Blog

Boelies op sosiale media – Sewe wenke vir ouers en onderwysers

‘n Kind wil nie altyd erken dat hy geboelie word op sosiale media nie. Dit vat vreeslik baie van ‘n kind om vir iemand te vertel dat hy/sy geboelie word, veral wanneer kinders ouer raak. Daarom moet ouers en onderwysers konstant op hul hoede wees en uitkyk vir die tekens dat ‘n kind geboelie word. Teruggetrokkenheid, bang om skool toe te gaan, depressiewe gedrag en slegte eetgewoontes is alles tekens dat jou kind dalk ‘n slagoffer van kuberboelies is.

Wanneer dit wel duidelik word dat ’n kind geboelie word, is daar bepaalde maniere om dit te hanteer:

As jy ‘n onderwyser is:

  1. Behandel die slagoffer met respek, moet hom nie afkraak deur goed te sê soos: “Ek sou dit ook doen as ek die boelie was,” nie.
  2. Wees profesioneel hieroor en moet nie vir die slagoffer lag nie. Boeliery is ‘n ernstige saak en moet ook so hanteer word.
  3. Maak dit baie duidelik aan die slagoffer dat boelies nie welkom is nie en dat die saak so spoedig moontlik afgehandel sal word.
  4. Laat die slagoffer veilig voel.
  5. Wees diskreet hieroor en volg die regte kanaal om die insident te rapporteer.
  6. Neem die boelie ook in ag, gewoonlik het die kinders wat ander boelie ‘n sielkundige probleem en die geboeliery is eintlik ‘n oproep om hulp.
  7. Maak seker wanneer die boelie gekonfronteer word, dit in privaatheid geskied en dat die boelie verstaan dit wat hy gedoen het, is verkeerd.

As jy ‘n ouer is:

  1. Neem jou kind ernstig op, moet nooit dink dat hulle ‘n grap maak of jok nie.
  2. Help jou kind, moet nooit vir hulle sê hulle moet dit self uitsorteer nie. Dit was baie braaf om na jou toe te kom in die eerste plek.
  3. Luister na jou kind sonder om kwaad of ontsteld te raak.
  4. Maak jou kind deel van die besluit wat jy gaan neem nadat jou kind die situasie met jou bespreek het. Vra ‘n vraag soos: “Hoe wil jy hê moet ek dit hanteer?”
  5. Verseker jou kind dat dit nie sy skuld is nie. Baie keer voel kinders dat hulle die oorsaak is dat hulle geboelie word.
  6. Moet nie net op die foon klim en die boelie of sy ouers bel nie, soms maak mens die situasie baie erger.
  7. Baie keer is die beste manier net om die boelie te ignorer. Só vermy mens konflik en die boelie sien dat hy geen reaksie uit sy slagoffer kry nie en hou dan gewoonlik op.

Sou die boeliery nie ophou nie of vererger, kan jy ‘n beskermingsbevel teen die boelie kry by jou naaste landroshof. Die beskermingsbevel word uitgereik onder die Wet op Beskerming teen Teistering wat in 2013 in werking getreë het.

Maak ook seker dat jy Childline se nommer het en dat jou kind ook weet wat die nommer is – 080 005 5555.

Carla de Beer

The Digital Law Co

*Emma Sadleir, hoof van The Digital Law Co, het gehelp om die boek “Selfies, Seksklets en Slimfone” te skryf. Hierdie boek raak verskeie kwessies met betrekking tot die gevare van sosiale media aan en tieners en hul ouers kan dit gerus aanskaf.