Blog

Die vrug van selfgerigte leer

deur Pieter Rousseau, Assesseringspesialis: SOS

Gehok! Ons is almal gehok! Ons almal wat nie noodsaaklike dienste is nie. Die meeste grappies wat die rondte doen, gaan oor mammas wat hande in die hare sit met tuisskool. Diesulke grappies is baie snaaks, want dit is baie kere waar!

Hoe kweek ek pligsbesef by my kinders sodat hulself die moed en wilskrag sal hê om op eie stoom te leer?  Ons noem dit selfgerigte leer.

Eerstens moet ons besef dat jý geen woord wat met “self” begin by iemand anders kan kweek as dit nie reeds by jóú bestaan nie. Jy kan nie op jou kinders selfbeheersing afdwing as jy die een sigaret na die ander opsteek, of elke aand skelm ’n hele blok sjokolade verorber, of ure en dae lank net sit en die een reeks na die ander binge-watch nie. Die spreekwoord sê nie verniet “woorde wek maar voorbeelde trek nie”.  Kom ons begin dus by jou? Wanneer laas het jy, op eie stoom, iets nuuts geleer?

Moenie sleg voel as jy nie kan onthou nie, want die waarheid is, jy leer self amper elke dag (hopelik) iets. Ons siening van leer is dat dit uit boeke kom en agter houttafeltjies voor ’n swartbord gebeur, of by ’n lessenaar met pen en papier net voor ’n groot eksamen! Dit is egter glad nie leer nie. Dit is hoofsaaklik memorisering en herhaling.

Leer is wanneer jy bevoegdheid met ’n vaardigheid,  of die kennis of verstaan van ’n konsep kan demonstreer. Het jy onlangs Zoom begin gebruik en reggekom? Het jy ’n nuwe Netflixrekening oopgemaak en flieks begin stroom? Het jy iets nuuts geleer van virusse en bevolkingskurwes? Dan het jy mos iets geleer en niemand het jou gedwing nie.

Alle leer is eintlik selfgerig: niemand kan jou iets leer wat jy nie self wíl leer nie. Dit wat gebeur wanneer iemand teorie aan jou voorhou of wat jy in jou korttermyn geheue prop om die eksamen te klop, is nié leer nie.

Leer gebeur wanneer jy intern die volgende besef:

  • Ek hét iets om te leer
  • Ek het tóégang tot ’n betroubare bron om vanuit te leer of ’n persoon by wie ek kan leer
  • Ek kán leer

Leer is dus nie die stimulus nie, dit is ‘n gevolg. Met ander woorde om in die denkraamwerk van leer te kom, benodig ek ’n stimuli (oorsaak). Na my mening is die drie grootste en kragtigste oorsake vir leer: visie of doel, belangstelling en krisis. Hierdie volgorde is ook die orde van hulle volhoubaarheid.

Dink aan ʼn vrug…

Lewensdoel of Visie

Lewensdoel of Visie, is die pit in die middel van volhoubare selfgerigte leer. Dit hou die langste van die vrug (sal selfs oorleef deur die donker dieptes van jou spysvertering) en het die potensiaal om in ’n vrugteboom te ontwikkel – wat later ’n hele boord kan word!

Visie of doel is die antwoord op die vraag: Wat is my skeppingsdoel? Ek is nie een of ander kosmiese ongeluk nie (selfs al dink my ouers so). Die Here het ’n doel met my lewe. Daar is niks meer vervullend en bemagtigend as om daardie doel te ontdek en daarvoor toegerus te word nie! As ouer kan ek ’n wonderlike, belangrike en vervullende rol speel in my kinders se lewe om daardie rol te ontdek. Hoe?

Eerstens moet ek my plig as ouer as deel van my eie skeppingsdoel sien en daarom met voorbeeld leef. Dan moet my kinders weet hulle is geskep met ’n doel. Sê dit gereeld vir hulle en laat hulle deel voel en waardevol voel binne die werking en skeppingsorde van die huishouding. Bid saam met hulle daaroor en erken en bemoedig die uiteenlopende gawes wat hulle Skepper vir hulle gegee het. Die grootste fout wat jy kan maak is om jou eie ideale – of self erger, die status quo – op hulle af te dwing.

