BELA-wetgewing gaan nie toegang tot gehalteonderrig verseker nie

Die kernprobleem van onderwys in Suid-Afrika is nie een van toegang nie, maar veel eerder een van toegang tot gehalteonderrig wat suksesvolle uitkomste verseker.

“Die voorgestelde BELA-wetsontwerp is daarop gemik om die minder as 5% oorblywende Afrikaanse skole te dwing om te verengels. Die wetsontwerp sal uitnemende moedertaalskole vernietig sonder om die kernprobleem van ‘n tekort aan goeie skole op te los,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). “Ons sien reeds dat die getal Afrikaanse skole wat die NSS in 2023 geskryf het, afgeneem het van 686 in 2021 tot 555 in 2023. Die gemiddelde getal kandidate per skool het egter toegeneem tot 124. Dit is aansienlik hoër as die nasionale gemiddelde van 101 kandidate per skool.”

Die SOS het Donderdag, saam met verskeie ander rolspelers, die geleentheid gehad om verdere mondelingse voorleggings oor die voorgestelde BELA-wetgewing te maak aan die Nasionale Raad van Provinsies.

Internasionale navorsing wys daarop dat die kwaliteit van ‘n onderwysstelsel nie die kwaliteit van sy onderwysers kan oorskry nie (McKinsey-verslag). Dit beklemtoon die kritieke rol wat bekwaamheid en toewyding van onderwysers speel in die vorming van ‘n doeltreffende onderwysomgewing. Die uitdaging lê nie bloot in die verkryging van toegang tot onderwys nie, maar in die onderwysstelsel se kapasiteit om leerders te ontwikkel wat suksesvol, goed-opgelei, en ten volle gereed is vir ʼn veranderende wêreld.

Fourie sê die aanvaarding van die voorgestelde BELA-wetswysigings sal ‘n daling in gemeenskapsbetrokkenheid meebring. “Die mag om besluite oor skoolbeleide te maak sal dan by departementele beamptes lê en nie by die gemeenskap self nie. Internasionaal sien ons dat daar in suksesvolle onderwysstelsels meer besluitnemingsbevoegdhede na die skoolvlak oorgedra word, selfs al word skole deur die staat gefinansier.” Deur gemeenskappe te bemagtig om verantwoordelikheid vir hul skole te neem, bevorder dit nie net ‘n kultuur van aanspreeklikheid nie, maar ook van gemeenskapsbetrokkenheid en -eienaarskap oor onderwysuitkomste.

Die SOS dring aan op die volledige onttrekking van die voorgestelde wetgewing en eis dat dit teruggestuur word vir ‘n deeglike heroorweging en opdatering. Die SOS glo dat ‘n proses wat die insette en perspektiewe van alle belanghebbendes in ag neem, noodsaaklik is om ʼn gebalanseerde en effektiewe raamwerk te ontwikkel wat nie net onderwysuitdagings aanspreek nie, maar ook die grondslag sal lê vir ‘n meer robuuste en toeganklike onderwysstelsel in Suid-Afrika.


Tags

Afrikaanse skole, BELA, SOS


Lees meer...