Tegnologie kan kinders se leer-ervaring verryk en onderwysers se werk vergemaklik. Daar bestaan ’n reeks apps wat leerders kan help om die Wetenskap-wêreld te verken en beter te verstaan. Hier is vier van ons gunsteling apps.
Quiver: Hierdie werk veral goed vir laer grade waar kinders die verskil tussen die plantsel en die diersel moet ken. Dis ‘n VR-toepassing (Virtual reality) en dit bied aan leerders die geleentheid om die selle in 3D te “sien”.
Graphical Analysis 4 is ‘n app wat gebruik kan word om grafieke soos temperatuurkurwes te trek asook grafieke van vertikale projektielbeweging op te trek. Dis uitmuntend maar moet saam met Vernier-apparate soos ’n temperatuursensor of bewegingsensor gebruik word.
Die Vibration Analysis is nie spesifiek vir Wetenskap geskryf nie, maar kan baie nuttig aangewend word wanneer golfbeweging bestudeer word. Hierdie toepassing laat jou toe om die gereeldheid van vibrasies en ook die spoed van beweging van byvoorbeeld ’n waaier te meet.
My absolute gunsteling is Google se Science Journal. Hierdie app is geskryf vir beide iOS en Android-platforms en is iets wat almal in die Wetenskapklas kan gebruik. Dit maak gebruik van jou slimfoon se ingeboude bewegingsensors. Jy kan hierdie sensor via Science Journal app bereik. Dit kan gebruik word om byvoorbeeld versnelling te bepaal vir Newton se 2de bewegingswet. Daar is ook ‘n ligsensor (net vir Android-fone) wat gebruik kan word om die tempo van chemiese reaksies te meet. Dit gee jou ook toegang tot Sciencebuddies en ander portale waar daar legio eksperimente vir nuuskierige agies is om uit te voer. Al jou data kan op die app vasgevang word en jy kan tot selfs foto’s neem!
Hierdie is maar net ’n paar van die handige apps wat jy as onderwyser kan gebruik om jou les te verryk. Hier is nog ’n paar webtuistes waar jy kan gaan loer vir oulike toepassings vir die klaskamer:
https://www.parents.com/kids/education/math-and-science/10-best-science-apps-for-kids/
https://www.thetechedvocate.org/17-best-science-apps-elementary-school-students/