16 September 2026
Die Gautengse Onderwysdepartement het volgens Solidariteit erken dat hy nie meer sy statutêr verpligte subsidies aan skole kan betaal nie. Solidariteit en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het daarom Woensdag, 16 September 2026, die parlement gevra om die departement onder administrasie te plaas.
Die organisasies sê die wanbetaling is deel van ’n groter administratiewe en finansiële krisis wat skole dwing om self toenemend vir funksies en dienste in te staan wat die departement behoort
te lewer.
Die eis volg nadat die GDO in ’n skrywe van 27 Julie 2026 erken het dat hy weens “cash constraints and other challenges” nie die statutêr vereiste skooltoekennings betyds kon betaal nie. Skole moes teen 15 Mei reeds 50% van hul goedgekeurde 2026-toekennings ontvang het, maar volgens die petisie het talle skole teen dié datum slegs sowat 3% van hul jaarlikse toekenning ontvang. Die departement het in sy antwoord verder aangedui dat R2,6 miljard nodig was vir die skooloordragte wat teen 15 Mei betaalbaar was, terwyl die provinsiale tesourie sowat R900 miljoen per maand vir goedere, dienste en oordragbetalings beskikbaar gestel het.
Dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit, het met die oorhandiging van die petisie in Kaapstad gesê dat die GDO reeds maande versuim om statutêr verpligte skoolsubsidies aan
skole te betaal. “Dit is duidelik dat hierdie departement verval en eenvoudig nie meer sy grondwetlike verpligtinge kan nakom nie. Wanneer ’n provinsiale onderwysdepartement só ’n erkenning maak is dit nie meer bloot ’n administratiewe probleem nie,” sê dr. Hermann. “Dit is ’n bestuurskrisis wat ingryping vereis.”
Met die petisie dui Solidariteit en die SOS aan hoe die GDO se administratiewe en finansiële wanbestuur asook sy gebrekkige beplanning, noodsaaklike poste wat nie gevul word nie, en
versuim om skole en onderwysers behoorlik te ondersteun, die provinsie se onderwysstelsel op sy knieë dwing.
Die DA en die VF+ is versoek om die petisie in die parlement ter tafel te lê en om druk op die regering van nasionale eenheid uit te oefen om dadelik in te gryp.
“Gauteng se leerders betaal die prys vir ’n departement wat nie sy basiese verantwoordelikhede kan nakom nie. Die situasie vereis dringende ingryping op die hoogste vlak en daadwerklike
aanspreeklikheid deur die GDO leierskap,” sê Melanie Buys, hoof van SOS. Buys sê die GDO se gebrekkige ondersteuning en administratiewe verval is ‘n regstreekse
bedreiging vir skole se vermoë om gehalte onderrig te verseker.
“Die departement faal in sy eie kernverantwoordelikhede, maar wil nogtans groter beheer oor goed funksionerende skole uitoefen. Skole en gemeenskappe moet toenemend self
verantwoordelikheid aanvaar en geld beskikbaar stel net om gehalteonderrig te kan bied.
“Indien skole dié verantwoordelikheid dra, moet hulle noodwendig ook groter inspraak en besluitnemingsmag oor die bestuur van hul skole hê,” sê Buys.
Volgens Buys behoort skole en beheerliggame deur die departement as vennote behandel te word en moet hulle toegelaat word om oplossings te vind wat in hul gemeenskappe se besondere
behoeftes voorsien.
“Dit is onaanvaarbaar dat gemeenskappe die geld, kundigheid en arbeid aan skole moet befonds, maar terselfdertyd al hoe minder seggenskap kry oor hoe hierdie einste skole bestuur word,” sê
Buys.
Volgens Johan Botha, hoof van Solidariteit se Onderwysernetwerk, word onderwysers daagliks gedwing om die gevolge van die departement se mislukkings te dra.
“Onderwysers moet al hoe meer administratiewe en maatskaplike probleme hanteer terwyl die ondersteuning wat hulle van die departement ontvang, al hoe minder word.
“Hulle kan nie aanhou om ’n stelsel wat van bo af verbrokkel op hulle skouers te dra nie,” sê Botha.
Solidariteit en die SOS doen daarom ’n gesamentlike beroep op die parlement om die petisie dringend te bespreek en die nodige stappe te doen om die GDO nou onder administrasie te laat
plaas.
Sien Solidariteit en die SOS se petisie aan die parlement, asook die brief van die GDO aangeheg.
Vir media navrae: Melanie Buys | Hoof van Ontwikkeling | [email protected]