deur Sarina Prinsloo, Skakelbeampte: SOS
Sedert 2015 maak die SOS elke jaar ’n matriekverslag bekend met ontledende data en kommentaar op die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamenuitslae, met spesiale fokus op die resultate van Afrikaanse skole. Die verslag werp ’n kritiese blik op die eksamenuitslae, ten einde suksesse, uitdagings en bekommernisse uit te lig.
Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het die klas van 2019 geloof vir hulle uitnemende prestasies en sê dit wys op jongmense se veerkragtigheid en glo hulle is gereed om die toekoms in te bons. Die nasionale slaagsyfer het vanjaar vir die 80%-kerf oorgesteek, met ’n slaagsyfer van 81.3% wat volgens die DBO se data behaal is. Die Vrystaat het uitgeblink as die topprovinsie, met Gauteng ’n kortkop agter.
Die SOS gee erkenning aan Afrikaanse skole se sterk leerkultuur wat weereens vanjaar uitnemende prestasie moontlik gemaak het. Byna die helfte (49,9%) van leerders in Afrikaanse skole kry toegang tot graadstudie. Dit wys dat Afrikaanse skole ’n reuse-bydrae tot die ekonomiese ontwikkeling van die land lewer en dus talle toppresteerders oplewer met goeie kandidate vir verdere studies. Nege van die 20 skole in die land met die meeste onderskeidings, is Afrikaanse skole. Skoolhoofde, -besture en – beheerliggame werk uitstekend saam en verskaf dinamiese leierskap in uitdagende tye.
Groot lof kom ook kleiner skole toe, wat met beperkte hulpbronne en min ondersteuning v onderwysdepartemente steeds voortreflike uitslae lewer. Pionierskool en Prinshofskool, beide skole vir swaksiende en blinde kinders, vorm ook deel van die lys van top 20-kleinskole landwyd en verdien spesiale melding vir hulle uitsonderlike prestasies ten spyte van groot uitdagings.
Die matriekuitvalkoers van leerders in graad 12 bied ernstige stof tot nadenke. Volgens die DBO se syfers het daar in Januarie 2019 altesame 616 754 voltydse leerders ingeskryf om die Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen af te lê. Slegs 504 303 van die leerders het egter die eksamen in November geskryf. Dit beteken dat 18% van die leerders deur die loop van die jaar uit die stelsel verdwyn het en dus nie in die data gereflekteer word nie. Dit benadeel die geloofwaardigheid van die gunstige slaagsyfers. Indien die 112 451 leerders wat tussen Januarie en November “verdwyn” het, by druipelinge getel word, is die nasionale slaagsyfer vir 2019 slegs 66,5%.
Die afname in leerders wat sogenaamde welvaartskeppende vakke soos Wiskunde, Wetenskap en Rekeningkunde neem, is steeds aan die daal, terwyl getalle van Wiskundige Geletterdheid drasties toeneem. Dieselfde is waar vir Rekeningkunde. Wiskunde en Rekeningkunde loop hand-aan-hand en wanneer leerders sukkel met die een, is dit waarskynlik dat hulle ook sal sukkel met die ander. Dus (ter wille van beter punte) vermy hulle die twee vakke eerder. Die DBO se pogings om die slaagsyfer te verbeter, het wel vrug gedra, veral in die geval van Fisiese Wetenskappe waar die nasionale slaagsyfer vanaf 58.6% in 2015 drasties verbeter het tot 75.5% in 2019.
Hugo Vermeulen, hoof van Opleiding by die SOS
“Die uitslae van die matriekeksamen vorm die fondasie waarop studente hulle hoop op ‘n tersiêre kwalifikasie en sukses in die veld van hulle keuse bou. Goeie uitslae en die regte vakkeuses gee aan matrikulante ‘n goeie wegspringplek vir hul studies en ‘n voorsprong in die werkplek daarna.“
Ander bronne:
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/sos-vakgemiddeld-vir-wiskunde-is-32/
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/matriekuitslae-die-skole-vaar-die-beste/
https://maroelamedia.co.za/nuus/sa-nuus/wat-hou-die-toekoms-in-vir-die-klas-van-2032/