Dannielle Kleyn (17), ’n graad-elf leerder aan die Hoërskool Parel Vallei in die Wes-Kaap, is as die beste vroulike deelnemer aan die Pan-Afrika Wiskunde Olimpiade gekroon. Dit is boonop die tweede jaar in ’n ry wat sy dié uitsonderlike prestasie behaal.
Die Olimpiade het vanjaar tussen 31 Maart en 7 April in Muizenberg in die Wes-Kaap plaasgevind. Tydens die Olimpiade het 62 deelnemers vanaf 14 Afrika-lande, insluitend Botswana, Nigerië en Zimbabwe, twee Wiskunde vraestelle geskryf. Die vrae het gehandel oor Algebra, Meetkunde, Waarskynlikheid en Numeriese Teorie. Deelnemers moet jonger as 20 wees.
“Die vraestel handel nie oor die tipe wiskunde wat mens op skool doen nie. Dis baie moeiliker, maar ek het goed voorberei deur ou vraestelle deur te werk en oefenkampe by te woon,” sê Danielle. Sy het die beste van al die meisies in die vraestel gevaar en die vierde plek algeheel behaal. Verlede jaar het sy as gr.10-leerling dieselfde prestasie behaal.
Danielle moes boonop die toets in Engels aflê, hoewel sy sedert laerskool in Afrikaans skoolgaan. “Ek is nog altyd in die Afrikaanse baan by die skool, maar in die hoërskool word ons klasse in Afrikaans en Engels aangebied en ek maak dikwels notas in Engels,” sê Danielle. “Die oefenkampe wat ek bygewoon het ter voorbereiding op die Olimpiade was ook in Engels, so dit was nie vir my vreemd om die vraestel in Engels te skryf nie.”
Dr. Danie Brink, uitvoerende hoof van die Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê Danielle se puik prestasie is ’n bewys daarvan dat Afrikaanse leerders in staat is tot uitnemende akademiese prestasies in ander tale, mits die grondslag behoorlik in hul moedertaal vasgelê is. “Moedertaal onderrig, sowel as die hoë gehalte onderrig in Afrikaanse skole, stel Afrikaanse leerders in staat om groot hoogtes in Engels te bereik. Dit is dus nie nodig om ons kinders in Engelse skole te sit, omdat ons dink dit sal hulle ’n voorsprong in die werkplek of op universiteit gee nie,” sê Brink.
Danielle skryf haar goeie prestasie toe aan bekwame onderwysers en baie oefening. “In die weke voor die kompetisie het ek soms tot 12 ure ’n dag wiskunde gedoen.” Sy sê dit is belangrik om die prosesse in wiskunde te verstaan en te weet hoekom ’n probleem volgens ‘n bepaalde manier opgelos word, eerder as om die stappe meganies uit jou kop te leer. “Oefening is baie belangrik in Wiskunde. Hoe meer jy oefen, hoe beter sal jy die werk verstaan,” sê Danielle.
0 comments