SOS-mediaverklaring:
“Skole spandeer eerder geld op die modernisering en uitbreiding van fisiese en sportfasiliteite, terwyl onderrig- en leertegnologie agterbly.” Dit was die mening van prof. Gerrit Stols, hoof van Onderrig Innovering by die Universiteit van Pretoria (UP) tydens die eerste aanlyn Hoofdewebinaar van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). Hy het beklemtoon dat ʼn goeie leerbestuurstelsel (LMS) as basiese infrastruktuur gesien moet word en dat dit nie net ʼn Covid-19 luukse is nie.
Stols sê dat tegnologie as katalisator vir leer gebruik moet word: “Tegnologie vervang nie die onderwyser nie. Dit maak goeie onderwysers net beter.” Onderwysers wat fokus op begripontwikkeling en hulle passie aan hul leerders oordra, is die sleutel tot goeie onderwys – dit is duidelik uit die prestasie wat lande soos Singapoer jaar-na-jaar behaal in internasionale studies. ‘n Swak onderwyser wat net op memorisering fokus, kan maklik deur ‘n aanlyn kursus vervang word.
Prof. Surette van Staden, die direkteur vir die Sentrum vir Evaluering en Assessering by UP het by dieselfde geleentheid verduidelik dat daar dieper gekyk moet word na uitslae van internasionale studies. Sy sê die TIMSS en PIRLS verslae is baie demoraliserend vir onderwysers as die uitslae afgewater word na gevolgtrekkings soos dat leerders nie kan lees of Wiskunde doen nie. “Ons mis ʼn groot geleentheid as ons nie hierdie studies se inligting gebruik om leerders se vermoëns te verhoog nie.”
Die uitslae van die TIMSS-verslag wat op 8 Desember 2020 bekend gemaak is, wys dat daar oor die afgelope 25 jaar min verbetering in Suid-Afrikaanse leerders se Wiskunde en Wetenskapkennis was. Die druk op skole is verhoog met die Covid-19 inperking en het ouers se medeverantwoordelikheid vir hul kinders se onderrig beklemtoon. Terselfdertyd het baie leerders ook suksesvol selfgerigte leer toegepas met die ondersteuning van skole en hul veerkragtigheid om aanlyn leeroplossings te implementeer.
Van Staden het ook gesê dat die Suid-Afrikaanse kurrikulum (KABV) hopeloos te veel fokus op kennisoordrag, terwyl internasionale kurrikulums en dus studies soos TIMSS, meer fokus op toepassing- en redenasievermoë. Dit is hier waar onderrig- en leermodelle in Suid-Afrika drasties aangepas moet word.
Die visie van die Opleidingsafdeling van die SOS is om die beste gehalte opleiding en hulpbronne vir Afrikaanse onderwysers in Suid-Afrika te bied en sodoende Afrikaanse onderrig van wêreldgehalte te behou en te verseker. Sluit vandag nog aan: onderwysers.co.za.