Deur Dr Danie Brink, uitvoerende direkteur van die Skoleondersteuningsentrum
Christene in Suid-Afrika kan met goeie rede voel dat hulle reg tot vryheid van godsdiens ernstig aangetas is deur die Konstitusionele hofuitspraak van 18 September 2019 teen lyfstraf. Bybelse tugtiging soos toegepas deur gelowige ouers in die liefdevolle omgewing van die gesin word met hierdie uitspraak as’t ware saamgevoeg met alle vorme van kindermishandeling en skeefgetrekte weergawes van pak slae en onwettig verklaar. Is die volgende stap moontlik die verbanning van Xhosa-inisiasieskole weens die jaarlikse sterftes van tientalle jong seuns? En dan moontlik die skrapping van artikels 15 en 31 van die Grondwet en die ontbinding van PANSAT?
Hoe maak ’n kultuur- of geloofsgroep nou? Is goeie dissipline en gehoorsame kinders moontlik sonder pak slae? Die antwoord is – baie beslis. Vir enige ouer is (was) daar vyf vorme van straf vir hul kinders, vir skole en ander instansies van gesag is daar vier opsies. Hierdie opsies is Bybelse tugtiging slegs in die gesin (nou onwettig), weerhouding van voorregte, isolasie, die uitdeel van werk en natuurlike gevolge. Die oorblywende vier is baie sterk instrumente om gehoorsame kinders groot te maak, beide tuis en by die skool. Voordat ons kyk na die vier soorte straf, net eers ’n paar grondbeginsels:
Eerstens, straf is gewoon “die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade”. Dit is hoe die lewe werk vir volwassenes en vir kinders. Straf vir ’n kind moet nooit venynig of liefdeloos wees nie en moet nooit gegee word deur ’n radelose ouer wat besef dat om te kerm en te kla nie gaan help nie. Straf gebeur hoofsaaklik kunsmatig in die lewe van kinders en dan meer en meer natuurlik soos wat hulle ouer word. Straf as “die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade” by volwassenes is iets wat heel natuurlik gebeur. As ’n volwassene te veel en ongesond eet raak hy oorgewig, as ’n volwassene aanhoudend laat kom by die werk of sperdatums mis gaan sy moontlik haar werk verloor, ensovoorts. Dit is dus ’n onnatuurlik situasie wanneer ons kinders wil onthef van “die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade”.
Tweedens, die samelewing is baie kindgesentreerd en vanuit hierdie kindgesentreerde posisie is straf gereeld verkeerdelik in die spervuur. Wat is kindgesentreerdheid? Kindgesentreerdheid is die negatiewe situasie in ’n gesin waar die kinders voel, beleef en daagliks prakties ervaar dat hulle die middelpunt van die gesin en die samelewing is. Alles in die kindgesentreerde gesin draai om die kinders se gemak, genot, gerief, grille en giere. Dit is nooit vir ons kinders opvoedkundig voordelig wanneer ons gesinne so ingerig word nie. Gesinne van Suid-Afrikaners is egter vandag by verstek kindgesentreerd, tensy ons dit daagliks aktief teëwerk. Ons kinders gaan nêrens as volwassenes die middelpunt van die samelewing wees nie – dis onnatuurlik om ’n gesin só in te rig dat dit so vir die kinders voel. Natuurlik behoort alle kinders te beleef dat hulle ’n wonderlike, geliefde toevoeging is wat seën bring tot ’n reeds-bestaande gesin, maar hulle behoort nooit te voel asof hulle die middelpunt daarvan is nie.
Derdens, dit is moontlik om kinders te hou by die hoë standaard van eerstekeer-gehoorsaamheid. Deur konsekwente, kreatiewe straf kan ons daarin slaag dat die kinders in ons sorg belangrike opdragte en instruksies gehoorsaam. Sulke kinders sal nie die einde van hul vryheid ken nie, want hulle raak gewoond aan ’n kalm, opvoedkundige atmosfeer waarin daar nooit gekla, gekerm, gedreig word nie en waarin instruksies nooit herhaal word nie en stemme nie verhef word nie.
So hoe bly ons stry teen die euwel van kindgesentreerdheid? Hoe kry ons kinders om eerstekeer gehoorsaam te wees? Hoe laat ons kinders die logiese gevolge van hulle verkeerde keuses en dade ervaar? Ons straf hulle liefdevol wanneer hulle volwassenes wat gesag oor hulle het se instruksies verontagsaam, wanneer hulle verkeerd kies en wanneer hulle verkeerde dinge aanvang.
Weerhou voorregte:
Die kinders van vandag het baie vryhede, baie besittings en baie voorregte. Hierdie vorm van straf is uiters maklik om toe te pas en dit verg min kreatiwiteit. “Jy mag nie (kies ’n voorreg of vryheid) vir die volgende twee weke nie” is ’n baie sterk afskrikmiddel teen verkeerde keuses en dade.
Isolasie:
Kinders is sosiale wesens en om hulle te isoleer is veral vir kleiner kinders ’n effektiewe straf. Ouers hoef byvoorbeeld nie hulpelose toeskouers van boetie-sussie gevegte te wees nie. Boeties en sussies of klasmaats kan ontmoedig word vir sulke onaanvaarbare gedrag deur vir ’n ongemaklike lang tyd geïsoleer te word.
Gee werk:
Kinders in ’n gesin (en hopelik by skole) moet elkeen ’n aantal takies verrig om gewoon “die ding te maak werk”. Hierdie vorm van straf is dus bedoel om aan kinders ekstra werk te gee om te dien as “die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade”. Daar is baie werk in ’n gesin en by ’n skool – dinge wat ongehoorsame kinders deeglik kan doen en wat hulle sommer op die koop toe deursettingsvermoë sal leer. Ouers wat hierteen skop is onnadenkend en tree onopvoedkundig op.
Natuurlike gevolge:
Soms verg die lewe van ons as volwassenes om terug te staan, diep asem te haal en toe te laat dat kinders die natuurlike gevolge van hul verkeerde keuses en dade moet ervaar. Kinders wat nie leer vir ’n toets nie, sal die natuurlike gevolg van ’n swak akademiese punt ervaar. Hierdie swak punt kan moontlik omsit in die dreigende krisis van die moontlike verlies van keuring vir ’n studierigting. Volwassenes wat gedurig kunsmatig tussenbeide tree om kinders teen die natuurlike gevolge van swak keuses te beskerm tree onopvoedkundig op. Jy sal dit nie kan volhou nie en op ’n dag gaan die lewe met jou kind begin gebeur.
Kinders het ’n reg tot goeie leiding en volwassenes het ’n plig tot goeie leiding. Hierdie hoë standaard is eerstekeer-gehoorsaamheid wat ondersteun word deur straf. Straf is “die logiese gevolge van verkeerde keuses en dade”, dis nooit venynig of liefdeloos nie, dis konsekwent en kinders kan daarop peil trek. Sulke kinders leef in ’n wêreld waar hulle nie die einde van hul vryheid ken nie – ’n wêreld wat ons hulle skuld en een wat moontlik is, selfs sonder lyfstraf.