Afrikaans Letterkunde bevat etlike foute, maar matrieks is tevrede

Afrikaans Letterkunde bevat etlike foute, maar matrieks is tevrede

Behalwe ’n paar foute en ’n moeilike onvoorbereide gedig, is matrieks tevrede met die Afrikaans Letterkunde-vraestel wat Woensdag landswyd geskryf is.

“Daar was geen vreemde vrae of vangplekke nie. Die vraestel was op dieselfde standaard en het soms dieselfde gedigte bevat as vorige vraestelle,” sê Année van Staden, ’n matrikulant aan ’n hoërskool in Centurion. Danielle Bezuidenhout, nog ’n matrikulant aan dieselfde hoërskool, sê veral die poësie-afdeling se vrae was eenvoudig. “Net die ongesiene gedig, Bepeinsing, was nogal moeilik gewees. Die gedig het ook baie stapelvrae bevat, sodat jy klomp punte verloor as jy die gedig aanvanklik verkeerd interpreteer,” sê Bezuidenhout.
Marié Gräbe, taalspesialis verbonde aan die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Genootskap vir Regte Afrikaanse Taalonderwysers (GeRAT), sê vraestel twee was ’n “goed afgeronde” vraestel en het beide kennis én insig getoets. Sy het wel etlike foute in die vraestel identifiseer.

“Die woordtelling vir die opstelvraag oor die gedig Besoekersboek, verskil op die instruksieblad (tussen 250 en 300 woorde) en op die vraestel self (tussen 200 en 250 woorde). Omdat leerlinge gepenaliseer word tydens die nasien-proses indien hul opstelle die vereiste woordtelling oorskry, is kandidate se keuses beperk tot drie gedigte, eerder as vier.”

Sy wys ook daarop dat twee eenpunt-vrae in die poësie-afdeling presies dieselfde antwoord gehad het. “So iets kan tot twyfel oor die korrektheid van antwoorde lei,” sê Gräbe. “’n Vraag in die drama-afdeling verwys ook na ‘teks i’, terwyl die betrokke tekste slegs van K tot L gemerk is.”

Verskeie Afrikaanse onderwysers het ook by die SOS gekla dat leerlinge in sommige gevalle nie die vrae kon beantwoord op grond van gedeeltes van die voorgeskrewe teks wat in die vraestel verskaf is nie. Leerlinge moes dan staatmaak op hul geheue van die voorgeskrewe teks, om die antwoorde uit ander dele van die teks op te diep.

Dit is tog verblydend om te hoor dat kandidate met groot waardering oor hulle onderwysers praat, byvoorbeeld hoedat rympies en speletjies in die klaskamers (ook met die rugbyspan se voorry-kandidate) gebruik word om kernfeite in te skerp. Kandidate “hoor” hulle onderwysers se stemme terwyl hulle eksamen skryf. Letterkunde het ook “vlerke” gekry met intratekstuele verwysings na die film The Greatest Showman en die fratse in die voorgeskrewe drama, Mis (Reza de Wet).

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.