Mariesa Candiotes
Wolkskooldosent
Riglyne vir dissipline in ‘n aanlyn leeromgewing is ‘n heel nuwe uitdaging wat onderwysers die hoof moet bied. Dit gaan hier nie net daaroor om leerders tydens onderrig stil te hou nie, maar ook ander uitdagings wat juis die dissipline van ‘n aanlyn klaskamer beïnvloed.
Onderwysers word nou gekonfronteer met kontrole rakende bywoning, kleredrag tydens ‘n aanlyn klas, die feit dat leerders hul kamera kan aan-en-afsit, deelname en om nie te eet of drink tydens onderrigtyd nie. Dinge wat gewoonlik as vanselfsprekend aanvaar is.
Daar moet egter in gedagte gehou word dat dissipline nie beteken dat leerders moet doen en maak soos die onderwyser sê nie – daardie “sit-stil-bly-stil-kultuur” nie. Ons as onderwysers tree soms op as die fasiliteerder van onderrig en soms as die bron van onderrig. Dit is die onderwyser wat besluit watter hoed om op te sit in ‘n gegewe situasie.
Kernkonsepte wat bydra tot ‘n suksesvolle en gedissiplineerde leeromgewing:
- Roetine:
Die meeste leerders voel veilig in ʼn leeromgewing waarin daar ʼn vaste roetine is.
- Gereelde kommunikasie en terugvoer:
Tot ’n mate het kommunikasie verbeter met die uitdagende aard van die nuwe onderrigplatforms. Goeie kommunikasie help dat leerders weet wat van hulle verwag word en watter take, opdragte ens. voltooi moet word.
- Kontrole:
Dissipline binne ‘n aanlyn leeromgewing word suksesvol geïmplementeer deur middel van kontrole. Leerders moet eienaarskap neem van hul werk, beplanningsvaardighede aanleer en selfgerigte leer kan toepas.
- Verantwoordelikheid:
Ouers en leerders, in samewerking met die onderwyser, neem verantwoordelikheid vir die daarstel van ‘n effektiewe leerkultuur.
- Samewerking en motivering:
Hierdie is besonders belangrik, aangesien daar slegs genoegsame dissipline in ‘n aanlyn leeromgewing sal geskied, indien daar samewerking tussen die verskeie mikro en makro omgewings bestaan. (Die skool, onderwyser, leerder en ouers.)
- Beplanning:
Aanlyn leeromgewings verg sorgvuldige beplanning. Lesbeplanning, watter hulpbronne daar gebruik gaan word en watter onderwerpe hulself daartoe leen om as groepbesprekings te dien, is van die aspekte. Vir leerders is daar die verantwoordelikheid om die rooster vooraf te besigtig, boeke wat vooraf in volgorde van gebruik reg moet wees, watter klasreëls geld. Ook hoe om die leerplatform te gebruik, die kamera aan en af te sit, hoe om jou mikrofoon af te sit – dit alles sluit aan by die nodige beplanning wat bydra tot aanlyn leer se sukses.
Aanlyn leeromgewings het ongelukkig ook nadele tot gevolg wat lei tot ‘n gebrek aan dissipline:
- Leerders is geneig om uit te stel en werk nie dadelik te voltooi nie.
- Leerders voel geïsoleerd. Sosialisering vorm ‘n enorme deel van die skoolgaanervaring en daar is niks virtueel wat dit werklik kan vervang nie …
- Leerders sukkel deesdae met sogenaamde Zoom-moegheid – die nagevolg van stilsit in dieselfde kamer en staar na ‘n rekenaarskerm vir byna 6 uur per dag.
- Ongelukkig beskik nie almal oor die nodige tegniese kennis om alle tegniese probleme te voorkom nie. Hulle kan verwoesting in virtuele klaskamers saai en daartoe gelei dat studente ontwrigtend raak of heeltemal belangstelling verloor.
- Sommige leerders kom moontlik uit minderbevoorregte gesinne en het miskien nie die fondse beskikbaar vir ‘n skootrekenaar, ‘n ordentlike internetverbinding of betaal-vir-gebruik-sagteware nie. Selfs met die nodige tegnologie en selfs met leiding, kan hulle sukkel om uit te vind hoe dit gebruik kan word.
Maar deur ‘n aanlyn leeromgewing gedissiplineerd te bewerkstellig, word waardevolle sagte vaardighede aangeleer. Maak dus groepwerk deel van die aanlyn leeromgewing, deur van wegbreek ‘kamers’ gebruik te maak en bekamp die moontlikheid dat leerders geïsoleerd voel en kweek ‘n kultuur van samewerking.
Dis belangrik dat ons moet besef – dissipline word bevorder deur roetine, deur duidelike kommunikasie en ‘n kultuur van samewerking te kweek, tesame met die motivering van leerders. Studies toon dat slegs 2% van volwassenes wat vir ‘n aanlyn kursus registreer, voltooi daardie kursus binne die gegewe tyd. Dus dis belangrik dat ons ‘n gedissiplineerde en suksesvolle aanlyn leerkultuur van vroeg af kweek.