Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het onlangs ʼn opname onder skole gedoen om te bepaal wat die impak van munisipale koste maandeliks op hul begroting is.
Skole bestee ongeveer 10% van hulle maandelikse begroting aan munisipale dienste. Hierdie bedrag beloop gemiddeld tussen R40 000 en R70 000 per maand. 14% van skole betaal meer as R100 000 per maand aan munisipale koste. (In 2018 was dit 8% van skole.)
Altesaam 55% van die 173 respondente het aangedui dat hulle as besighede op hulle rekening gekategoriseer word en daarom meer vir dienste betaal. Die klassifikasie van instellings hang gewoonlik af van munisipaliteite se munisipale verordeninge, oftewel “by-laws”. Dit bepaal die bedrag wat maandeliks vir dienste gehef word. In besighede se geval is dit gewoonlik beduidend hoër. Skole moet dus seker maak dat hulle reg gekategoriseer is. As die bywet voorsiening maak vir ʼn onderwys kategorie, maar die skool word as ʼn besigheid aangeslaan, kan skole ʼn dispuut verklaar by die munisipaliteit om dit reg te stel.
Wat kan skole doen?
- As die bywet voorsiening maak vir ʼn onderwys kategorie, maar die skool word as ʼn besigheid aangeslaan, kan skole ʼn dispuut verklaar by die munisipaliteit om dit reg te stel. (Sien grafika hieronder vir proses)
- Oorweeg alternatiewe oplossings soos die gebruik van energiebesparende gloeilampe, sonpanele en slimmeters om water- en kragverbruik te monitor.
- Daar is ook maatskappye wat skole kan help met die monitor van krag- en watergebruik.
- Elke munisipaliteit het hulle eie tariefstruktuur, asook prosedure om byvoorbeeld dispute te verklaar of aansoek te doen vir rabatte.
- Onderhandel om ’n beter tarief wanneer die munisipaliteit hul jaarlikse Geïntegreerde Ontwikkelingsplan (“Integrated Development Plan”) voorlê. ’n Rooster vir die publiekedeelnameproses word in Augustus gepubliseer. As die munisipaliteit nie ’n tariefwysiging wil toestaan nie, kan skole ’n direkte versoek aan die energiereguleerder Nersa rig.
- Indien daar ’n fout is met jou skool se rekening, moet daar heel eerste ʼn dispuut met die plaaslike munisipaliteit verklaar word en die probleem so duidelik moontlik uiteengesit word. ’n Konsep van hierdie dispuutbrief is hier beskikbaar.
- Maak kennis met jou plaaslike raadslid en klop by hulle aan om sake te help herlei na die regte afdeling/s.
- Let op en herstel lekkasies so gou moontlik.
- Voed leerders op om te help bespaar.
Handige skakels:
Skoleondersteuningsentrum – Munisipale koste