word, deur hul eetgewoontes dop te hou. As hy homself skielik begin ooreet of glad nie meer ‘n eetlus het nie, is daar fout.

 

Indien jou kind geboelie word, moet dit onmiddellik aangespreek word en die kind daarvoor behandeling ontvang. ’n Geboeliery kan angstigheid of depressie veroorsaak en selfs in meer ernstige gevalle, selfdood tot gevolg hê. Kinders word al hoe jonger blootgestel aand hierdie geestesiektes en die selfdood syfer onder jongmense styg jaarliks. Praat met jou kind, dit mag dalk net die wêreld se verskil maak.