Blog

Kleuterskole weet steeds nie wat hul lot is nie

Die Minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, het op 29 Junie 2020 ‘n gewysigde direktiewe oor die heropening van skole gepubliseer, waarin die verwysing van “Pre-Grade R” uit die definisie geskrap word.


Die implikasies hiervan is dat slegs graad R-klasse op 6 Julie vir kinders in skole en VKO-sentrums, hetsy openbaar of onafhanklik, mag heropen. Die Direktief maak nie meer voorsiening vir die hervatting van voorgraadse klasse (voor-graad R) nie en ‘n VKO-sentrum mag dus nie op 6 Julie vir die jonger grade open nie. Die dringende hofaansoek deur die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) en Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike werkers om regsekerheid te verkry oor die heropening van privaat kleuterskole en dagsorgsentrums, is ook verder vertraag. Die Minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het Dinsdagmiddag omstreeks 17h20 ‘n kennisgewing afgelewer aangaande die saak wat Woensdag aangehoor sou word.

Die minister van Maatskaplike Ontwikkeling, Lindiwe Zulu, het Donderdagoggend op televisie gesê die voorlopige datum vir heropening van Kleuterskole is 26 Julie 2020 sodat daar verdere voorbereidings getref kan word. Geen amptelike direktiewe is egter gepubliseer nie.


Regter Fabricius het die Minister tot Woensdagmiddag kans gegee om repliek te lewer. Byna 900 000 kinders word landwyd hierdeur geraak en die toekoms van VKO-sentrums en dié van hulle personeel is in die weegskaal. Talle skole het reeds al die nodige maatreëls in plek om kinders veilig terug te verwelkom.