Akademia gaan in 2021 met ’n voltydse kampusmodel in Centurion begin. Die kampus gaan spesifiek op skoolverlaters fokus. Nege grade gaan in die Bestuurswetenskappe, Geesteswetenskappe, Opvoedkunde en Regsgeleerdheid aangebied word.
“Die gemeenskap se behoefte aan ʼn Afrikaanse kampus waar studente ook voltyds op ʼn vriendelike en veilige kampus kan studeer, het die afgelope tyd drasties toegeneem,” sê Marthinus Visser, besturende direkteur van Akademia.
Die nuwe voltydse kampusaanbod is ’n groot aanvulling tot die reeds suksesvolle nauurse model wat van gevorderde tegnologie gebruik maak om klasse by sentrums regoor Suid-Afrika aan te bied.
Die kampus word ingerig met ʼn kafeteria, kliëntedienssentrum, ʼn biblioteek, asook verskeie studente-ondersteuningsinisiatiewe. Studente in hierdie model gaan ook deelneem aan ʼn omvattende studentelewe. Die nuwe eerstejaars gaan baanbrekers in die vestiging van nuwe kampustradisies wees.
“Akademia se voltydse kampusaanbod is ʼn reusedeurbraak vir Afrikaans. Waar ander universiteite Afrikaans uitfaseer, brei Akademia sy aanbod, in Afrikaans, net verder uit. Dit gaan egter nie net oor Afrikaans nie, maar ook positiewe waardeoordrag en ʼn gesonde studentelewe en sommer net pret. Akademia se Christelike grondslag vind neerslag in die akademie en algemene opvoeding. Die tyd van inperking het die krag van tegnologie na vore gebring, maar ook die behoefte om kontak met mense te hê,” sê dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van die Solidariteit Beweging en direksielid van Akademia.
Volgens die akademiese hoof van Akademia, professor Danie Goosen, volg universiteite wat vandag by die klassieke universiteitsmodel aansluit ʼn dubbele benadering in hul dosering. “In ons hipertegnologiese era geskied dosering die beste wanneer dit deur direkte kontak tussen dosente en studente sowel as deur tegnologies bemiddelde ondersteuning en hulpbronne geskied.” Hy meen dat beide die direkte en die tegnologiese aspekte belangrik is vir Akademia.
Akademia het ook aangekondig dat sy hoëtegnologie-aanbod verder uitgebrei word. Terselfdertyd beplan Akademia ook om ʼn splinternuwe kampus te bou wat 5 000 voorgraadse en 1 000 nagraadse studente gaan huisves.
Vir meer inligting oor die nuwe Akademia-kampus in Centurion asook besonderhede oor die graadkursusse wat aangebied gaan word, besoek gerus:
Terwyl ons die visionêre leiers van die GRA uit 1875 eer, staan GeRAT vandag as ‘n simbool van daardie erfenis, waar ons passie vir Afrikaans en sy kultuur voortduur. Deur op hierdie geskiedenis te bou, aanvaar ons die plig om die hart van Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te versterk en, 145 jaar later, bly ons standvastig en toegewyd aan die taal en kultuur wat ons so liefhet.
0 comments