deur Riaan Jacobs: Nasionale koördineerder van Afriforum Jeug
Met die koronakrisis wat stadig maar seker oorwaai bied Afriforum Jeug weer ‘n gewilde jeugkamp in Desember aan.

Volgens Riaan Jacobs is die kamp elke jaar ‘n ongelooflike ervaring. Kinders vanaf graad 8-12 kry hierdie jaar die geleentheid vir die avontuur van hul lewe. “Ons swem gereeld in riviermond en in die see (ja ons spring selfs van die hawemuur af in die see!).

Die gewildste aktiwiteit is natuurlik die heerlike avontuurlike stap langs die see waar ons groot vuurmaak, lekker kuier, braai en sommer net daar op die strand slaap onder die helder naghemel met die klanke van bruisende branders.

Dan is daar ‘n berguitstappie vir die ongelooflikste uitsigte en die saam swaarkry!

Maak lewenslange vriende by die talle strandspeletjies, kampvuurgesprekke. Die kamp het ‘n Christelike inslag en in die natuurskoon raak ons ook stil in die teenwoordigheid van die Here.

Daarby word daar leierskapvaardighede gekweek deur fantastiese mense. Ons doen spanbou, basiese debatsopleiding, kommunikasievaardighede en groepwerk.

Skryf vandag nog in om jou plek te verseker. Die spotgoedkoop R 1 100 per leerder sluit akkommodasie, alle aktiwiteite en drie etes per dag in.
Voltooi die inskrywingsvorm en e-pos dit saam met ‘n bewys van betaling aan Riaan Jacobs by [email protected].