Die onlangse verkiesing, waarin die ANC sy meerderheid verloor het, skep ‘n unieke geleentheid vir Afrikaanse instellings en skole om meer inspraak by hul skoolgemeenskappe te hê.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Leierskapkongres op 11 Junie het paneellede byeengebring om die verkiesing se impak op die beplande BELA-wetgewing en Afrikaanse onderwys te bespreek. Leon Fourie (SOS), dr. Jaco Deacon (FEDSAS), dr. Louis Swanepoel (SAOU), en Kallie Kriel (AfriForum) het hul insigte gedeel oor die uitdagings en geleenthede wat voorlê. Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS het as gespreksleier opgetree.
Die beplande BELA-wetgewing gee die Departement van Onderwys (DBO) die finale gesag oor die toelatings- en taalbeleide van skole, verwater die rol van skoolbeheerliggame (SBL’e), vereis meer finansiële verslagdoening deur SBL’e, en stel strenger regulasies op tuisonderwys. Dit sal ook Graad R verpligtend maak, iets wat enorme finansiële insette gaan vereis en meer as 7 500 skole sal raak.
Die paneel het beklemtoon dat die verbrokkeling van regeringsmag ‘n positiewe invloed op die toekoms van Afrikaanse onderwys kan hê.
“Afrikaanse skole het nou ‘n unieke geleentheid om hul eie toekoms te bepaal,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. “Ons verwelkom egter ‘n nasionale debat oor die wetgewing en glo dit is ‘n geleentheid om ons presiese behoeftes ter tafel te lê.”
Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, het aangedui dat alle beskikbare internasionale en regsinstrumente gebruik sal word om moedertaalonderwys te verseker. “Die beste manier vir skole om staatsbestand te wees, is om so outonoom of selfstandig as moontlik te word. Skoolbeheerliggame se magte moet verder so ver moontlik beskerm word wanneer magte aangetas word, moet daar gelitigeer word of ‘n politieke skikking bereik word.”
Dr. Jaco Deacon het beklemtoon dat daar waarskynlik steeds ‘n vorm van die BELA-wetgewing in die toekoms ter tafel gelê sal word, maar dat die huidige voorgestelde wetgewing ‘n goeie wegspringplek is. “Ons moet ons SBL’e bemagtig om hul termyne tot die voordeel van hul gemeenskappe te gebruik. Dit is uiters belangrik om kundigheid op te skerp en seker te wees van beskikbare magte.”
“Dit is belangrik vir skole om ‘n gelyke vennootskap met onderwysowerhede te hê, maar die beskerming van regte van opvoeders moet aandag geniet,” het dr. Louis Swanepoel, uitvoerende hoof van SAOU, bygevoeg. “Die outonomiteit van skole móét gerespekteer word. Wetgewing moet in ‘n positiewe rigting aangepas word. Skole moet seker maak dat hulle tenvolle bewus is van wat die beoogde BELA-wetgewing behels. Die voortbestaan van skole lê in die hande van bekwame skoolbesture.“
Ten spyte van uitdagings bied die huidige politieke klimaat ‘n venster van geleentheid vir Afrikaanse onderwys.
Die onverwagse uitkoms van die nasionale verkiesing wat in Mei gehou is, het veroorsaak dat een van die hoofonderwerpe van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Nasionale Kongres verskuif het van “Die implikasies van die BELA-wetgewing op skole” na “Die implikasies van die verkiesing op die BELA-wetgewing en Afrikaanse onderwys.”
Die paneelbespreking beloof om ʼn hoogtepunt van die Leierskapkongres op 11 Junie te wees. Die gesprek, wat deur Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die SOS gelei sal word, sluit paneellede soos Leon Fourie, Kallie Kriel, dr. Louis Swanepoel, en dr. Jaco Deacon in. Hulle gesprek sal, onder andere, kyk hoedat aspekte van die BELA-wetgewing skole negatief mag raak, en watter doeltreffende stappe deur skole geneem kan word om uitdagings die hoof te bied.
Benewens die BELA-paneelbespreking, bied die kongres ‘n uiteenlopende verskeidenheid temas wat kongresgangers sal inspireer en toerus. Temas sluit in: hoe om te floreer in uitdagende tye, kritieke leierskapstrategieë, asook praktiese riglyne vir effektiewe skoolbestuur. Kundiges word op elke terrein ingespan.
Internasionale sprekers, Paul Main en Kristof Fenyvesi, sal belangrike onderwerpe aanraak, naamlik die implementering van STEM (Wetenskap, Tegnologie, Ingenieurswese en Wiskunde), projekgebaseerde leer en hoedat dit ‘n dinamiese benadering tot onderwys bevorder. Hulle sal voorts kritiese denkstrategieë, wat tot die ontwikkeling van leerders se analitiese vaardighede sal lei, toelig – sodanige vaardighede wat noodsaaklik vir die begrip van komplekse konsepte is.
