Blog

Leer sing-sing saam met die FAK

Sowat 180 kleuterskoolonderwysers is by ʼn onlangse werkwinkel opgelei om deur middel van musiek en ’n sensoriese tuin, te leer hoe om speel-speel hul leerders fyn motoriese vaardighede en kennis te help ontwikkel.

Die Federasie van Afrikaanse Kultuurverenigings (FAK), in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), het dié Sing-Slim-lesplanne bekendgestel wat 13 liedjies uit die nuwe FAK-Sangbundel II insluit. Die lesplanne is geskik vir Graad R tot 3.

Die lesbeplanning is uitgewerk om in drie fases aangebied te word: Bekendstelling; Vrye beweging en gekontroleerde beweging; en Luister en leer en soms slagorkes. Op hierdie manier leer kinders om liedjies slim te sing.

Dawid Oelofse, self lank ʼn skoolhoof, het met dié konsep vorendag gekom en Dr. Ona Janse van Rensburg genader om die lesplanontwikkeling aan te pak. Liedjies word ingespan om aan kinders konsepte soos hoog en laag, vinnig en stadig te leer, asook emosies in musiek en die herkenning van musiekinstrumente.

Die begeleiding en sang van die liedjies wat by die lesplanne ingesluit is (lied 109 tot 202), is in Potchefstroom deur Pieter de Bruin en Kobus Venter opgeneem. Die sanggedeeltes is deur Venter en sy vrou, Anelle, behartig.

Benewens die FAK-liedjies is ’n verskeidenheid musiek, rympies en stories ingesluit.

Die formaat van die lesplanne is ook só dat onderwysers dit maklik kan aanpas om in te skakel by hul klas se spesifieke behoeftes.

Lesplanne en liedjies is hier beskikbaar: http://www.fak.org.za/faksingslim-2/

Teken in op ons nuusbrief