Deur Mariesa Candiotes – Wolkskool-dosent
Vroegoggend al daar, laataand nog nie klaar nie.
Moeg…
Ander se kinders jou bekommernis, waar jou eie maar net moet verstaan.
‘n Warboel van Zoom, Teams, platforms, papierwerk en boksies.
Moeg…
Dae sonder end, moeë rooipenne, ‘n toring van boeke wat op jou wag.
Jy spreek woorde van hoop, waaroor jy self wonder.
Moed…
Kinders word jou kinders, ‘n edele beroep.
Ouers met vrae, jou klas is nie meer jou eie nie. Jy werk en werk en werk, die dae verweef in een.
Moed…
Jy preek, jy luister, jou skoene is moeg gestaan. Vergaderings van lange duur om oplossings te vind.
Alles vir iemand anders se kind.
Moed…
Ek salueer jou – die onderwyser van onderrig. Jy is die rede, die motivering en verantwoordelik vir soveel se sukses. Verskeie rolle word deur jou vermag.
Jy plak, teken, merk, sny – herhaal. Net om môre se dag weer die skryfbehoeftes uit te haal.
Motiveer…
Want die Onderwys het JOU gekies. Dus is dit nou tyd om te rus. Net te ‘wees’. ‘n Welverdiende ruskans wat op jou wag. Ons kinders het jou nodig, meer as wat jy verstaan. Toekoms leiers in jou hande – se bestaan.
Moed…
Ek sê vir jou, die onderwyser – Dankie! Geniet die rus, lees die boek, kyk die storie, drink warm koffie en herlaai.