Deur Paul Maritz
“Mense het in die verlede ʼn begeerte na geld, kos, skuiling, veiligheid, vrede en vryheid bo ʼn begeerte na enigiets anders gehad. Die afgelope 30 jaar het ons verander. Mense wil nou ʼn goeie werk hê en hulle wil hê hul kinders moet ʼn goeie werk hê. Dít verander alles.”
Hierdie woorde van die werkplekkenner, Jim Clifton, behoort soos ʼn wekroep vir elke graad 9-leerder en hul ouers te weerklink. Ons kan dit nie ligtelik opneem nie en ons kan nie maak asof ons dit nie hoor nie, of nog nie nou wil hoor nie.
Solidariteit Jeug kry elke dag met jongmense te doen wat advies oor hul loopbaanpad wil hê. Soms is hulle op soek na beurse of lenings, soms is hulle op soek na algemene advies oor waar en wat hulle kan studeer, maar té dikwels is dit jongmense wat in ʼn doodloopstraat beland het – daar is geen uitweg nie, geen pad vorentoe nie en hulle soek ander werk.
In baie gevalle het hierdie jongmense in graad 9 vakke gekies wat nie by hul aanleg gepas het nie, maar wat gewoon lekker geklink of gelyk het, of, in sommige gevalle, bekend is as “maklike” vakke. Twee jaar later vind hierdie jongmense dan uit dat hulle nie dit kan gaan studeer wat hulle wou studeer nie omdat hulle die verkeerde vakkeuses gemaak het.
Wat staan hulle dan te doen? Sommige leerders kom uit ouerhuise waar oorbrugging van vakke of ʼn bykomende jaar op skool wel moontlik is sodat die regte vakke geneem kan word, maar in die geval van so baie ander jongmense is dit nie moontlik nie. Hulle gaan studeer dan in ʼn studierigting wat hulle nie interesseer nie, of hulle gaan direk ná skool werk, met die tentatiewe idee van nauurse studie, of studie “eendag in die toekoms.”
Daar is natuurlik niks daarmee verkeerd om direk ná skool te gaan werk nie, maar om te móét gaan werk omdat jy geen ander keuse het nie, is anders as om ná skool te gaan werk omdat jy werklik wil. Selfs vir diegene wat direk ná skool wil gaan werk, moet die waarskuwing opklink: Kennis en vaardighede is jou wapens in die stryd om ʼn goeie inkomste en ʼn goeie werk te hê, soos wat die einste Jim Clifton dit stel. Daarom, dink mooi voordat jy jou rug keer op ʼn verdere kwalifikasie in die vorm van ʼn ambag, diploma of graad. Vra jou af of dít wat jy ná skool gaan doen volhoubaar is en ʼn stabiele inkomste vir jou gaan bied tot en met jou aftrede, wat in die afsienbare toekoms moontlik op 70-jarige ouderdom, of selfs ouer, gaan wees.
As daar algemene konsensus is dat studie ná matriek ʼn goeie idee is, dan behoort graad 9-vakkeuses met groot omsigtigheid gemaak te word. Waarmee is jy regtig goed? As jy onseker is, kan jy aanlegtoetse oorweeg, of jy kan vir ʼn dag lank iemand in ʼn beroep waarin belangstel, gaan dophou om te sien wat die persoon by die werk doen. Soms is jongmense selfs ná afloop van toetse of verdere ondersoek steeds onseker oor hul toekoms. In so ʼn geval behoort jy vakke te kies wat vir jou meer deure oopmaak as wat dit toemaak.
As jy in graad 9 is, is vakkeuses een van die belangrikste besluite wat jy tot dusver gaan neem en as jy die ouer van ʼn graad 9-leerder is, sou die verantwoordelike ding wees om regtig om te gee en om saam met jou kind oor sy of haar loopbaan te dink en die regte besluite aan te spoor.
Solidariteit Jeug se #VakKeuse-video’s kan jou help om die regte vakke te kies.
Kies slim, klik hier: https://jeug.solidariteit.co.za/