Balans as sleutel tot die geskiedenis

2020-02-21

deur dr. Jurie Joubert, Onderwyskundige

Dr. Danie Langer doen in sy onlangse artikel ‘n beroep op ‘n gebalanseerde kurrikulum. Ek wil graag met ‘n artikelreeks so ‘n gebalanseerde kurrikulum nie net vanuit ‘n opvoedkundige hoek regverdig nie, maar ook ’n paar denkprosesse identifiseer wat goeie Geskiedenisonderrig help kweek. NP van Wyk Louw het immers gesê dat dit is ons plig om ons kinders vry en objektief te laat dink.

In hierdie eerste van drie artikels kyk ek na “die waarheid” as sleutel tot geskiedenis. Die tweede artikel brei hierop uit, gee ‘n kykie op Geskiedenis as vak en watter invloed dit op ons samelewing het. In die derde artikel gee ek riglyne hoe om Geskiedenis te suiwer van ideologie en indoktrinasie – die enigste manier om Geskiedenis tot sy reg te laat kom.

Balans as sleutel

Met ‘n vak soos Geskiedenis moet ons altyd soek na die waarheid. Walter Cronkite help ons met ‘n eenvoudige beginsel om dit te bereik: “In seeking truth you have to get both sides of the story“.

Dit gebeur egter dat ideologies gedrewe inhoud en eensydige menings soms neerslag vind in skoolhandboeke. ‘n Goeie voorbeeld is die ANC-regering se oorvereenvoudiging van ‘n diverse en komplekse geskiedenis van Suid-Afrika tot ‘n eensydige meesterverhaal waarin apartheid die hoofrol speel – met die Afrikaner in die beskuldigdebank.

Om leerders wat Geskiedenis neem te help om kurrikulum-inhoud krities te beoordeel, moet ons eers gaan stilstaan by die begrip “waarheid”.

Hoe WAAR is die WAARHEID?

Die geskiedkundige Leopold Scholtz verduidelik die begrip “waarheid” aan die hand van die volgende analogie:

Tafelberg is Tafelberg, massief, vierkantig, onveranderlik – nes die waarheid. Die waarheid is immers die waarheid, nie waar nie? Maar Tafelberg lyk nie altyd dieselfde as jy hom van Melkbosstrand se kant bekyk of van Wynberg of Nuweland se kant af nie.

Tafelberg: Hier sien ons hoe die waarheid van Tafelberg by verskillende kunstenaars verskil.

Die berg is nog herkenbaar as jy weet dit is Tafelberg, maar ’n totale vreemdeling sal moeite hê om hom korrek te eien. Die waarheid is ook so: Twee plus twee is áltyd vier, en Tafelberg is áltyd Tafelberg.

Die waarheid is áltyd die waarheid, maar ons kan ook vra: Hoe WAAR is die WAARHEID?

Geskiedkundige onwaarhede strek verder as die mure van die skool

Om die naakte waarheid te identifiseer, is vandag nie altyd ’n maklike taak nie. Ons leef in ‘n tyd van kitswaarhede en dit word al hoe moeiliker om die waarheid te vind tussen wat gesê word, of nie gesê word nie. Hoofstroommedia – in die vorm van televisie en koerante – is soms die sondebok om feite buite konteks aan te haal, maar ook sosiale media en die internet bevat soms valse inligting wat moeilik geverifieer kan word.

Dit is dus nie so vreemd dat ongetoetste “waarhede” gereeld in die klaskamer beland nie – selfs deur die onderwyser se toedoen. Leerders aanvaar dan die sogenaamde “waarhede” en so gebeur dit dat ongetoetste waarhede met verloop van tyd deursypel na die samelewing, waar paradigmas geslyp word en tradisies, godsdiens en lewenshoudings gevorm word.

Die vraag “wat is die waarheid?” staan dus sentraal in die vak Geskiedenis.

In die volgende artikel in die reeks kyk ons na die huidige stand van sake in Suid-Afrikaanse skole.

Bronne

Blyth, J : History in Primary Schools, Philadephia, 1995

De La Paz, S Reading, thinking and writing about history, London, 2014 Fines, J: Teaching history, Edinburgh,1997

Grant, S.G.: Teaching history with Big Ideas, Toronto, 2010

Mandall, N: Thinking like a historian, Wisconsin, 2007

Seixas, P: The big six – Historical thinking concepts, 2013

Trumpelmann, M.H: Kreatiewe geskiedenisonderrig, Pretoria, 1983

Van Jaarsveld, F.A.: Moderne geskiedskrywing, Pretoria, 1988

Wineburg, S: Historical thinking, Philadelphia, 2001

Wineburg, S: Reading like a historian New York, 2013


Ontvang ons nuusbrief

En bly op die voorpunt van onderwys in Afrikaans
  • This field is for validation purposes and should be left unchanged.

Gesels met ons