Verskeie stappe is die afgelope paar maande gedoen om te verseker dat die 2019-matriekeksamen vir Besigheidstudies nie dieselfde beroerde uitslae lewer as in 2018 nie. Volgens inligting wat die Skoleondersteuningsentrum (SOS) ontvang het, het die Departement van Basiese Onderwys verskeie maatreëls in plek gestel om ’n herhaling van die 2018-matriekuitslae vir Besigheidstudies te voorkom.
Die SOS het Woensdag Besigheidstudies-onderwysers in Centurion toegespreek om terugvoer te gee rakende vordering wat gemaak is met betrekking tot die Besigheidstudies-uitslae. Onderwysers het ook wenke ontvang oor hoe om voor te berei vir die 2019-eindeksamen.
Die SOS het die DBO in Januarie genader, nadat verskeie klagtes oor die uitslae vir die 2018 Besigheidstudies-eindeksamen ontvang is. Van die land se top skole het skielik talle druipelinge gehad en leerders wat gewoonlik onderskeidings behaal, het hul beurse of universiteitskeuring verbeur, weens power Besigheidstudies-uitslae.
Die SOS het ’n ondersoek gevra na die saamstel en merk van die Besigheidstudies-vraestel. Die DBO se interne ondersoek het egter geen van die SOS se bekommernisse aangespreek of kern vrae rondom die vraestel en merkproses beantwoord nie.
Intussen het die SOS se eie ondersoek bevind dat sowat 80% van die vraestel woord vir woord met die departementele hulpgids Mind The Gap ooreenstem. Hierdie hulpgids was slegs in Engels en aan Graad 12-leerders in onderpresterende skole beskikbaar gestel. Gevolglik het die SOS ’n onderwyser van Noordwes ingespan om Mind The Gap vir Besigheidstudies in Afrikaans te vertaal. Die SOS het Woensdag gratis kopieë van Mind The Gap beskikbaar gestel aan onderwysers wat die seminaar bygewoon het. Dit is ook beskikbaar op die SOS se webtuiste aan lede van die Afrikaanse Handelsvakvereniging.
Vordering is ook sedert Januarie gemaak met betrekking tot die merkproses van die NSS-eksamen en die opstel en moderering van die Besigheidstudies-vraestel. Daryl Franks, Hoof van Oakridge College in Durban, het verskeie vergaderings met amptenare van Umalusi en die DBO belê, nadat net drie van sy 80 matrikulante wat Besigheidstudies in 2018 geskryf het, geslaag het. Volgens Franks het ’n senior beampte van die departement van onderwys hom vertroulik verseker dat die departementele eksamenpaneel verantwoordelik vir Besigheidstudies vanjaar ontbind is en dat ’n nuwe paneel aangestel om toesig te hou oor die 2019-matriekeksamen vir dié vak. “Die proses waarvolgens onderwysers aansoek doen om die eindeksamen te merk, is ook aansienlik aangepas om te verseker dat bevoegde, gekwalifiseerde en ervare onderwysers as merkers aangestel word,” sê Franks. Onderwysers moet nou ten minste drie jaar ervaring in die onderrig van Besigheidstudies hê en moet vaardig wees in die taal wat hulle merk. Volgens Franks was baie van die merkers wat in 2018 gemerk het, nie Besigheidstudies-onderwysers nie en kon nie die taal waarin hulle gemerk het, behoorlik verstaan nie. Hugo Vermeulen, hoof van Opleiding aan die SOS, sê dit is bewys dat die DBO besef daar was fout met die 2018-eindeksamen, al sal hulle dit nie openlik erken nie.
Umalusi het boonop beloof om die SOS binne die volgende paar weke ’n vergadering toe te staan met Dr. Mafu Rakometsi, die hoof van Umalusi, om bogenoemde klagtes en die pad vorentoe te bespreek en te verseker dat die geskiedenis homself nie herhaal nie.
*Die SOS is bewus van probleme met die memorandum en vertaling van die 2019-rekordeksamen vir Besigheidstudies wat Gautengse leerders Maandag geskryf het. Ons sal dié probleem ook ondersoek.
11 September 2019
Deur Elaine Krige, Skakelbeampte: SOS
0 comments