Deur Desiré Schabort
Robotika, programmering, die Internet van Dinge (IoT) en wat dit alles vir ons kan beteken in die toekoms is gereeld in die nuus. Maar meer nog, die belangrikheid daarvan om ons kinders daaraan bloot te stel en wat dit vir hul eie beroepe kan beteken, beroepe wat heel waarskynlik nog nie eers bestaan nie, laat almal effens bekommerd – ons Suid Afrikaanse kinders moet tog net nie agter raak nie! Almal is behoorlik aan die gons oor nuwe kurrikula wat beoog word vir volgende jaar, maar hoe dit gaan lyk, hoe implementeerbaar dit gaan wees, is nog nie bekend nie.
Onlangs het Angela Harris, ʼn onderwyser wat spesialiseer in Robotika, tydens die SOS seminaar wat in Pretoria en in die Kaap onderskeidelik gehou is, verskeie robotika opsies verduidelik asook hoe sy dit implementeer in haar grondslagfase klaskamer. Skole wat hul kinders se belange (en toekoms) op die hart dra, wil graag ook in lyn kom met wat verwag word om kinders vir die vierde industriële rewolusie voor te berei. Maar hoe prakties uitvoerbaar is hierdie opsies in die Suid Afrikaanse milieu?
Indien jou skool robotika en programmerings inisiatiewe oorweeg, oorweeg die volgende punte om dit so haalbaar moontlik te maak.
Punte vir oorweging:
- Prys: Robotte wissel vanaf R900 tot R2400 vir een. Maar meeste robotte wat in Angela se klaskamer geïmpliseer is, werk met iPad en/of iPhone. So, om die robot te koop is een ding, maar watter toestel (device?) moet ook aangekoop sodat die robot kan wérk. Het die inisiatief wat jy oorweeg ʼn toestel nodig? Kan jou skool se rekenaar laboratorium dalk gebruik word hiervoor? Tensy jou skool reeds vir almal ʼn ipad of ʼn iphone het, natuurlik.
- Ouderdom-spesifiek: Kan die robotika-inisiatief slegs vir ʼn spesifieke ouderdomsgroep gebruik word of is die robot geskik vir alle ouderdomsgroepe in die skool?
- Kragverbruik en herlaai van die robot: Sal die robot binne een les pap wees en neem dan ʼn uur of drie om te herlaai?
- Oplossing en herstel van robot: Indien die robot val, wat almal van ons weet regtig nie onmoontlik is in die klaskamer nie, hoe vervangbaar is die parte? Is dit geredelik beskikbaar? Of moet die robot teruggestuur word VSA toe? Is daar ondersteuning in SA en die omgewing om parte te ruil en die robotte reg te maak?
- Internet in klaskamers: Word internet benodig om ʼn eenvoudige les uit te rol. Die onbetroubaarheid van internet en toestelle kan mens se hele lesbeplanning omvêr gooi!
- Kurrikulum of inisiatief: Kom die robotika inisiatief wat jy oorweeg met ʼn gedetailleerde kurrikulum of maak dit staat op die onderwyser se kreatiwiteit om dit in sy/haar lesplanne te implementeer? Indien dit saam met kurrikulum kom, is dit ʼn speletjie vir kinders om interaktief te wees in die klas of inkorporeer dit wiskundige beginsels en leer dit probleemoplossingsvaardighede vir elke kind? Leer die kinders om werklik te programmeer of is dit vooraf-geprogrammeerde funksies wat geroep word vir die robot om te kan werk?
- Die bou van die robot: Indien die robot gebou moet word, en parte raak weg, kan addisionele parte aangekoop word, en teen watter koste?
Daar is Suid Afrikaanse oplossings, wat meer bekostigbaar is en meer uitvoerbaar is wat definitief nie gemis moet word nie. Neem die bogenoemde punte in ag voordat ʼn groot kapitaal onkoste aangegaan word en robotte op die rak staan en stof gaar. Kies ʼn robotika-inisiatief wat nie net pret verskaf nie, maar verskeie voordele het soos om die beginsels van programmering, probleemoplossing en toegepaste wiskunde beginsels inkorporeer in ʼn ouderdoms-toepaslike kurrikulum – ʼn kurrikulum wat kinders opgewonde maak om probleme op te los. Want probleemoplossing is die onmisbare vaardigheid vir toekomstige beroepe en die vierde industriële rewolusie.
Desiré Schabort is ‘n direkteur by Edro, ‘n maatskappy wat reeds sedert 2014 robotika by skole regoor die land aanbied. Vir meer inligting oor hoe hulle julle skool kan bystaan, kontak hulle deur ‘n epos te stuur na [email protected].
0 comments