Blog

Genoeg rede waarom skole nou moet heropen

deur Jaco Kleynhans, Solidariteit

Terwyl Suid-Afrika die afgelope twee weke ʼn woordestryd tussen die nasionale onderwysdepartement, sommige provinsies, vakbonde, skoolbeheerliggame en gemeenskapsorganisasies oor die heropening van skole ervaar het, raak dit toenemend duidelik dat jong kinders ʼn uiters beperkte rol in die verspreiding van die koronavirus speel. Die vraag kan selfs gevra word of dit die korrekte ding in verskeie lande was om skole vir twee maande te sluit.

Die gevolge van skoolsluitings regoor die wêreld is baie ernstig. Aan die begin van April was meer as 40% van die wêreld se skoolgaande leerlinge weens inperkingsmaatreëls tuis. Die invloed hiervan op kinders se fisiese en emosionele gesondheid sal sekerlik nog nagevors word, maar dit is reeds duidelik dat die sluiting van skole enorme ekonomiese probleme regoor die wêreld veroorsaak het met ouers wat nie kon terugkeer werk toe terwyl veral klein kindertjies moes tuisbly nie.

In Italië is bevind dat kinders tydens die inperking ernstige gewigstoename ervaar het. In sommige Amerikaanse deelstate is dieselfde reeds gerapporteer. Regoor die wêreld beoefen kinders sport deur skole en die verlies aan hierdie fisiese oefening vir tot vyftien weke het sonder twyfel ʼn impak op die fisiese gesondheid van kinders gehad.

In Duitsland het owerhede aangedui dat hulle ook bekommerd is oor die emosionele welstand van kinders, veral weens kommer oor eksamens wat uitgestel is en die verlies aan klastyd. Inperkingsmaatreëls het kinders regoor die wêreld in moeilike maatskaplike omstandighede gedompel met toegang tot voedingskemas en maatskaplike dienste wat vir miljoene kinders skielik verlore was. Die gevolge van die verlies aan sosiale interaksie is waarskynlik ook negatief.

https://skole.co.za/emosionele-gevolge-van-inperking/

Nou waarom het soveel lande skole gesluit? Met die uitbreek van die koronapandemie het verskeie lande vinnig skole gesluit uit vrees dat die virus maklik deur skole kon versprei. Terwyl ‘n paar lande nie skole gesluit het nie, was Swede die land wat die meeste uitgestaan het omdat dié land geen inperkingsmaatreëls ingestel het nie en slegs landsburgers aangeraai het om veilige fisiese afstande te handhaaf.

Skole vir alle kinders jonger as 16 is nooit gesluit nie. Hoewel daar nie behoorlike data oor die voorkoms van die koronavirus onder skoolkinders in Swede bestaan nie, kon daar tot dusver geen gevalle gevind word waar die virus in ʼn skool versprei het nie.

Denemarke was die eerste land in Europa, uit dié lande waar skole wel gesluit is, wat hulle kleuter- en laerskole in die middel van April heropen het. Kort daarna het Oostenryk, Noorweë, Hongarye en ander Europese lande gevolg. Nie in een van hierdie lande kon enige bewyse gevind word dat die verspreiding van die virus deur die heropening van skole verhoog het nie. Inderwaarheid het die verspreiding van die virus in al hierdie lande sedert die opening van skole afgeneem.

Daar is egter ook lande waar deeglike navorsing hieroor gedoen is. In Australië het die Nasionale Sentrum vir Immuniteitsnavorsing vyftien skole in die deelstaat Nieu-Suid-Wallis vanaf Maart tot middel April vir die verspreiding van die virus bestudeer. Volgens die data wat die sentrum bekend gemaak het, het nege personeellede en nege leerlinge in die 15 skole COVID-19 onder lede gehad. Hulle was met 735 mede-leerlinge en 128 onderwysers en ander personeel in kontak. Volgens die navorsing het hulle nie ʼn enkele persoon met die virus aangesteek nie. Een laerskoolleerling en een hoërskoolleerling het wel tydens die studie die virus opgedoen, maar dit kon nie bepaal word om hulle die virus binne of buite die skool opgedoen het nie.

Deeglike navorsing hieroor is ook in Italië, Ysland en China gedoen waar die datastelle keer op keer bewys dat min kinders die koronavirus opdoen, dié wat dit opdoen hoofsaaklik ligte simptome toon en die oordrag van die virus vanaf ʼn kind na enige ander persoon (kind of volwassene) byna nooit plaasvind nie.

Die beste navorsing tot dusver is egter hierdie week in Nederlands Tijdschrift Voor Geneeskunde gepubliseer. ʼn Ondersoek wat deur die Nederlandse Nasionale Instituut vir Gesondheid (RIVM) gedoen is, het aan die lig gebring dat kinders jonger as 12 jaar bykans geen rol speel in die oordrag van die koronavirus nie. Die resultate wat in die mediese tydskrif gepubliseer is, het die siekte in 54 gesinne met 227 kinders gemonitor. Terwyl enkele kinders wel besmet is, het daar bykans geen oordrag vanaf ʼn kind na ʼn ander persoon, hetsy ʼn kind of volwassene plaas gevind nie. Volgens die studie word die virus hoofsaaklik tussen volwassenes oorgedra.

Die probleem met skole wat gesluit word, is dat ouers met kleiner kinders dan moeilik werk toe kan gaan. Inperkingsmaatreëls regoor die wêreld wat mense ook verhoed het om hulle kinders deur ʼn kinderoppasser te laat versorg het die probleem vererger. Terwyl groter kinders alleen by die huis gelaat kan word is dit nie moontlik vir jong kinders nie. Bykans alle navorsing wat tot dusver gedoen is, bewys dat dit juis die jongste kinders is wat geen risiko bied vir die verspreiding van die virus nie.

Die grootste ekonomiese skade is reeds aangerig en baie lande gaan sekerlik nog wens dat hulle nie skole vir so lank gesluit het nie. Dit raak egter nou tyd dat die regte ding gedoen moet word en dat alle skole en veral kleuter- en laerskole, onmiddellik heropen moet word sodat ouers na hulle werk kan terugkeer en kinders weer al die fisiese, emosionele en ander voordele van skoolgaan kan ervaar.

Die paniek wat in sommige gemeenskappe heers en ouers wat bekommerd oor hulle kinders se welstand is, is ʼn ernstige risiko. Terwyl almal verantwoordelik moet optree, weerlose persone soos individue met hartkwale, diabetes en ander siektes beskerm moet word en elkeen van ons steeds moet seker maak dat ons die verspreiding van die virus beperk, moet ons begin rustig raak en besef dat die voordele wat kinders by skole kry groter is as die byna weglaatbare risiko wat die koronavirus vir kleiner kinders inhou.