Afrikaanse matrikulante vaar veel beter as hul Engelse eweknieë

Indien Afrikaanse skole se uitslae nie by die 2018-matriekuitslae gereken word nie, sou die departement van basiese onderwys die afgelope week met ’n veel laer slaagsyfer, minder wiskunde-onderskeidings en ’n kleiner persentasie universiteitsvrystellings kon spog.  Dit is een van die bevindings wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) in hul 2019-matriekverslag maak.

Die SOS het  Dinsdag sy jaarlikse matriekverslag by die Afrikaans Hoër Meisieskool in Pretoria bekendgestel. Dié organisasie stel sedert 2015 elke jaar ’n matriekverslag bekend, met ontledende data en kommentaar op die Nasionale Senior Sertifikaat se uitslae. Die doel van hierdie verslag is om ’n kritiese blik op die eksamenuitslae te werp, met spesifieke verwysing na die prestasie van Afrikaanse skole. Die verslag fokus veral op die uitslae vir Wiskunde, Wetenskap, Rekeningkunde en Afrikaans Huistaal.

Die verslag dui op kommerwekkende tensdense binne die nasionale onderwysstelsel, soos die klein persentasie leerlinge wat in 2007 met graad een begin het, en uiteindelik vanjaar matriek geslaag het. Dit dui ook op die afname in matrikulante wat welvaartvakke soos wiskunde en wetenskap neem.

Wat egter steeds verblydend is, is die uitnemende prestasie van Afrikaanse skole in Suid-Afrika. Vir die doeleindes van hierdie verslag, word Afrikaanse skole gedefinieer as enige skool wat Afrikaans as Huistaal aanbied.

Volgens die SOS se berekeninge, was die algehele slaagsyfer vir matrikulante in Afrikaanse skole verlede jaar 86,9%, teenoor die nasionale slaagsyfer van 78,2%. Sou Afrikaanse skole uit die vergelyking gelaat word, sou die nasionale slaagsyfer 76.7% gewees het. Die SOS kon ook vasstel dat enkelmedium Afrikaanse skole ’n slaagsyfer van 90% behaal het.

Afrikaanse skole het ook die volgende prestasies behaal:

  • Amper die helfte (49%) van Afrikaanse matrikulante het met universiteitsvrystelling geslaag, terwyl 31% (minder as ’n derde) van die nasionale aantal matrikulante kwalifiseer om aan ’n universiteit te studeer.
  • ’n Groter persentasie matrikulante in Afrikaanse skole het onderskeidings vir wiskunde behaal (7,5%), teenoor 1.9% van die nasionale groep matrikulante. Dit beteken vier keer meer matrikulante in Afrikaanse skole kry onderskeidings vir wiskunde, in vergelyking met die nasionale gemiddeld.
  • Tien uit die 20 skole wat die meeste onderskeidings tydens die 2018-matriekeksamen behaal het, is Afrikaanse skole. Die skool met die meeste onderskeidings in die land is die Afrikaans Hoër Meisieskool, met ’n totaal van 775 onderskeidings. Dit is gemiddeld 3,5 onderskeidings per leerling.
  • Al 20 skole wat die meeste onderskeidings, sowel as die meeste onderskeidings per leerder vir Afrikaans Huistaal behaal het, is Afrikaanse skole.
  • Paul Roos Gimnasium het die meeste onderskeidings vir Wiskunde en Rekeningkunde van al die skole in die land behaal.
  • Die Hoërskool Waterkloof het die meeste onderskeidings vir Fisiese Wetenskappe van skole landswyd behaal.

 

Die SOS is van mening dat Afrikaanse skole se sukses nog altyd te danke is aan gehalte moedertaalonderrig, uitstekende onderwysers én ’n kultuur van uitnemendheid. Moedertaal is onontbeerlik vir uitnemende onderrig en kultuuroordrag is belangrik om die waardes te vestig wat lewenslange sukses verseker.

Internasionale navorsing, waaronder UNESCO se Global education monitoring report (2016), bevestig dat moedertaal onderrig deur die bank ’n positiewe impak op leer het.

Ten spyte van beperkte staatsbefondsing, toenemende staatsinmenging en politieke druk om te verengels, is Afrikaanse skole steeds eilande van uitnemendheid waar leerders se matrieksertifikaat ’n grondige bousteen op hul loopbaanpad vorm.

 

Vir verdere navrae kontak Elaine Krige by [email protected] of 072 599 7354.

 

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.