fbpx

Praktiese raad vir onderwysers om boeliegedrag te verhoed

Afknouery of boeliegedrag word deesdae as ’n algemene probleem in skole gesien en daar is ’n groeiende besef van veral die kuberafknouery van leerders. Bewusmaking deur aktiviste en regskenners oor die gevare van sosiale media is ook aan die toeneem.

Onderwysers kan ʼn aktiewe rol speel om boeliegedrag by die skool te verhoed.

  1. Gee dit ‘n naam

Ons lewe in ʼn tyd waar almal graag slagoffer speel. Alhoewel daar baie gevalle is waar afknouery wel plaasvind, is dit goed om leerders van jongs af te leer wat afknouery is sodat hulle kan onderskei tussen iemand wat afknou en iemand wat bloot net ʼn slegte dag beleef en dus slegte keuses maak.

Volgens Theresa Van Den Berg, opvoedkundige sielkundige vind afknouery plaas wanneer iemand herhalend deur ’n ander afgeknou of afgebreek word met die doel om die persoon seer te maak of skade aan te rig. Boelies kan ander emosioneel, geestelik, sosiaal en fisies afknou. ’n Boelie kan iemand dreig, verkleineer, beledig of fisies seermaak, maar hulle kan ook gerugte, boodskappe en foto’s versprei wat vir ander ’n verleentheid is en hul skade berokken. Daar word dikwels ook misbruik gemaak van magsposisies soos sosiale posisie, ouderdom of die fisiese grootte van die betrokke persoon.

2. Maak ʼn lys

Elke klaskamer behoort ʼn veilige hawe vir leerders te wees en jy kan boeliegedrag hokslaan voor dit kop uitsteek. Sit  ʼn lys van aanvaarbare en onaanvaarbare gedrag in jou klas op waar leerders te gereeld kan sien. Maak seker elke leerder verstaan die lys en gesels gereeld oor die inhoud daarvan.

3. Wees ferm en konsekwent

Wees resoluut oor die handhawing van jou klasreëls. Die eerste keer wat jy ʼn leerder se onaanvaarbare gedrag laat deurglip, maak jy die stryd vir jouself moeiliker. Moenie anderpad kyk wanneer jy ʼn leerder sien wat geboelie word nie en spreek eerder dadelik leerders aan wat onaanvaarbare gedrag toon.

4. Sien die tekens raak

Navorsing het bewys dat daar sekere gedrag is wat dikwels die begin van boeliery aandui, maar dat die tekens maklik deur onderwysers gemis word. Deur op die uitkyk te wees vir hierdie tekens kan jy help om boeliery reeds in die beginfases te keer. Gedrag waarvoor jy moet uitkyk sluit in:

  • Oë wat gerol word
  • Leerders wat vir mekaar staar
  • Rûe wat teen ʼn leerder gedraai word
  • Leerders wat wreed lag of ander aanmoedig om vir iemand te lag
  • ʼn Naamnoemery
  • Duidelike uitsluiting van ʼn leerder
  • Spioenasie of agtervolging van ʼn spesifieke leerder

5. Betrek jou skool se ouers

Stel ouers in kennis dat afknouery nie geduld sal word nie en wanneer ʼn leerder hom/haarself skuldig maak aan afknouery, stel die ouers in kennis. Betrokke ouers is ʼn waardevolle bondgenoot en deur kommunikasie met ouers oop te hou,  een van die beste maniere om negatiewe gedrag aan te spreek.

6. Wees oop vir moeilike gesprekke

Jy kan nie leerders help as jy nie weet van die probleme nie. Afknouery gebeur dikwels waar onderwysers nie teenwoordig is nie en leerders moet jou genoeg vertrou om te kom praat wanneer hulle probleme ervaar. Deur leerders aan te moedig om met jou te kom gesels, maak jy dit makliker vir hulle om jou in hulle vertroue te neem.

7. Moedig ander leerders aan om op te staan

Min dinge ontmoedig ʼn boelie so doeltreffend soos ʼn ander leerder wat hom/haar aanspreek oor hulle onaanvaarbare gedrag. Maak seker jou leerders is ingelig oor die impak van afknouery op hulle mede-leerders en gee hulle die gereedskap om boelies met ʼn oopkop aan te vat.

AfriForum se teenboelieveldtog besoek laerskole ter bewusmaking van boeliegedrag en wat gedoen kan word om afknouery in skole hok te slaan. Vir meer inligting rakende AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Bronne: https://lesley.edu/article/6-ways-educators-can-prevent-bullying-in-schools

https://www.frontiersin.org/articles/10.3389/fpsyg.2019.01830/full

https://www.umassglobal.edu/news-and-events/blog/how-to-prevent-bullying-in-the-classroom-proactive-tips-for-teachers


Tags

boelie


Lees meer...