Belangstelling

Belangstelling is die vleis om die pit – dit is die lekker deel van die vrug.

Belangstelling het ’n baie volhoubare invloed op leer, maar belangstelling verander mettertyd. Tog bly dit waar, as ek van iets hou, hou ek daarvan om nuwe aspekte daarvan te leer. Dink maar aan jou eie belangstellings. Neem rugby as voorbeeld: ken jy die hele nasionale span se name en vanne, hulle provinsiale spanne en wie weet wat nog? Tien-teen-een selfs ook die ander groot internasionale spanne se spelers en statistiek. Watter toets het jou voor voorberei om dit te onthou?

As jy in iets belangstel, is dit lekker om meer daarvan te leer. Dit sal vir jou kinders ook geld. Waarin stel hy/sy regtig belang? Al dink jy dit is ’n totale mors van tyd, moet jy besef dat waarde subjektief is en om jou kinders se belangstelling te identifiseer en waardeer is juis ’n geleentheid om vir hulle te wys dat hulle jóú belangstelling is. Leer jou kinders ken en probeer verstaan wat vir hulle belangrik is. Vra hulle vrae… kritiese vrae oor hulle belangstelling. Vrae wat hulle nie kan antwoord nie, maar sal bemoedig om antwoorde te gaan soek. Voer daardie belangstelling met blootstelling en positiewe leergeleenthede.

Die grootste fout wat ons hier kan maak is om ons kinders se belangstellings as minderwaardig of tydmors te klassifiseer net omdat dit nie ons belangstelling is nie.

Krisis

Krisis is die val en verrotting van die vrug… vir meeste gaan dit net in verval ontaard, maar vir die wat die geleentheid gebruik, is dit afsterwe van die slegte én opstanding van ongekende potensiaal. Die pit sterf dalk, maar is nie vernietig nie, dit ontwikkel in sy ware doel en potensiaal: honderdvoudige vrug.

Ek het onlangs my besigheid se hele stelsel ge-crash! Hoewel ek al drie jaar op die stelsel werk en baie geleer het, gedryf deur visie en belangstelling, het ek meer in 3 dae geleer as in die drie jaar… ʼn Krisis is ’n fantastiese selfgerigte-leergeleentheid – mits visie en belangstelling reeds in plek is, anders sal stres en moedeloosheid vinnig oorneem en dan is vernietiging dalk onvermydelik.

Onder die grendelstaat en die huidige wêreldkrisis het ons die ideale broeikas vir hierdie geleentheid. As ouers sterf ons tans vir ons eie selfgesentreerdheid en het ons nou meer tyd as ooit om ons kinders te leer ken en te help groei om werklik hulle lewenspotensiaal te ontdek.

Aan die begin van die jaar het ek ’n jong dame ontmoet wat graag haar Wiskunde-geletterdheid met Wiskunde wou vervang sodat sy ’n veearts kan word. Dit is baie werk en nie maklik nie! Haar pa was een van die mees aangename mense wat ek nog oor die telefoon ontmoet het, maar hy het my mooi laat verstaan dat hy glad nie Wiskunde kan doen nie! Sy dogter het een kyk na die kurrikulum gegee, in trane uitgebars en haar droom opgegee om ’n veearts te word.

Liewe ouer, selfgerigte-leer begin by jou! Jou benadering tot leer het die potensiaal om jou kinders te bou of breek. As jy nie jou eie doel in die lewe ken en uitleef nie; as jy nie jouself blootstel aan verrykende leergeleenthede nie (ek bedoel nie vir kwalifikasies en bevordering nie, maar as ’n leefstyl). As jy nie die noodsaaklikheid sien en dit dáárom vir jou kinders demonstreer nie, sal dit net Genade wees wat hulle die weg wysmaak. Genade is ’n geskenk, maar as ouer ís dit jou werk: dit ís jou doel, móét jou belangstelling wees en dit ís krities noodsaaklik vir húlle leer en sukses.