deur Charlotte Fourie
Wolkskooldosent
Op ’n koue nag in 1969 het ’n jong onderwyser (en toekomstige ontvanger van die 1998-toekenning vir Uitnemendheid in Opvoedkunde), Kevin Albert Ryan, ’n plan vir die onderwys soos dit in 1993 moet lyk, op papier verewig.
As antwoord op die vraag oor hoekom die onderwys moet verander, het hy soos volg met sy brief begin: “Opvoeders vandag (1969) het die verantwoordelikheid om die onderwysprofessie te vorm. Oor vyf-en-twintig jaar gaan die onderwys in die hande van ons kinders wees. Daar is geen twyfel dat ons visie, of tekort aan een, diepgaande gevolge sal hê nie.”
Kevin het sy boodskap opgerol, in ’n bottel gebêre, die bottel geseël en dit ver in die donker waters van hoop gegooi, sy hart rustig en vol vertroue dat ’n groep doeners dit binnekort sal oopbreek, dit sal lees en die asem van die lewe daarin sal blaas.
Die bottel met Kevin se boodskap, steeds dig geseël, het 52 jaar later via die Mary Lou Fulton Onderwyserkollege in die VSA en die onlangse verspoelings van die besoedelde Hennopsrivier, op die sypaadjie van Von Willichlaan in Die Hoewes, Centurion, beland, waar ek per ongeluk daarop getrap het.
My voet het gebloei, maar dit was niks in vergelyking met die pynlike deurboring van my onderwyshart nie: buiten ’n handjievol nuwe skole in die VSA, het Kevin se boodskap nooit die bottel waarin dit geseël was, verlaat nie.
Kevin, jy sê in jou brief dat dinge moet verander. Hoe het die skoolstelsel dan in 1969 gelyk?
Kevin beskryf die skole van sy jong onderwysdae as ’n monteerlyn: ’n reeks werkers en masjiene in ’n gesegmenteerde fabriek waardeur ’n opeenvolging van identiese items progressief volgens ’n vasgestelde plan, rooster en klok geproduseer word.
Hy beskryf hierdie stelsel as ontmenslikend, omdat een helfte van die 1969-leerders verveeld is met die gestruktureerde teoretiese inhoud en die stadige pas van leer, terwyl die ander helfte heeltemal van die monteerband afval en net daar langs die produksielyn gelos word.
Hy vertel verder dat sy huidige skoolstelsel “leer” en “speel” in twee aparte boksies plaas: jy leer by die skool en jy speel by die huis. Hy vertel hoe liggaamlike opvoeding en blootstelling aan die kunste uit die akademie geruk is en net vir sommige talentvolles buite onderrigtyd beskore is. Hy verduidelik die rol van die onderwyser as die persoon met die monopolie van inligting: ’n verspreider van inligting, ’n drilinstrukteur, ’n tugmeester, ’n verslaggewer en ’n gradeerder.
Ek het op hierdie stadium Kevin se gekrulde briefie (effens verdof van ouderdom, maar steeds duidelik leesbaar) ’n paar keer in my hand omgedraai net om seker te maak dat dit werklik uit die 1960’s kom en nie dalk in 2021 geskryf is nie.
Kevin, wat is jou droom vir die onderwys in 1993?
Kevin verduidelik dat hy nie noodwendig weet hoe die skool van 1993 aan die buitekant gaan lyk nie, maar dat dit meer saak maak hoe die skool van 1993 aan die binnekant moet lyk. Hy voorsien ’n skool met baie meer oop ruimtes waarin leerders vrylik kan beweeg en leer, en dat onderwys nie iets is wat aan ’n leerder toegedien word nie. Hy droom van die verval van skole se statiese strukture wat die ontwikkeling van leervaardighede beperk. Hy beskryf ’n skool waar die kind se nuuskierigheid en leergierigheid die botoon voer en deur alle rolspelers gekoester word.
Hy pleit vir ’n skool waar die leerder se dag uit ’n reeks natuurlike en ryke leerervarings bestaan.
Kevin voorspel verder dat moderne tegnologie dit sal moontlik maak dat leerders bykomende tale in gesprekke met leerders in ander lande leer, eerder as by ’n onderwyser, en waar hulle die wêreld se kulture in ander lande beleef eerder as om net daarvan lees. Hy hoop dat tegnologie dit sal moontlik maak dat leerders alle inligting op rekenaars kan kry en dat onderwysers se rol is om van die dele ’n geheel te maak.
Hy voorspel ook dat leerders meestal in groepe saam sal werk terwyl hulle deurlopend selfgerig sal leer. Kevin skryf (en ek hoor die wanhoop in sy brief): “Selfgerigte leer is soos wêreldvrede; almal wil dit graag hê, maar niemand kan dit ’n realiteit maak nie.”
Kevin, hoe kan mens dit regkry?
Ten spyte van die rowwe see wat tussen die onderwys in 1969 en die ideale skool van 1993 staan, stel Kevin ’n paar planne voor om sy droom te verwesenlik:
- Verander die beroepswêreld van die onderwyser deur onder andere ’n loopbaanpad vir onderwysers te ontwerp. Die eerste en die 3 000ste dag in die onderwys moenie dieselfde lyk nie. Duideliker gestel: moenie van ’n 21-jarige onderwyser verwag om alles in sy eerste jaar te kan doen nie, en moenie van die 60-jarige onderwyser verwag om dieselfde vir 40 jaar lank te doen nie.
- Verander die onderwys. Verandering is die enigste konstante in ons wêreld. Kevin haal vir McGeorge Bundy aan: “We are in a grave and deepening crisis in public education. The burden of proof is not on those who urge change. The burden of proof is on those who do not urge change.”
Kevin, jy laat die verandering so maklik klink. Hoekom kon ons na 52 jaar nie lewe in jou drome blaas nie?
“Daar is iets uitdagends daaraan om mense op te voed. Hulle raak onvergenoegd met die gewone, krities oor die onvolmaakte, ontwikkel nuwe smake en soek nuwe alternatiewe. Ek reken hoe meer ons opvoed, hoe meer gaan mense aandring op eg menslike opvoeding binne ’n lewensgetroue omgewing.”
Die bottel wat Kevin se boodskap vir dekades lank toegesluit het, lê steeds in onherstelbare stukke op ’n sypaadjie in Centurion, maar sy brief is nou opgeplak waar doeners dit kan lees. Gaan ons hierdie keer luister?
Bron: The Teacher and His Staff: Differentiating Teaching Roles, 1969
Hierdie artikel verskyn ook in Maroela Media by https://maroelamedia.co.za/leefstyl/ouerskap/blik-op-toekoms-van-onderwys-met-kevin-albert-ryan/
0 comments