Blog

Gaan my kind makliker leer en beter presteer op skool as ek vir hom lees in sy vormingsjare?

Susan Botha van PretoriaFM gesels met Jana Terblanche,

‘n Afrikaans onderwysspesialis, van die Skoleondersteuningsentrum.

Moet my kind voor skool kan lees?

Terwyl jy dit vra hoor ek sommer my Grondslagfasekollega se stem in die agtergrond wat smeek dat ouers asb nie hul kinders moet leer lees voor skool nie, want dit is ‘n gespesialiseerde onderrigprogram wat verkieslik deur bekwame onderwysers behartig moet word. Dit beteken nie dat as jou kind gretig is om self te lees en amper op sy eie klanke baasraak, dat jy hom moet verhoed om dit te doen nie. So ‘n kind is dikwels leesryp maar selfs dan moet jy hom nog nie blootstel aan formele lees nie.  Brei liewers sy woordeskat uit en lees steeds vir hom boeke voor.  Leer jou kind dat ons in ‘n woordryke wêreld leef – plak die woorde yskas, stoel , kas, ensovoorts op dié voorwerpe  en wys vir hulle dat ‘n mens van links na regs lees; laat hulle luister met watter letter die woord begin; klap die lettergrepe saam met hulle. Met dié metodes leer jou kind pre-leesvaardighede aan.

Watter rol speel ouers in hulle kinders se leesontwikkeling?

Die grootste en belangrikste rol! Kinders voel geborge by hul ouers en voorlees bou ‘n emosionele band tussen ouer en kind. Moedertaalonderrig alleen is nie die antwoord nie – hoe vroeër ouers aan hul kinders begin voorlees, hoe makliker sal hulself eendag lees en leer. Vir ‘n moeë, werkende ma is dit seker die maklikste om ná werk ‘n kind voor die TV neer te plak terwyl sy kos maak, maar om TV te kyk is ‘n passiewe proses en nié dieselfde as voorlees nie. Die kind sal nie sommer die storie stop om vrae te vra nie. Die stories is ook kort en aksiebelaai en moedig nie die kind aan om sy verbeelding te gebruik of om sy aandagspan te rek nie. Hoewel gesels ook baie belangrik is, praat ons anders as wat ons lees. Wanneer jy voorlees, lees jy geskrewe taal en hoor jou kind geskrewe taal. Hy hoor dus ander sinstipes as wat hy hoor as julle gesels. Hy hoor langer sinne met invoegsels, hoor jou intonasie en frasering en dit alles maak lees met begrip eendag vir homself makliker.

Hoe kweek ek ‘n liefde vir lees by my kinders van babatyd af?

Johan van Lill het eenkeer in sy program Groeipyne gesê dat luister die suiwerste vorm van leer is, hoe vroeër die kind dus na voorlees luister, hoe vroëer begin hy leer.  Begrip is nog nie nodig nie, net die feit dat hulle die warmte van jou stem en die ritme van taal hoor, gee hul reeds ‘n voorsprong bo kinders wat nie dié ervaring geniet nie. Sorg dat daar boeke in jou huis is of sluit andersins by ‘n biblioteek aan en neem saam met hulle boeke uit. Gesels in vol sinne en verwag vol sinne terug – dit leer hulle om hul gedagtes agtermekaar te kry en te formuleer.

Van vyf tot agt jaar kan jy al op ‘n meer interaktiewe manier voorlees deur hulle te laat raai wat gaan gebeur voordat jy omblaai.  Dit leer hulle om te voorspel – ‘n vaardigheid wat onder andere belangrik is vir syfervaardigheid en die beantwoording van begripstoetse.

Belangrikste is om self ‘n voorbeeld te stel, maak lees ‘n daaglikse aktiwiteit soos eet, tandeborsel en speel.

Hoekom is lees so belangrik?

Navorsing het al oor en oor bewys dat kinders wat sukkel om te lees, sukkel om te leer. Die belangrikste doelwit van die skooljare is om te leer lees want lees dien as ‘n bousteen waarop alle ander leer plaasvind. Indien ‘n kind dus nie teen gr. 4 kan lees en skryf nie, het hy ‘n agterstand in leer want van gr.1-3 leer ‘n kind lees en van gr. 4 af lees ‘n kind om te leer.

Talle verbandstudies dui aan dat prestasie in Wiskunde en prestasie in lees aan mekaar verwant is en dat sommige kognitiewe komponente soos geheue, ouditiewe en visuele persepsie en fonologiese vaardighede gedeel word. ‘n Leerder se taalbegrip van terme soos kleiner/groter of meer/minder vorm ook die grondslag vir wiskundige vaardighede. Indien ‘n leerder nie kan lees nie, sal hy swakker vaar op skool omdat die meeste assesserings in die vorm van toetse plaasvind waar ‘n leerder ‘n aantal vrae kry waarop hy gepas moet reageer. Hy moet dus die vraag lees (dekodeer) en reageer deur die antwoord neer te skryf (enkodeer). Lees-en spelvermoë is dus noodsaaklik vir prestasie in alle akademiese vakke.

Op skool help lees om jou algemene kennis en ook jou kommunikasievermoë te verbeter omdat jy dan iets het om te deel. Daarom vergroot dit ook jou kans om sinvolle sosiale verhoudinge met jou maats en ander te bou, ‘n bitter belangrike aspek vir ‘n tiener!

Watter tipe boeke/stories kan ek vir my kind voorlees?

Ek het kers opgesteek by Henk Viljoen van NB-uitgewers en uitgevind dat daar ‘n magdom boeke beskikbaar is, te veel om van te kies.  Gaan kyk gerus op hul webblad, maar ek noem sommer net een of twee:

  • In die ouderdomskategorie 0-6 jaar kan ouers vir hul kinders lees uit Saadjie en spikkel  of die Tjoppie-reeks oor ‘n nuuskierige klein hondjie wat allerande avonture beleef.
  • Vir 6 – 9 jariges is daar ondere andere die Storieman-reeks en Speurder Kwaaikofski.
  • Die 9-12 jariges sal van Fanie Viljoen se Geraamte in die klas hou asook van Jaco Jacobs se Pretpark.

Lees is soos ‘n dieet, jy kan nooit te vroeg daarmee begin nie – moenie wag tot Maandag nie!