Die feit dat byna 15 000 leerders na ses maande steeds ongeplaas is, is ’n duidelike aanduiding van die klaaglike mislukking van Lesufi se aanlyn aansoekstelsel. Boonop het ’n hele aantal leerders SMS’e gekry om hulle te plaas in skole waar hulle glad nie aansoek gedoen het of wil wees nie, terwyl skole van hul keuse herhaaldelik aangedui het dat hulle plek het en die einste leerders graag sal inneem.
In die era van tegnologiese vooruitgang, was gebruik van tegnologie in die geval van die Gauteng Departement van Onderwys (GDO) se 2020-toelatings hopeloos oneffektief in vergelyking met die handstelsel waar ouers direk by skole van hul keuse aansoek kon doen.
Lesufi se uitlatings oor planne wat hy beraam om die 15 000 leerders te plaas is onsinnig en onwerkbaar. Volgens die verklaring wil die GDO skole, wat reeds groot getal aansoeke ontvang het, se kapasiteit te vergroot om ongeplaasde leerders te akkommodeer. Mobiele klaskamers sal glo na die reeds oorvol skole aangesleep word, terwyl leë township-skole volgemaak moet word deur Afrikaans as onderrig taal by te voeg.
Verder beweer Lesufi se verklaring dat leë skole saamgesmelt sal word om goeie vol Engelse skole voor te bring. Samesmelting van skole is ’n uitgebreide proses , wat nie sonder konsultasie met skoolgemeenskappe kan gebeur nie. Ouers stem met hul voete: gehalte van onderrig is steeds die deurslaggewende faktor wat bepaal of ‘n skool vol is of nie. Wat van die 27000 leerders gaan word wat nog nie hul dokumente ingedien het nie, is ‘n ope vraag.
Lesufi se ideologiese bekookte stelsel het hom finaal ingehaal. Skole moet dringend die reg gegun word om – sonder inmenging van die GDO of die gesentraliseerde aanlynstelsel – hul eie 2020 plasings te finaliseer.
Advies aan ouers wat SMS’e ontvang vir plasing by skole waar hulle nie aansoek gedoen het nie: gaan heel eerste na skool van jul keuse en vind uit of die skool vir jou kind plek het. Indien jou skool van keuse vol is, oorweeg die alternatiewe plasing – indien die gehalte en taal van onderrig jou kind se keuse is. Ontevrede ouers MOET skriftelik vertoë oor die plasing van hul kind rig aan die onderwyshoof, Edward Mosuwe, [email protected], [email protected] . Waar daar ‘n probleem met plasing is, is ‘n papierspoor noodsaaklik. Laat weet ook die SOS by [email protected] dat julle ingesluit kan word by beplande regsaksie. Ouers moet onder geen omstandighede ‘n SMS vir plasing by ‘n skool aanvaar, as dit nie hul keuse is nie.
Volgens Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Skole-ondersteuningsentrum, is die chaos met die toelatings ’n bewys van die feit dat die GDO nie oor die kundigheid beskik om ’n gesentraliseerde stelsel suksesvol te bedryf nie. Skole se reg om plasings te hanteer, moet erken word.