Afrikaanse onderwysplatform internasionaal bekroon

Die Wolkskool is onlangs aangewys as wenner van die “Oplossings vir Inhoudsverskaffing”-kategorie by die gesogte internasionale EdTech “Cool Tool”-toekennings. EdTech vereer individue en instellings wêreldwyd vir uitstaande bydraes om onderwys deur tegnologie te verbeter en die lewens van leerders te verryk.

Die Wolkskool is ‘n aanlyn leerbestuursplatform, wat duisende videolesse, werkkaarte en assesserings vir laerskool- en hoërskoolvakke bied, in Afrikaans. Deur van gevorderde tegnologie gebruik te maak, stel Die Wolkskool leerders in staat om hul akademiese prestasie te verbeter, ongeag tyd of plek. Die platform is ideaal is vir hersiening van werk, ekstra klasse, asook voorbereiding vir klasse in ʼn Omgekeerde Klaskamermodel.

Die Wolkskool is ook as finalis aangewys in die volgende kategorieë:

  • Kurrikulum en instruksie-oplossing
  • E-leer, gemengde, omgekeerde of afstand-oplossing
  • Leerbestuurstelsel-oplossing
  • Lesbeplanning-oplossing
  • Nuwe produk of diens (vrygestel in 2020 of later)
  • Hulpbronne/ander behulpsame webtuistes of hulpmiddel vir onderwys
  • Toets-voorbereiding-oplossing.

Die Wolkskool se KABV (CAPS)-belynde inhoud word deur meesteronderwysers ontwikkel. Verslae is geredelik beskikbaar om leerders se vordering te monitor. Dit verseker dat leerders teen hulle eie pas kan leer, terwyl onderwysers en ouers op hoogte gehou word van hul vordering.

“Tegnologie maak onderwys-oplossings moontlik wat in die verlede ondenkbaar was. Ons is ongelooflik trots op hierdie toekenning. Dit is ʼn weerspieëling van die harde werk en toewyding van Die Wolkskoolspan,” sê Valentyn van der Merwe, hoof van Innovasie by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). “Ons strewe na uitnemendheid en die positiewe terugvoer van ons gebruikersgemeenskap inspireer ons om steeds meer innoverende oplossings te ontwikkel in die toekoms.”

Vir meer inligting oor Die Wolkskool, besoek wolkskool.co.za.


Tags

Afrikaanse skole, EdTech, SOS, Wolkskool


Lees meer...