Deur Sarina Prinsloo
Kommunikasiespesialis: SOS
Dink terug aan jou kinderdae – daardie lang, lui middae waar jy op die stoep gesit het, jou kaal voete in die stof, sonder enige planne of iets om jou besig te hou. Jy het dalk ‘n klip met jou toon rondgerol of die patrone in die wolke dopgehou. Jy was verveeld, maar sonder dat jy dit besef het, het jou verbeelding begin werk. Jy het ‘n storie in jou kop geskryf, ‘n nuwe speletjie uitgedink of eenvoudig net vir ‘n oomblik die wêreld om jou ingeneem.
Vandag is dinge anders. Ons leef in ‘n wêreld waar elke oomblik gevul moet wees – of dit nou e-posse, WhatsApp-boodskappe, sosiale media of TV-reekse is. Ons het ‘n diepgewortelde vrees om ledig te wees, asof stilstand beteken dat ons iets mis. Ons kinders is ook nie gespaar nie – hul dae is oorvol met skool, huiswerk, sport, en wanneer daar ‘n kort ruskansie is, spring ‘n selfoonskerm vinnig in om die leemte te vul.
Maar hier is die waarheid: verveeld wees is nie ‘n probleem nie – dit is ‘n geskenk.
Waarom is verveeld wees so belangrik?
Verveeld wees is ‘n kosbare geleentheid om tot rus te kom, jou gedagtes vryelik te laat dwaal en die vonk van kreatiwiteit weer te laat vlamvat. Navorsing wys dat mense wat gereeld tyd het om te droom en sonder afleiding na te dink, meer kreatiewe oplossings vind en beter emosionele welstand ervaar.
🔹 Vir kinders is verveeldheid ‘n ruimte vir ontdekking. Sonder ‘n skerm of ‘n vol program word hulle aangemoedig om self kreatiewe maniere te vind om hul tyd te vul. Hulle bou torings van kussings, skep stories in hul verbeelding en leer om onafhanklik te dink. Boonop ontwikkel hulle die vermoë om frustrasie te hanteer en geduld te beoefen – noodsaaklike vaardighede vir die lewe. Studies wys dat kinders wat minder gestruktureerde aktiwiteite het, beter probleemoplossingsvaardighede ontwikkel en langer aan uitdagings vasbyt.
🔹 Vir volwassenes bied verveeld wees ‘n broodnodige asemhalingstyd – ‘n kans om te dink aan wat werklik saak maak en om weer in voeling te kom met ons drome en passies. Dit help ons om te ontsnap van die konstante oorstimulasie van die wêreld en weer gemaklik te raak met stilte – om eenvoudig net te wéés.
Navorsing toon dat mense wat gereeld tyd opsy sit vir stilte en refleksie, laer vlakke van stres en hoër vlakke van lewensbevrediging ervaar. Jesus self het dikwels tyd in stilte en afsondering deurgebring om te bid en geestelike hernuwing te ervaar. Soos Psalm 46:11 sê: “Wees stil en weet: Ek is God.” In hierdie stil oomblikke leer ons om opnuut op Hom te vertrou, in Sy teenwoordigheid rus te vind en Sy wil vir ons lewens te herontdek.
Hoe om verveeldheid doelbewus in jou lewe toe te laat
Jy hoef nie ekstra ure in jou dag te hê om die waarde van verveeld wees te benut nie – dit gaan eerder daaroor om doelbewus ruimte te skep vir stilte en nadenke. Hier is ‘n paar eenvoudige maniere om dit te doen:
- Sit die skerms opsy – Skep daaglikse tye waar jy (en jou kinders) tegnologievry is. Laat toe dat daar oomblikke van niksdoen is – dis juis in daardie ruimte waar kreatiwiteit en selfontdekking floreer.
- Moedig selfstandige ontdekking aan – Moenie kinders onmiddellik met aktiwiteite besig hou wanneer hulle sê hulle is verveeld nie. Gee hulle die kans om self ‘n plan te maak en hul eie verbeelding te gebruik. Dit mag aanvanklik ‘n bietjie ongemaklik wees, maar dit is juis in hierdie tye dat kinders leer om onafhanklik te dink.
- Maak tyd vir stilte – Neem ‘n oomblik om eenvoudig net stil te sit, sonder ‘n foon, ‘n boek of enige afleiding. Luister, bid, dink – en laat jou gedagtes natuurlik vorm aanneem. ‘n Mooi staproete, al is dit net om die blok, bied ‘n waardevolle kans om jou gedagtes vrylik te laat dwaal en jou brein sonder afleiding nuwe idees te laat vorm.
- Wees jý die voorbeeld – As ons as volwassenes aanhoudend besig bly en nooit ruimte maak vir rus nie, hoe kan ons verwag dat ons kinders gemaklik sal wees met stilte? Wys vir hulle dat verveeld wees ‘n kosbare geleentheid is, nie iets om te vermy nie.
- Laat tyd vir “niks” in jou dag – Moenie elke uur van jou dag vooruit beplan nie. Los ‘n paar minute oop waar jy net kan sit en asemhaal, sonder om iets te “doen”. Dit klink eenvoudig, maar in ‘n samelewing waar besig wees dikwels as ‘n deug beskou word, is dit ‘n daad van bewustelike teenkanting teen ‘n oorlaaide lewe.
Bak weer modderkoekies saam met jou kinders
Daar is ‘n rede waarom sommige van die wêreld se beste idees in die stort, op ‘n stil wandeling of in ‘n oomblik van dagdromery ontstaan. Dis in hierdie ledige tye dat ons brein onbewustelik idees verbind en nuwe insigte vorm. Selfs Albert Einstein het gesê dat sy beste idees gekom het wanneer hy bloot net niks gedoen het nie.
Vir kinders beteken dit om die kans te kry om met stokke in die grond te krap, modderkoekies te bak of ‘n speletjie sonder reëls te skep. Dit is nie nuttelose of “verlore” tyd nie – dit is ‘n noodsaaklike bousteen vir kreatiewe denke en emosionele veerkragtigheid.
Vir volwassenes is dit ‘n herinnering dat ons nie ons waarde uit konstante produktiwiteit hoef te haal nie. Soms is die mees waardevolle oomblikke dié waarin ons net asemhaal, luister en ons eie gedagtes toelaat om hul natuurlike gang te gaan.
So, die volgende keer as jy of jou kind sê: “Ek is verveeld,” onthou: dis nie ‘n probleem wat opgelos moet word nie. Dis ‘n geskenk wat sorgvuldig oopgemaak moet word.