deur Marietjie Havenga
Onderwysspesialis: SOS
Ouerskap is ‘n groot verantwoordelikheid. Ons wil vir ons kinders die beste moontlike ouer wees. Tog lewe ons in ‘n gebroke samelewing waar ons as ouers self foute maak en nie perfek en vlekkeloos voor ons kinders staan nie. In ouerskap kom ons soms te staan voor uitdagings en ontdek ons tekortkominge in onsself wat ‘n mens soms laat twyfel oor jou vermoë om die beste ouer vir jou kind te kan wees. Ons maak foute, struikel en modelleer nie altyd die waardes wat ons graag wil hê ons kinders moet ontwikkel nie. In moeilike tye is dit bemoedigend om te weet dat daar nie iets soos ‘n volmaakte ouer bestaan nie. Ouers is self afhanklik van God se genade, vergifnis en volmaakte liefde vir ons. Selfs met al ons tekortkominge en foute, is jy steeds die regte ouer vir jou kind, omdat God jou uitgekies het en dit so beskik het om daardie kind aan jou toe te vertrou.
‘n Ouer wat sy/haar eie foute erken en streef om dit reg te stel en daaruit te leer, modelleer aan hulle kinders die waarde van onvoorwaardelike liefde, genade en veerkragtigheid. Ons wys hulle dat dit natuurlik is om foute te maak en dat ons uit ons foute kan leer. Ons leer hulle dat ouerskap nie ‘n aanduiding van volmaaktheid is nie, maar eerder ‘n uitnodiging tot groei, liefde en vertroue. In 1 Petrus 4:8 lees ons: “Liefde bedek ‘n menigte sonde.” Hierdie vers herinner ons daaraan dat liefde groter is as enige foute of tekortkominge. Dit beteken nie dat daar nie gevolge vir verkeerde keuses is nie, maar dit leer ons kinders die krag van liefde om struikelblokke te oorkom, te vergewe, te herstel en te groei.
Liefde en vergifnis is sentrale waardes om goeie en gesonde verhoudings te bou met ander mense en ook met onsself. Deur onvoorwaardelike liefde aan ons kinders te betoon, leer ons hulle ‘n waardevolle les van God se genade en onvoorwaardelike liefde vir ons as Sy kinders.
Ja, ons is nie altyd perfek nie, maar ons kan altyd liefhê. Ouerskap is ‘n voortdurende leerproses. Veerkragtige ouerskap demonstreer aan ons kinders dat ons bereid is om te leer uit ons foute en dat ons voortdurend aanhou groei. Ons het nie altyd die regte antwoorde nie en juis daardeur demonstreer ons vir ons kinders om lewenslange leerders te wees. Ons het suksesse, talente en sterk eienskappe, maar ook swakhede en mislukkings. Deur onsself toe te laat om ons eie menslikheid te aanvaar in ons reis na verbetering, verlig ons net net die druk op onsself nie, maar ook op ons kinders om valslik te glo dat ons perfek moet wees. Ons wys hulle dat dit belangrik is om geduldig te wees met onsself en om onsself toe te laat om te groei en te verbeter.
Liewe Ouer, moenie bang wees om foute te maak nie. Groei en verbeter, een fout op ‘n slag. Skep ‘n omgewing vir jou kinders waar groei deur liefde ondersteun word. Dit is ‘n geskenk wat ons aan ons kinders kan bied, selfs in ons eie menslike onvolmaaktheid.