Bou aan jou kind se waardes

2022-06-15

deur dr. Jeanette de Klerk-Luttig

Projekbestuurder, Solidariteit Skoleondersteuningsentrum

Verantwoordelikheid is ʼn onmisbare element van volwassenheid. Kinders of tieners wie se karaktereienskappe nie mettertyd verantwoordelikheid insluit nie, sal nooit werklik volwaardige volwassenes word nie.

Wat is verantwoordelikheid?

Verantwoordelikheid is om aan jouself verantwoording te doen van die eise wat die lewe aan jou stel, en om te doen wat gedoen moet word. Verantwoordelike persone gooi nie maklik tou op nie, veral nie wanneer ander op hulle reken nie. Hulle is bereid om rekenskap te gee en pa te staan vir hulle optrede en die gevolge van hulle besluite. Wanneer hulle nié hulle verantwoordelikhede nakom nie, maak hulle nie verskonings, gee ander of die omstandighede die skuld óf speel die verontregte slagoffer nie. Verantwoordelikheid impliseer dat jy vooruitdink, redelike doelwitte vir jouself stel, jou humeur beteuel, en jou bes doen.

Ongelukkig is ʼn tekort aan verantwoordelikheid en aanspreeklikheid ʼn epidemie in ons land, en kom dit oral voor, van die parlement tot in ons skole en huise. Ons kort dringend ʼn etiek van verantwoordelikheid op elke vlak.

Kinders leer verantwoordelikheid wanneer hulle van jongs af bepaalde take kry om te verrig, soos om troeteldiere kos te gee, hulle bed op te maak, speelgoed weg te pak, skottelgoed te was of ʼn bedding in die tuin te versorg. Namate hulle ouer word en wys dat hulle hul verantwoordelikhede kan nakom, kan hulle met méér verantwoordelikhede vertrou word. Handhaaf egter deurgaans ʼn balans tussen te min en te veel verantwoordelikhede sodat hulle ontwikkel en sterk word, maar nooit oorweldig voel nie.

Kinders en tieners moet vroeg reeds leer om verantwoordelikheid te aanvaar vir wat hulle doen en nié doen nie, en vir die gevolge van daardie doen of late. Daarom moet hulle ouers vir hulle ʼn voorbeeld stel van hoe ʼn verantwoordelike persoon optree.

Regte en verantwoordelikhede

Jongmense is terdeë bewus van hulle regte, maar minder opgewonde oor die verantwoordelikhede wat met daardie regte gepaardgaan. Hulle het die reg op onderwys, maar daarmee saam kom verantwoordelikhede soos om in die klas op te let, hard te werk en jou kant te bring, onderwysers en medeleerders met respek te hanteer, die skool se gedragskode te gehoorsaam, en die skoolgeboue en -terrein skoon en netjies te hou. Verantwoordelikheid impliseer ook dat daar geen onskuldige toeskouers is wanneer iemand op die skoolterrein geboelie of aan groepwreedheid onderwerp word nie.

Boonop moet leerders besef dat húlle vir hul skoolwerk verantwoordelik is, en dat dit nie uitsluitlik die onderwysers se verantwoordelikheid is om hulle deur ʼn skoolgraad te kry nie. Húlle is daarvoor verantwoordelik om opdragte te voltooi en betyds in te dien, op te let wanneer die onderwyser die werk verduidelik, vrae te vra as hulle nie verstaan nie, en hulle huiswerk te doen.

Ook ouers se verantwoordelikheid

Ouers wat hulle kinders se skooltake namens hulle doen, begaan ʼn groot fout, want sodoende ontneem hulle die kinders van ʼn geleentheid om verantwoordelikheid te leer. Onderwysers sukkel juis om verantwoordelikheid by leerders te vestig omdat ouers dikwels nie tuis reeds daarmee begin het nie, en omdat onderwysers ook nie leerders aanspreeklik mag hou nie. Suid-Afrika is een van die min lande waar leerders nie meer as een keer in ʼn fase mag druip nie; indien wel, word hulle bloot na die volgende fase “bevorder”. Volgens die onderwysdepartement se beleid mag geen onderwyser ʼn leerder nul gee vir ʼn taak nie. Selfs waar leerders nie die taak indien nie, moet hulle punte daarvoor kry. Dít versterk dikwels onverantwoordelike optrede, want leerders beleef geen negatiewe gevolge wanneer hulle nie hulle kant bring nie. Hulle leer dus nie van jongs af om aanspreeklikheid vir hulle optrede en besluite te aanvaar nie.

