Blog

Hoe om hoërskool lekker te maak tydens ’n pandemie

Charlotte Fourie, Wolkskooldosent: Inligtingtegnologie

Vir weke lank het matrikulante by die huis gewag vir die Groot Dag – die dag waarop hulle kan terugkeer skool toe. Om op hierdie punte te kom was omtrent ’n emosionele wipplank: ons gaan iewers in April; ons gaan nie; ons gaan weer amper; ons gaan nie meer môre nie; ons gaan oor ’n week. Sjoe, uiteindelik, terug skool toe.

Wag, skool is nie meer skool nie!

 Kan ons asseblief eerder weer teruggaan na aanlyn-skool?

Skool is nou ʼn plek leerders wat tjoepstil agter hul maskers skuil, nie eers lus om te gesels nie, want niemand kan elk geval hoor wat hulle agter die masker vanaf 1,5-meter vêr sê nie. Skool is nou wanneer niemand lag as onderwysers hulself in die gesig slaan nie want almal weet dis hul gesigsbedekking wat hulle disoriënteer.  Skool is nou bloot net ’n yskoue gebou waar leer moet plaasvind sodat die jaar nie gemors word nie.

Nee, dit kan nie so aangaan nie! Dit is ons as opvoeders, ouers en lede van die beheerliggaam se werk – nee, plig! – om skool vir die leerders nou lekker te maak. Nog nooit was dit so belangrik gewees dat leerders wíl skoolgaan nie.

Gebruik Sosiale Media

Aangesien fisiese aanraking en sosiale interaksie soos ons dit ken, nie meer moontlik is nie, moet ons kreatief wees en die leerders op ’n ander manier sosiaal betrokke hou en van ’n slegte saak, ’n snaakse een maak.

Skep ’n #hutsmerk vir jou skool wat leerders en onderwysers (ja, jy ook juffrou Wiskunde wat amper aftree – dit is spesifiek vir jou wat die leerders wil sien) op sosiale media kan gebruik om hulle ervarings – spesifiek snaakse ervarings – te deel. Hulle kan foto’s by die skool neem oor hulle nuwe “normaal” en dit deel met die hutsmerk. So kan leerders die slegte situasie omskep in ’n snaakse plasing wat hulle vriende kan deel! Dit sal ook interessante insigte gee oor die ervaringe van leerders en opvoeders in staat stel om hulle met die nodige empatie te benader.

Gaan voort met “buitemuurse aktiwiteite”

Ja, ek weet jy kan nie vanmiddag jou rugbyspan bymekaarkry vir ’n oefening nie, maar Meneer, nou is die geleentheid om kreatief te wees. Skep ’n oefenprogram vir jou sportspan en verwag van die spanlede om video’s te neem van hoe hulle die oefeninge voltooi en dit dan met die span te deel. Hou ’n “virtuele classic clash” met jou buurskool se span via Zoom en laat die leerders toe om te kuier en mekaar te leer ken. Skep ’n aanlyn “watch party” van die Rugby Wêreldbeker-finale en bespreek die hoogte- en laagtepunte daarvan. Soek bietjie rond op die WWW vir kreatiewe programmatuur wat jou aktiwiteit gaan moontlik maak – jy sal verbaas wees wat daar reeds bestaan! Onthou, vir baie leerders was die enigste motivering om skool toe te gaan, daardie posisie in die eerstespan …

Moenie toelaat dat akademie jou laat vergeet van jou pligte as afrigter, mentor en skaakorganiseerder nie! Saai daardie aanlyn skaakwedstryd regstreeks uit sodat almal in die skool iets het om voor te “skree”!

Pouses, pouses, pouses

Al daardie dinge wat gesoute onderwysers die horries gegee het voordat die pandemie ons getref het, moet nou in wees. Speel musiek in die binneplaas waar die leerders pouses sit; laat hulle toe om koffie te maak en in klasse te drink; wens elke leerder persoonlik geluk met sy verjaarsdag in ’n YouTube-video; hou tema-dae en moedig leerders aan om snaakse hoede en kouse aan te trek. Meneer die Hoof, as dit moet, maak onbeplande afkondigings oor die interkom en deel sjokolades uit!

Om hierdie ’n sukses te maak, gaan van onderwysers vereis om ekstra oulik te wees – dans dus saam as die nuutste hoppende treffer oor die skool se luidsprekers basuin!

LAN-vasvra en dansaande

Watter tiener is nie deesdae ’n gamer nie? Span jou E-sport ouens in en reël ’n aanlyn-toernooi vir alle speletjies wat lekker is, selfs Sims vir die dames wat nog nooit eers van Fortnite gehoor het nie. Hou vasvra-aande deur Kahoot.com en Microsoft Teams en kondig elke week die wenner op die skool se sosiale media aan. Moes julle die jaarlikse dans, ʼn hoogtepunt van die jaar, afstel? Reël ’n virtuele dans en skep ’n geleentheid vir die leerders om hulle mooiste moois aan te trek en vir jou af te neem en deel dit dan wyd en syd – soos jy sou doen indien die geleentheid kon voortgaan.

Maak geskiedenis

Skool was altyd soveel meer as net akademie, maar nou is akademiese aktiwiteite al wat oor is.

Wees kreatief. Wees positief. Wees snaaks.

Moenie elke oggend se opening begin met “daar is net soveel tyd oor en ons weet nie wanneer ons dalk weer toegemaak word nie”.

Maak bietjie die kreatiwiteit in jou skool se leiers wakker deur van hulle te verwag om met nuwe Covid-vriendelike tradisies en aktiwiteite na vore te kom. Laat jou hoofleiers toe om steeds leiers te wees met ’n weeklikse aanlyn joernaal op die skool se sosialemediaplatforms en webtuiste. Verwag van hulle om meer te doen as net om die handboek in ’n baie kort tydjie te leer.

En wanneer hulle dan na vore kom met oulike nuwe idees, gee vir hulle die vryheid om die idees uit te voer terwyl jy jou snaaksste, malste hoed opsit en op die nuutste, hoppende treffer in die binneplaas dans.

Vir die eerste keer in jou loopbaan as onnie, maak ’n lekker klaskamer en ’n lekker skool jou doelwit, eerder as net akademie.