fbpx

Adjunkminister se BELAglike uitlatings

Dr. Reginah Mhaule, adjunkminister van basiese onderwys, het onlangs uitlatings gemaak dat die BELA-wetsontwerp nodig is om te verhoed dat taal as ‘n uitsluitingsmeganisme gebruik word en dat “daar diegene is wat sommige skole wil beskerm asof dit hul eie is.” Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) beskou dit as ʼn aanval op Afrikaanse skole en wil sy ernstige kommer en misnoë hiermee uitspreek.

Met meer as 24 800 skole in Suid-Afrika, waarvan slegs sowat 1 200 enkelmedium-Afrikaans is, bestaan daar geen basis vir die adjunkminister om hierdie bewerings te maak nie. Sy voer aan dat slegs twee tale in Suid-Afrika “hoogs ontwikkel” en daarom geskik is vir onderwys. Terwyl sy beweer dat daar aan moedertaalonderrig gewerk word, blyk dit dat die fokus eintlik val op ‘n klein aantal goeie Afrikaanse skole wat moet verengels. Hierdie skole geniet rééds minimale ondersteuning van die staat – sowat R277 per kind per jaar vir kwintiel 5 skole.

Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS sê: “Die voorgestelde wetsontwerp, wat die minder as 5% oorblywende Afrikaanse skole wil dwing om plek te maak vir Engelse klasse, sal goeie skole vernietig sonder om die kernprobleem van ‘n tekort aan goeie skole op te los.”

Die onlangse boelietaktiek van die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) om reeds vol skole te dwing om meer leerders in te neem, het die kritieke rol van betrokke gemeenskappe by skole beklemtoon. Dreigbriewe wat skole wou dwing om tot 50% meer leerders te akkommodeer as wat hul kapasiteit toelaat, is vinnig teruggetrek danksy die onmiddellike reaksie van belanghebbendes. “Die voorstel in die BELA-wetsontwerp om skoolbeheerliggame van hul besluitnemingsmagte te ontneem is ‘n direkte aanval op gemeenskappe wat aktief betrokke is by die onderwys van hul kinders,” sê Buys. “Die rede vir goeie skole se sukses kan juis direk toegeskryf word aan drie faktore, naamlik: goeie verantwoordbare bestuur, toegewyde, bekwame onderwysers, en die betrokkenheid van die ouergemeenskap.”

Die SOS doen ‘n dringende beroep op die regering om die belange van alle Suid-Afrikaanse leerders en hul gemeenskappe te erken en prioritiseer. “Skrap die BELA-wet in sy huidige vorm, hou op om Afrikaanse skole te teiken en bevorder kwaliteit moedertaalonderrig vir alle gemeenskappe.”


Tags

BELA, SOS


Lees meer...