Blog

Ken jy vir Hetta?

Drieduisend skoolgaande meisies se lewens kom elke maand vir vyf dae tot stilstand, omdat hul huishoudings nie sanitêre ware kan bekostig nie. Die #HelpHetta-projek, versprei sanitêre ware en ander noodsaaklike higiëniese produkte aan hierdie meisies op ’n kwartaallikse basis.

Navorsing het getoon dat:

  • 52 skooldae deur meisies wat nie sanitêre ware kan bekostig nie, gemis word;
  • 13% van meisies, in alle Suid-Afrikaanse skole nie sanitêre ware kan bekostig nie; en
  • dat 107 skole/instansies hulp van die #HelpHetta-projek versoek.

Na aanleiding van die bogenoemde, is die projek in 2015 deur Solidariteit Helpende Hand gestig en poog dit om meisies die vernedering te spaar, hul waardigheid te beskerm en te verseker dat hul elke dag skool, buitemuurse en sosiale aktiwiteite kan bywoon. Persoonlike higiëne is ’n platform vir die bemagtiging van meisies.

Hierdie Hetta-meisies ontvang ook opleiding in verskillende kwessies, soos verwerping, groepsdruk, selfverdediging en mishandeling. Verder word hulle emosioneel en geestelik ondersteun deur gereelde boodskappe wat op die #HelpHetta-whatsapp-lyn aangestuur word. Die inhoud vir hierdie boodskappe word deur Helpende Hand se span maatskaplike werkers saamgestel.

Helpende Hand werk saam met skole en ander instansies soos kinderhuise en naskoolsentrums om jaarliks 3 000 meisies vir hulpverlening te identifiseer. Meisies doen nie op hulle eie aansoek nie, maar moet deur hul skool/ondersteuningsgroep werk. Die aanlyn aansoekproses vind jaarliks in Oktober / November plaas, om vir die daaropvolgende jaar deel uit te maak van die projek. Die aansoeke gaan dan deur ’n keuringsproses om die skole/instansies te identifiseer wat deel uitmaak van die projek.

Indien ’n skool/instansie goedgekeur word, word die Hetta-pakkies op ’n kwartaallikse basis by die skool/instansie afgelewer. ’n Hetta-pakkie bestaan tipies uit ’n pakkie sanitêre ware en ’n higiëniese produk (higiëniese produkte verskil van kwartaal tot kwartaal).

Dis vir ons belangrik dat elke Hetta-pakkie ’n naam het aan wie dit gegee word – net soos ons deur die projek meisies weer wil laat besef hoe waardevol hulle is en dat geen struikelblok hul moet terughou nie.

Besoek gerus ons webwerf om aanlyn aansoek te doen en deel te raak van die #HelpHetta-projek: www.helphetta.co.za

Aansoeke sluit Woensdag, 30 November 2021.

Vir meer inligting oor die projek, stuur gerus ’n e-pos aan [email protected].

Teken in op ons nuusbrief