Uit beginsel moet ouers verwag dat kinders gehoorsaam sal wees wanneer ouers die eerste keer ’n opdrag gee. Hiermee bedoel ons nie om ’n militaristiese omgewing te skep nie, maar dat ouers nie aanhoudend sal kerm en dreig voor hulle optree nie. Wanneer kinders dan nie gehoorsaam is na die eerste opdrag nie, moet straf gesien word as die logiese gevolge van verkeerde keuses en denke.
Hier identifiseer ons vier liefdevolle maniere van straf:
- Weerhouding van voorregte:
Kinders het baie voorregte tydens vakansies en dit werk goed om hulle van enkele voordele te ontneem wanneer hulle ongehoorsaam is, al is dit net vir ’n beperkte tyd.
- Isolasie:
Hierdie straf werk veral goed vir kleiner kinders wanneer daar baie maatjies of familie by die huis kuier. Indien dinge te woelig raak en jou kind ongehoorsaam is, is dit goed om hom of haar eenkant te roep en vir ’n ruk lank op sy eie te laat sit en dink oor hul sonde.
- Deel werkies uit:
Dit is pedagogies goed en reg om kinders te laat werk wanneer hulle ongehoorsaam was. In die vakansie het ma en pa dikwels baie om te doen in en om die huis. Dit kan dan goed wees om jou kind die motor of skottelgoed te laat was as straf.
- Bybelse tugtiging:
Baie van ons kom uit ’n generasie waar Bybelse tugtiging dikwels uit frustrasie en sonder liefde toegepas is. Pak slae kan egter effektief as straf gebruik word, indien dit binne die liefde van ’n gesin plaasvind. Dit behoort ook geïsoleerd in ’n kind se kamer plaas te vind en nie ’n kind se waardigheid aan te pas nie. Lyfstraf behoort ook as eerste, eerder as laaste uitweg beskou te word.
As dit voel of jou pogings tot dissipline totaal misluk, moet ouers nie moed verloor nie. Onthou, as jy jou oë uitvee begin die skole weer!