Ongelukkig aanvaar ouers en onderwysers ook dikwels flou verskonings vir onverantwoordelike optrede, omdat hulle nie lus of krag het vir konfrontasie nie. Gevolglik maak ons ʼn geslag groot wat dink dat jy nie jou kant hoef te bring of jou verantwoordelikhede hoef na te kom nie, want jy kan wegkom met verskonings of deur ander of die omstandighede die skuld te gee. Dié denkpatroon hou egter uiters skadelike gevolge in vir hulle toekoms, sowel in gesinsverband as by die werk.

Verantwoordelikheid kweek selfagting

Verantwoordelikheid en selfagting is direk verbind: Die bereidheid om verantwoordelikheid vir jou eie lewe te aanvaar is waar selfagting begin. Hoe meer jy verantwoordelikheid vir jou eie keuses en optrede aanvaar, hoe beter voel jy oor jouself. Ware selfagting is dus ʼn gevolg van verantwoordelike optrede, en word nie gebou deur kinders gedurig te prys nie. Volgens die gesinsterapeut Mary Pipher maak baie ouers die fout om meer op hulle kinders se gevoelens en selfbeeld te konsentreer as op hulle karakter. “Vir hulle is dit belangriker dat hulle kinders gelukkige mense eerder as goeie mense sal wees,” sê sy.

Waardes kom altyd in bondels voor, en verantwoordelikheid kan nooit van harde werk geskei word nie. Verantwoordelikheid vereis immers dat jy jou kant sal bring, hard sal werk, en sal doen wat gedoen moet word. ʼn Bekende predikant op ons dorp vertel daar was gewoon nie geld toe hy wou gaan studeer nie. Sy pa se woorde aan hom was: “My kind, jy hét ʼn ‘graad’, jy het ʼn ruggraat. Gebruik jou ruggraat om jou graad te kry.” Met vakansiewerk het hy vir sy eie studies betaal en uiteindelik sy doktorsgraad verwerf.

Gebruik jou ruggraat om jou graad te kry

Harde werk vereis nie net ʼn sterk ruggraat nie; dit bou ook een. John Tapene, die hoof van Northlan Kollege, onderstreep dít deur die woorde aan te haal van ʼn regter wat dikwels met jongmense werk: “Tieners vra dikwels: Wat kan ons doen? Waarheen kan ons gaan? My antwoord is: Gaan huis toe. Sny die gras, was die vensters, leer kook, bou ʼn vlot, kry ʼn werk. Besoek die siekes, leer jou lesse en lees ʼn boek. Jou dorp skuld jou nie ontspanningsgeriewe nie, en jou ouers skuld jou nie pret nie. Die wêreld skuld jou niks. Dis jý wat die wêreld iets skuld. Jy skuld jou tyd, jou energie en talent sodat niemand weer in ʼn oorlog hoef te veg of eensaam en siek sal wees nie. Kom uit jou droomwêreld en ontwikkel ʼn ruggraat, nie ʼn wensbeen nie. Begin optree soos ʼn verantwoordelike persoon.”

Ouers én onderwysers sal doelbewus daarop moet konsentreer om die waardes van verantwoordelikheid en hardwerkendheid by kinders te vestig, want sonder ʼn ruggraat is swaarkry hulle voorland.

* * *

Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het al talle kenners geraadpleeg oor die ontwikkeling van ʼn volhoubare en waardegedrewe onderrig- en leermodel om die toekoms van Afrikaanse onderwys te help verseker. Dr. Jeanette de Klerk-Luttig is een van hulle. Hieronder deel ons graag haar kundigheid oor die vestiging van verantwoordelikheid en hardwerkendheid by ons kinders.

Hierdie artikel is in opdrag van die die Skoleondersteuningsentrum (SOS) geskryf en het oorspronklik op Maroela Media verskyn by https://maroelamedia.co.za/leefstyl/ouerskap/bou-aan-jou-kind-se-waardes.

Gesels met ons