Blog

SA onderwysers ís gereed vir die toekoms

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het vanmiddag hul nuutste navorsingsverslag oor die stand van leer in skole bekend gemaak. Die verslag fokus op skole se gebruik van vernuwende onderwysmetodes om leerders voor te berei vir die eise van ’n tegnologie-ryke wêreld waar verandering toenemend versnel.

Verskeie rolspelers (onderwysers, bestuur en beheerliggaamlede) aan 463 Afrikaanse- en parallelmedium skole landwyd, het aan die ondersoek deelgeneem.

Die navorsing het bevind dat onderwysers tot ‘n groot mate dieper leer en kritiese denke by leerders suksesvol ontwikkel en dat waardes goed vasgelê word.

Die grootste leemte in skole blyk tans die ontwikkeling van leerderverantwoordelikheid teenoor leer te wees. Die manier waarop die meeste assessering tans gedoen word, is een van die grootste beperkende faktore vir selfgerigte leer en leerderverantwoordelikheid. Tegnologie en afstandleer kan egter nuttig ingespan word om selfverantwoordelikheid te ontwikkel. Handige lesse, waarop skole kan voortbou, is die afgelope dekade en veral tydens die Covid-19 krisis geleer.

André Badenhorst, innovasie-spesialis en navorser aan die SOS, het beklemtoon dat die sukses van vernuwende onderwys meer van pedagogie as van tegnologie afhang.  Onderwysers aan skole wat deelgeneem het aan die studie, se pedagogiese onderbou is uitstekend. Die verslag bring ervaring van skole in lyn met vernuwende onderrigleer modelle en gesonde pedagogiese beginsels.

‘n Opsomming van die navorsing oor vernuwende onderwys kan by https://skole.co.za/toekomsverslag/ afgelaai word. Die vraelys dien as ‘n nuttige strategiedokument vir skole met die oog op die innoverende gebruik van tegnologie en vernuwing van onderrigpraktyke.

Skole kan steeds die vraelys  voltooi by http://bit.ly/dieperleer en sal die resultate per e-pos ontvang.