Blog

Só lyk die lesse van 1976 vir 2021

deur Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging

Dit is vandeesweek die herdenking van die Soweto-jeugopstande van 1976. Die les van hierdie stuk geskiedenis is dat ʼn taal nie op mense afgedwing moet word nie. Almal moet vry wees om die taal van hulle keuse in onderwys te gebruik. Maar omdat die 1976-opstand op die oog af teen Afrikaans as onderrigtaal was, kan verwag word dat die gebeure steeds teen Afrikaans as onderrigtaal misbruik gaan word.

In 1976 was die swart jeug se kreet “Óns wil nie in Afrikaans leer nie”. Een en veertig jaar later is die radikale se kreet, “Júlle mag nie in Afrikaans leer nie”. Dis “óns wíl nie” teenoor “júlle mág nie”. Hierdie twee krete is wêrelde van mekaar verwyder. Die een was op die oog af ʼn stryd vir demokrasie, die ander ʼn stryd om oorheersing. Die 1976-geslag het in die naam van hulle eie vryheid geveg. Die 2017-geslag se radikales en Afrikaanse slappes veg teen Afrikaanse leerders en studente se vryheid om hulle taal en kultuur uit te leef. Dit blyk dat radikale soos mnr. Lesufi en min. Blade Nzimande die stryd teen Afrikaans bloot voortsit met staatsmag. Maar die les van 1976 vir 2017  is dat studente se reg op moedertaalonderrig gerespekteer moet word, anders lei dit tot swak onderwys, vervreemding en opstand.

Politieke mag

Die 1976-kreet was die voorspel van “Liberation before Education”. Dit het ʼn groot rol gespeel om die onderwys en indiensneembaarheid van ʼn hele geslag jong swartmense te ondermyn. Die gevolge hiervan is vandag nog te sien in die vorm van werkloosheid, ongelykheid en die voortgesette struggle-kultuur in skole. Vandag is die kreet “Transformation before Education”, waardeur radikale faksies en slap universiteitsbesture die volgende geslag wit en swart jongmense se toekoms ondergrawe. Daardeur kan nog ʼn geslag jong swartmense die boot laat sink waarin hulle self moet vaar.

Maar as ons kyk na wat die ANC se “1976-geslag” as vandag se regeerders intussen met die land gemaak het, blyk dit terugskouend dat 1976 meer oor mag as taal gegaan het. Nie oor politieke regte nie, maar oor politieke mag en ekonomiese voordele. Soos Breyten Breytenbach in sy kommentaar op dr. Van Zyl Slabbert gesê het: “Slabbert did not realise that the ANC is neither about building a new nation nor about reconstruction and development, but about divvying up the spoils of victory.”  ʼn ANC-woordvoerder Smuts Ngonyama het dit reguit gestel: “Ek het nie gestruggle om arm te wees nie.”

ANC-beheer

Maar die feit is dat daar ʼn nuwe stryd teen Afrikaans, Afrikaanse skole en ʼn Afrikaanse leefwyse op die histories Afrikaanse skole en kampusse is. Soms word die stryd openlik teen Afrikaans en sy sprekers gevoer, soos mnr. Lesufi teen Afrikaanse skole en sekere universiteitsbesture. Meermale is die rassetransformasie van die universiteit die doel en is perke op die toegang vir Afrikaanse studente en ʼn stadige dood vir Afrikaans die voorspelbare gevolg. Die volgende fase is “dekolonisasie”, wat in die praktyk die hernude kolonisasie en Afrikanisering van universiteite is.

Dis belangrik om te besef dat die radikale se doel nie beperk is tot die afskaffing van Afrikaans nie, maar dat hulle werklike doel is om beheer oor skole en universiteite te kry. Die rede hiervoor is dat skole en universiteite van die min ruimtes in die samelewing is wat nog nie volledig deur die ANC beheer word nie. Beheer is vir hulle belangriker as die sukses van hierdie instellings. Die waarheid van hierdie stelling kan daarin gesien word dat daar ʼn regstreekse verband is tussen die mate van ANC-beheer en die prestasie van instellings. Die Wes-Kaap is die beste voorbeeld daarvan dat provinsies, dorpe én skole beter presteer as hulle nie onder ANC-beheer staan nie. Dieselfde kan van die wêreldgehalte Afrikaanse skole gesê word. Aan die ander kant is die verval van groot dele van die staat die beste bewys daarvan dat ANC-beheer oor instellings rampspoedig kan wees. Die Afrikaanse geveg is dus nie net vir moedertaalonderwys nie, maar vir die vryheid van skole en universiteite om wêreldgehalte prestasies te lewer. Maar die ANC se hardnekkige pogings om sy magsgreep oor alle skole en universiteite te vestig, wys duidelik dat die stryd nie gaan om toegang vir swart kinders nie, maar in werklikheid teen Afrikaners as kultuurgemeenskap is.

Vryheid deur moedertaal

Die vraag is wat Afrikaanse jongmense se reaksie hierop moet wees. Die regte strategie is een van “Vryheid deur Afrikaans”, oftewel, “Vryheid deur Afrikaanse Onderwys en Opleiding”. Die rede is dat goeie onderwys en opleiding vandag éérs die sleutel tot sukses is. Dit maak jong Afrikaners vryer van drakoniese rassewette en is die oorsaak dat werkloosheid onder jong wittes steeds ʼn breukdeel van die werkloosheid onder swart jongmense is.

Met goeie onderwys en opleiding kan en gaan Afrikaanse jongmense altyd vir hulself kan sorg – deur werk te kry of deur selfindiensneming – soos ʼn klein besigheid. Hulle moet net moed hou, want ʼn ekonomie werk uiteindelik nie op grond van ras nie, maar van kennis, vaardighede en harde werk. Daarom is die Solidariteit Beweging besig met omvattende projekte om die volhoubaarheid van Afrikaanse onderwys, -beroepspleiding en -universiteitswese te verseker. Nuwe tegnologie is ‘n groot versneller hiervoor.

Maar ons jongmense moet besef dat Afrikaanse onderwys en opleiding nie verniet was nie. Al het jy dit verniet gekry, het jou ouers en grootouers dit teen groot koste en opofferings opgebou. Dis jou voorreg om dit nou te bewaar en weer vir die volgende geslag aan te gee, sodat hulle dieselfde kans op sukses kan hê as wat jy gehad het. Hierdie keer is die stryd nie soos in 1976 teen Afrikaans en ʼn onversetlike regering wat apartheid afdwing nie. Die stryd in 2017 is teen die afdwing van Engels en die uitsluiting van Afrikaanse studente deur ʼn onversetlike regering se omgekeerde apartheid.

Teken in op ons nuusbrief