6 Redes waarom onderwysers beter is as robotte

deur Marlien van der Westhuizen,
Navorser by die Skoleondersteuningsentrum

“Tegnologie is besig om te verander en dit gaan ons nutteloos (en werkloos) laat.”

Hierdie stelling word maklik gemaak, maar die waarheid is egter dat daar sekere dinge is wat robotte en tegnologie nog nie kan doen nie en moontlik nooit sal kan doen nie. Dit beteken egter nie dat onderwysers gerieflik moet raak en terugneig na die verlede nie.

Michael Trucano, senior onderwysspesialis van die Wêreldbank, het heel geregverdig opgemerk dat onderwysers wat weet hoe om tegnologie te gebruik, dié sal vervang wat nie weet nie.

Alhoewel die Skoleondersteuningsentrum (SOS) glo dat tegnologie dien as bemagtigingsinstrument vir onderwysers, is daar vyf maniere waarop onderwysers ʼn kardinale rol in die ontwikkeling van leerders se opvoeding speel.

Onderwysers ontwikkel leerders se denkvaardighede

Die wêreld se kennis is tot die beskikking van leerders op die internet (wat hulle op hulle selfone kan ontdek), maar die vermoë om te kan dink word al hoe belangriker. Soos wat al meer roetine-take deur robotte oorgeneem word, word die behoefte vir mense wat probleme kan oplos, aanpasbaar is en kreatief kan dink, al hoe groter.

Onderwysers moet leerders leer hoe om hulle denke uit te brei, probleme op te los en help om kreatiwiteit aan te leer.

Onderwysers verstaan ʼn brein wat nog besig is om te groei

Nie net verstaan onderwysers wat dit beteken om denkvaardighede te ontwikkel nie, maar hulle verstaan ook hoe die proses werk. Hulle weet hoe dit lyk as leerders begryp (of nie die vaagste idee het nie) en heel belangrikste, hulle weet hoe om in te gryp as dinge skeef loop.

Onderwysers beskik oor die ervaring en begrip om leerders te ondersteun en uit te daag, van kindsbeen af tot die dag dat hul skoolloopbaan voltooi is.

Robotte sosialiseer nie met mekaar nie

Nog ʼn belangrike rol wat onderwysers speel is in die sosialisering van leerders. Die skool is meeste leerders se eerste kennismaking met sosialisering en hier is dit belangrik dat onderwysers leerders wys hoe om empatie met hulle klasmaats te ontwikkel.

Onderwysers bied emosionele ondersteuning en stel ook belangrike grense wat ʼn kardinale rol speel in enige leerder se ontwikkeling. Selfs al is tieners se brein ʼn misterie vir hul ouers, het onderwysers deur ondervinding geleer hoe om rebelse, ongemaklike tieners in jong volwassenes te omskep.

Onderwysers skep nuuskierigheid

Dit is ʼn onderwyser se voorreg om leerders te help om hul horisonne te verbreed en nuwe, opwindende dinge te leer en ervaar. Gehalte onderwys lei daartoe dat leerders nuuskierig raak oor die wêreld om hulle en besef dat daar geen beperkings is op leer nie.

Onderwysers moet help om leerders te laat besef dat hulle eienaarskap moet neem van hul eie belangstelling en oop wees vir ander moontlikhede. Robotte beskik nie oor hierdie vermoë nie en enige leiding deur robotte sal beperk wees en leerders nie aanmoedig om hul drome (wat nog onbekend is) na te streef nie.

Onderwysers help leerders met onderskeiding

In ʼn wêreld waar kennis oral en vrylik beskikbaar is, is dit belangrik dat leerders geleer word om onderskeid te tref tussen waarheid en leuens. Onderwysers moet leerders help om kristalhelder te dink oor inligting en ʼn oordeel te kan fel.

Robotte hou nie van onsekerheid nie

Die toekoms is onseker, vandag meer as ooit en kenners reken dat meeste skoolgaande leerders ʼn werk gaan doen wat nog nie bestaan nie.

Daardie tipe van onsekerheid is nie ʼn plek waar robotte floreer nie, maar onderwysers kan leerders help om die toekoms te omhels, eerder as om dit te vrees.

Die maklikste manier vir onderwysers om dit vir leerders te leer, is om self dapper en vol moed tegnologie te omhels en in hul klaskamer toe te laat.


Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
[gravityform id=36 title=false description=false ajax=true tabindex=49]

 

 


Tags


Lees meer...

Gesels met ons