Afrikaanse onderwys moet ook voordeel trek uit reuse- onderwysbegroting

2022-04-04

“Die tyd het nou werklik aangebreek dat Afrikaanse onderrig in skole sterk (en regmatige) ondersteuning uit die onderwysbegroting kry, veral gesien in die lig van die goeie slaagsyfer van Afrikaanse leerders in verlede jaar se matriekeindeksamen.”

Só sê Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter van die DAK Netwerk, wat onder meer fokus op die behoud en uitbouing van Afrikaanse onderrig, veral in agtergestelde gemeenskappe waar die inwoners meestal Afrikaanssprekend is.

Die minister van finansies, Enoch Godongwana, het op 23 Februarie tydens die nasionale begrotingsrede aangekondig dat R441,5 biljoen aan leer en kultuur toegewys word, met basiese onderwys wat die leeueaandeel van R282,8 biljoen ontvang.

“Ons hoop die nuwe begroting word werklik konstruktief vir onderwys aangewend en dat Afrikaanse skole direk daarby sal baat vind. Ons is nou moeg vir praatjies en beloftes sonder implementering. Die slaagsyfer wat Angie Motshekga (minister van basiese onderwys) selektief inspan om die nasionale departement van onderwys goed te laat lyk maak nie melding van die groot getalle leerders wat in die hoërskool heeltemal uitval nie. Daar is natuurlik ook Afrikaanse leerders onder diegene wat nie graad 12 voltooi nie, maar oor die algemeen het Afrikaanse leerders uitstekend gevaar in verlede jaar se matriekeindeksamen – beter as ander leerders in nasionale skole,” sê Van Wyk.

Dit is een van die bevindinge wat vroeër vandeesmaand deur die DAK Netwerk by twee gespreksgeleenthede in Pretoria en op Stellenbosch bespreek is. Ander deelnemers aan die seminare was die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie, die Skole-ondersteuningsentrum van Solidariteit, Fedsas, die Moedertaalinisiatief en die Afrikaanse Taalraad. Die voordelige gebruik van Afrikaans as onderrigtaal blyk ook daaruit dat die matriekslaagsyfers in nasionale skole sowat 76% was, terwyl dit in Afrikaanse skole 84,9% beloop het. Afrikaanse skole slaag steeds daarin om ’n slaagsyfer van meer as 80% te handhaaf. In 2021 was die nasionale skole se slaagsyfer slegs 0,2% hoër as in 2020, terwyl die slaagsyfer in Afrikaanse skole met 2,7% verbeter het.

Volgens Van Wyk is dit ook goeie nuus dat heelwat van die Afrikaanse skole met goeie slaagsyfers in oorwegend bruin gemeenskappe is. Hy het beklemtoon dat die DAK Netwerk fokus op die belange van agtergestelde Afrikaanssprekendes, en dat hulle nie verder moet terugsak nie. Die voordele van moedertaalonderrig is werklik nie meer nuut nie, maar is net weer deur die uitslae bevestig.

Van Wyk sê hoewel die syfers wys dat Afrikaanse leerders relatief goed vaar in die matriekeindeksamen, is dit steeds kommerwekkend dat soveel leerders in die hoërskool uitsak en nie die finale eksamen aflê nie. “Ons het reeds in verskeie gevalle bepaal dat die feit dat talle leerders nie in hulle huistaal onderrig ontvang nie, deel is van hierdie probleem. Ons het pas Internasionale Moedertaaldag gevier, wat ons weer eens daarop gewys het dat moedertaalonderrig van kardinale belang is vir optimale vordering deur leerders.”

“Hier in die Wes-Kaap, by Rosendal Senior Sekondêr in Delft, het die ingryping van die skoolhoof, wat ’n ommeswaai in die taalbeleid van die skool na Afrikaans as onderrigtaal bewerkstellig het, daartoe gelei dat die slaagsyfer aan die einde van verlede jaar met 20% gestyg het,” vertel Van Wyk.

Dit het ook gebeur by ’n skool in Eersterivier, waar die hoof ook instrumenteel was om Afrikaans as onderrigtaal in te stel, met ’n gevolglike styging in die slaagsyfer van leerders.

“Op Oudtshoorn het die ouergemeenskap van Bongolethu Primary School besluit Afrikaans moet ook as vak aangebied word omdat die leerders daarna na ’n hoërskool kan gaan waar Afrikaans ook die voertaal is. Daar is selfs ’n nuwe Afrikaanse skool, Hoërskool Protea, op die dorp gestig omdat die Hoërskool Oudtshoorn, wat aanvanklik ’n Afrikaansmediumskool was, se demografie verander het weens ’n toename in leerdergetalle van kinders wie se ouers aan die plaaslike weermagbasis verbonde is.

“Wat hierdie voorbeelde bewys, is dat indien die gemeenskap se huistaal Afrikaans is, dit van kardinale belang is om ook Afrikaans as onderrigtaal te gebruik. In die Wes-Kaap is bykans 50% van die leerders Afrikaanssprekend – ’n totaal van 0,6 miljoen. In Gauteng is net 12% van alle hoërskoolleerders Afrikaanssprekend.

“In die geheel gesien is daar groot druk op die aanbod van Afrikaans in ons skole. Op Kroonstad het twee Afrikaanse skole wat te klein geword het weens die daling in getalle saamgesmelt en ’n gesamentlike Afrikaanse skool gevorm. Dit is ’n gebruik wat ook tot voordeel van die departement van onderwys aangewend kan word, aangesien daar in die proses ’n ruimte beskikbaar gestel word om nog meer leerders te huisves. Met die nuwe, uitgebreide begroting behoort dit goeie aanklank by die departement van onderwys te vind,” meen Van Wyk.

Op tersiêre vlak groei die belangstelling in Afrikaans ook deurgaans en by die Universiteit van Wes-Kaapland is daar ’n beduidende toename in studente in die departement van Afrikaans en Nederlands en opvoedkunde, waar Afrikaanse studente in Afrikaans voor- en nagraadse kursusse volg.

Die DAK Netwerk is nog in gesprek met die Universiteit van Stellenbosch om die aanbod van Afrikaans daar te behou en sal voortgaan om deur verskillende prosesse druk op die owerhede uit te oefen om Afrikaans ’n regmatige plek te gee in ’n provinsie waar Afrikaans die meerderheidstaal is.

“Die toekoms oor die medium- tot langtermyn van Afrikaans in die onderwys sal bepaal word deur aanvaarding daarvan dat die heel beste gehalte onderwys deur Afrikaans as taal van leer en onderrig (TLO) beskikbaar is aan diegene wat dit verkies en waarskynlik Afrikaans as moedertaal gebruik. Ná die begrotingsrede is daar nou die geleentheid om ook aan Afrikaans ’n welverdiende plek in Suid-Afrika se onderwysstelsel te gee,” sê Van Wyk.

Uitgereik deur die DAK Netwerk (via Lemonade Hub)

Afrikaanse onderwys moet ook voordeel trek uit reuse- onderwysbegroting

Verdere inligting:

Danie van Wyk, uitvoerende voorsitter: 063 502 0879 of [email protected]

Die artikel het oorspronklik op Afrikaans.com verskyn. Lees dit gerus hier: https://afrikaans.com/2022/02/25/afrikaanse-onderwys-moet-ook-voordeel-trek-uit-reuse-onderwysbegroting/

Gesels met ons