Jana Terblanche
Ouderdom is ‘n getal met ‘n subjektiewe aard en waarde.
Elke persoon besluit self hoe hy daaroor voel, want vra jy vir party 80-jariges hoe hulle voel, sal hul sê “al lyk ek vir jou oud, voel ek 20 in my hart”, terwyl ander wat veel jonger is, sal sê “ek voel stokoud en oor die muur”.
146 jaar gelede op 14 Augustus 1875 is die GRA (Genootskap van Regte Afrikaners) in die huis van Gideon Malherbe (‘n wynboer, 42 jaar oud) in die Paarl gestig. Agt manne was teenwoordig op die eerste vergadering. Behalwe Malherbe, was die ander lede: C.P. Hoogenhout (onderwyser, skrywer en digter, 32 jaar), Daniël Francois du Toit (bekend as Dokter, 21 jaar), die joernalis D.F. du Toit (bekend as Oom Lokomotief, onderwyser, 29 jaar), sy broer S.J. du Toit (predikant, 27 jaar), August Ahrbeck (student, 24 jaar), Petrus Malherbe (wynboer, 22 jaar) en S.G. du Toit (student, 20 jaar). Almal behalwe Hoogenhout en Ahrbeck was verwant. Die meeste van die stigterslede was afstammelinge van die Hugenote.
Met uitsondering van Gideon Malherbe was al hierdie manne jonger as 35 toe die GRA gestig is – jong manne wie se harte warm geklop het vir hul taal en wat tot die uiteindelike erkenning van Afrikaans as amptelike taal gelei het.
Afrikaans is een van die bitter min wêreldtale wat tot op akademiese vlak en, meer onlangs, digitale vlak, kon ontwikkel. Dit was wonderlik om die afgelope week die digitale Première Atelierfees van die Drama Departement van die Universiteit van Stellenbosch in samewerking met die Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) te kon “bywoon”. Oor vier aande is 12 toneelstukke opgevoer. Dis maar een van die talle maniere waarop Afrikaans die ore en harte van mense kan bereik.
Prof. Piet Meiring, teoloog en akademikus het in 1984 in die Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Natuurwetenskap en Tegnologie geskryf:
Min tale het so “swaar” groot geword as Afrikaans. Min tale het ten spyte van geboorte- en groeipyne so lewenskragtig ontwikkel. En min tale het hulle so gou by veranderende omstandighede aangepas. Was dit nie daarvoor nie, sou Afrikaans lankal van die toneel verdwyn het en ons as Afrikaners saam met hom. Immers is sy taal ’n volk se innigste kenmerk, sy steun en sy identiteit. En ons is op verre na nie klaar met die stryd om ons taal te behou nie. Juis in hierdie tegnologiese tydsgewrig is die eise aan ons, nie net om vernuf en aanpassing buite alle vorige perke te ontwikkel nie, maar ook om ons woordeskat genoegsaam uit te brei om alle behoeftes van die vakman te bevredig. As ’n taal lewendig wil bly, moet hy vir alle gedagtesuitinge toereikend wees.
Met ander woorde: Afrikaans moet gepráát word! Ons kinders moet hoor hoe ons as volwassenes ons taal met trots praat en hoe ons dit verryk met figuurlike taal. Jy kan nie lief raak vir iets of iemand wat jy nie ken nie.
My kollega sê die anderdag het haar matriekkind ná sy Afrikaanse vraestel vir haar gevra wie is Jan Alleman waaroor daar gevra word want dit het nêrens in die leesteks gestaan nie! Hoe moet ons kinders dit weet as ons nie meer só praat nie?
Hoe mooi is dit nie as iemand suiwer Afrikaans praat nie? Dit is heerlik om te luister na Chris Cameleon wat nie struikel en stotter oor sy woorde nie en wat nêrens ‘n Engelse woord in sy toespraak laat inglip nie. Net so kan ‘n mens aan Nataniël se lippe hang wanneer hy sy stories vertel – Afrikaans suiwer gepraat, humor en weemoed meesterlik verweef, fyn waarneming vermaaklik gedeel. Pure plesier!
Of jy 20 of 80 is, sekere riglyne geld vir spreektaal. In ‘n ou skoolhandboek van 1968 word die volgende wenke gegee:
- Praat duidelik en natuurlik. Wees jouself en en moenie jou dominee of onderwyser probeer wees nie.
- Wissel jou styl. Jy gaan nie met jou dominee op dieselfde manier praat as met jou vriende nie. En as jy oor ‘n rugby-of netbalwedstryd gesels, sal jou trant anders wees as wanneer jy oor ‘n tragiese gebeurtenis gesels.
- Praat altyd suiwer! Of jou gesprek nou ernstig, speels of verspot is, praat korrek en met smaak. Elke mens is minstens dit aan sy moedertaal verskuldig.
By bogenoemde laaste sin kan ‘n mens byvoeg: ook uit respek vir jou medemens…dié wat jou woorde moet aanhoor. Doen moeite met jou taal!
Al is Afrikaans 146 jaar oud, moet ons dit jonk hou in die mond van die spreker – bly vernuwend dink, maar moenie die woorde wat ons taal so mooi en uniek maak, ophou gebruik nie. Hoe lekker rol die woorde skaterlag, kiekies, potsierlik, piekfyn en fynproewer nie oor ons tong nie?! Gaan neem deel aan die Voortrekkermonument (in samewerking met Maroela Media) se kompetisie oor jou gunsteling Afrikaanse woorde en wen ‘n ontbytpiekniek vir vier mense op die Voortrekkermonument se dak – ‘n asemrowende uitsig wat andersins onbeskore is vir lede van die publiek.
Om ‘n stel verruklike Afrikaans Plakkate vir jou klaskamer te ontvang, besoek onderwysers.co.za en sluit aan by die SOS se Afrikaans Vakvereniging.