Matrikulante het vandag hulle tweede Wiskunde-vraestel geskryf en hulle vermoë om probleme op te los is behoorlik getoets. Dit is veral die trigonometrie-afdeling wat leerders laat klippe kou het en moontlik daartoe kon lei dat hulle nie genoeg tyd gehad het nie.
Volgens Johan Koekemoer, hoof van die Vereniging vir Afrikaanse Wiskunde-onderwysers (VAW) is die vraestel baie oulik saamgestel. “Daar was genoeg maklike vrae om leerders te help en die vindingrykheid van vrae soos Vraag 6.3 het my baie beïndruk.”
Volgens ‘n paar onderwysers by Afrikaanse Hoër Seunskool in Pretoria was die vraestel uitdagende. “Dit was nie noodwendig moeilik nie, maar die leerders is uitgedaag om te dink,” sê Elmarie van Loggenberg, adjunkhoof van Afrikaanse Hoër Seunskool.
Volgens Eduard Joynt, ʼn leerder aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, was die vraestel redelik op standaard, maar dat daar nie genoeg tyd was om die vraestel te voltooi nie. “Ek kry gewoonlik klaar met my vraestelle, maar ek het nie vandag genoeg tyd gehad nie.”
LT de Jager het gedink die vraestel is billik, maar daar was probleme met die skaal van party van die sketse. “Die vraestel was gelukkig makliker as Vrydag se vraestel!”
Die VAW het saam met die onderwysers van Afrikaans Hoër Seunskool direk na die vraestel afgehandel is, begin werk aan ʼn voorbeeld-antwoord wat op www.skole.co.za/wiskunde beskikbaar is.
Foto (vlnr): Eduard Joynt en LT de Jager
Deur Marlien van der Westhuizen
Navorser: Skoleondersteuningsentrum
28 Oktober 2019