Blog

12 wenke met plakkate vir jou klaskamer

Ons oë registreer ongeveer 36 000 visuele beelde per uur en 90% van alle sensoriese gewaarwordings hou verband met sig. Geen wonder kinders leer makliker as leerwerk visueel uitgebeeld word nie. Plakkate is een van die beste maniere om die leerproses aan te vul en onbewuste leer vind dikwels plaas deur blootstelling aan die inligting op muurplakkate. Plakkate skep ook ‘n meer stimulerende en interessante omgewing om leer aan te vul, maar word dikwels afgeskeep.

Hier is ’n paar wenke om plakkate in jou klaskamer effektief aan te wend:

Die hoofdoel van plakkate

  • ‘n Leerkonsep te illustreer
  • ‘n Proses in die leerinhoud te demonstreer
  • Ooreenstemmende konsepte te onderskei
  • Leerders se belangstelling en emosie te stimuleer.

Riglyne vir goeie plakkate

Alhoewel die moontlikhede vir plakkate oneindig is, is daar sekere beginsels waaraan enige goeie klaskamer-plakkaat behoort te voldoen:

  1. Plakkate moet leerders se belangstelling prikkel deur helder, kleurvol en aktueel te wees met ’n beskrywende titel wat aandag trek. (Die titel kan ’n vraag wees/inhoud beskryf/nuuskierigheid prikkel.)
  2. Plakkate moet bondig, minimalisties en eenvoudig wees deur die uitbeelding van kernkonsepte sonder om opsommings van inhoud te maak. (Die handboek moet nie in plakkate omskep word nie.)
  3. Plakkate moet leerdervriendelik wees: gepaste grafika en woordgebruik moet geskik wees vir ’n bepaalde ouderdomsgroep se ontwikkelingsfase en vir hul leesvermoë.
  4. Idees moet duidelik gesien kan word en logies vloei.
  5. Die titel moet helderkleurig en selfverduidelikend wees.
  6. Die lettertipe moet eenvoudig en leesbaar wees:
  • Normale letterkas (nie bokas nie) ± 3-5cm hoog.
  • Leesbaar van ’n minimum afstand van 5 m af.
  • Onder- en opskrifte by sketse moet slegs onderkas wees en nie met hoofletters begin nie.
  • Gebruik die Font “a” i.p.v. “a”, bv. van Teachers Pet./ABC Junior Typing.
  1. Elke plakkaat moet selfverduidelikend wees en ’n eie storie vertel, óók sonder die onderwyser se hulp.
  2. Woorde gekoppel aan illustrasies/prente/grafika moet leerders help om konsepte te begryp.
  3. Alles op die plakkaat moet die boodskap ondersteun.
  4. Duursaamheid: Plakkate moet weerskante gelamineer word en groot plakkate moet versterkte hoeke hê en omringde gaatjies vir spykers. Almal moet ’n mat afwerking hê.
  5. Taalversorging: Foutlose en keurige taalgebruik is van groot belang.
  6. Plakkate kan voor en agter gedruk word.

Grootte en gebruik

  • A2- of A3-plakkate is ’n ideale grootte vir plakkate wat dikwels afgewissel word en gestoor moet word.
  • Plakkate wat permanent teen die muur hang (bv. skrif, 100 kaarte, land-/wêreldkaarte en periodieke tabelle) kan groter wees, maar moet versterk word om skade te voorkom.
  • Plakkate moet aanpasbaar wees deurdat verdere inhoud opgeplak of opgebou kan word, veral in die Grondslagfase.

Die SOS het, in samewerking met die Afrikaanse Onderwysnetwerk (AON), ’n projek geloods om gehalte-plakkate aan Afrikaanse skole te verskaf.

Vir meer inligting oor die projek, kontak Jana Terblanche per e-pos by [email protected].

Teken in op ons nuusbrief