Waardegedrewe leierskap sal verder ‘n kernfokus wees. Spesifieke aandag word gegee aan hoedat kernwaardes die grondslag van ‘n suksesvolle skoolkultuur kan vorm. Insigte uit die SOS se internasionale besoeke aan skole in Finland, Singapoer, Australië en Nederland om nuwe benaderings en innovasies in klaskamers te inspireer, word gedeel.
Die SOS hoop om onderwysers tydens die Nasionale Kongres 2024 te inspireer deur hulle met nuwe strategieë en benaderings toe te rus om nie net uitdagings te oorkom nie, maar in die toekoms nog verder in hulle roeping te floreer.
Die kongres vind van 11 tot 13 Junie in Midrand plaas. Vir verdere inligting, kontak asseblief die SOS by [email protected] of besoek ons webwerf by skole.co.za.
Die Gautengse Departement van Onderwys (GDO) het vandeesweek via ‘n skrywe aan skole kennis gegee dat Gr. 12-leerders se Lewensoriëntering-projek, wat deel vorm van hulle portefeulje, ‘n skamele 9 dae voor die aanvang van die Junie-eksamen geskrap word. Die rede wat aangevoer word, is “sensitiewe elemente” in die inhoud van die opdrag wat leerders se verkiesingsgedrag mag beïnvloed.
Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), sê dat dit leerders wat reeds baie tyd hieraan spandeer het, negatief gaan raak. “Hierdie uiters leersame projek oor die waterkrisis by Hammanskraal, word nou gekanselleer en vervang met ‘n nuwe, verkiesingsvriendelike onderwerp. Leerders wat reeds die taak afgehandel het, moet nou studietyd inboet om van voor af te begin met iets wat hulle reeds voltooi het.”
Die eerste twee aktiwiteite van die opdrag bly volgens die skrywe onveranderd, asook die assesseringsvereistes “om regverdigheid te verseker.” Dit is egter onduidelik wanneer die nuwe onderwerp met die betrokke skole gekommunikeer gaan word.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) wil sy besorgdheid uitspreek oor die geforseerde goedkeuring van die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (BELA) deur die Nasionale Raad van Provinsies (NRP). Dit is veral artikels 5 en 6 van die BELA-wetgewing wat steeds inbreuk maak op gemeenskappe se grondwetlike reg op inspraak in hul kinders se opvoeding. Die wetgewing is onlangs deur die NRP aanvaar ten spyte van oorweldigende teenstand. Hierdie stap is nie net ‘n aantasting van die regte wat deur die Grondwet gewaarborg word nie, maar dit bedreig ook die beskerming van minderheidstale en kulture, soos Afrikaans.
“ʼn Strewe na meer selfstandigheid in ons skoolgemeenskappe is noodsaaklik. Ouers se oop hand was nog altyd deel van Afrikaanse skole se sukses. Ouers moet nie toelaat dat hulle geïntimideer word nie; hulle moet hul regte opeis, soos deur die Grondwet gewaarborg,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. “Ons moedig ouers en skoolbeheerliggame aan om hul skole meer selfstandig en minder staatgesentreerd te maak.”
Die nuutste aanpassings aan die wetsontwerp wat voorgee om sommige bevoegdhede aan beheerliggame te gee, is bloot kosmeties. Die finale besluit oor belangrike beleidskwessies berus steeds by ʼn regeringsamptenaar wat die mag het om enige voorgestelde beleid af te keur of te wysig. Hierdie benadering skep ‘n onrusbarende presedent waar besluite geneem word deur individue wat geen direkte verbintenis of begrip van die unieke behoeftes van die skoolgemeenskappe het nie.
In reaksie hierop beplan die SOS, in samewerking met Solidariteit en AfriForum, om regstappe te neem om die uitvoering van hierdie wetswysiging sover moontlik teen te staan. Ouers en skoolbeheerliggame moet hulself vergewis wat werklik in die BELA-wet staan, spesifiek artikel 5(12) en 6(13). Die wetgewing, soos deur die NRP goedgekeur, kan hier afgelaai word.
Die SOS doen ‘n beroep op die regering om die unieke taal- en kultuurverskeidenheid in Suid-Afrika te respekteer. Dit kan ten beste gedoen word deur besluitneming in die hande van diegene te laat wat regstreeks daardeur geraak word. Slegs deur ware deelname en respek vir gemeenskapsregte kan ons ‘n onderwysstelsel bou wat alle Suid-Afrikaners bevoordeel.
Die Wolkskool is onlangs aangewys as wenner van die “Oplossings vir Inhoudsverskaffing”-kategorie by die gesogte internasionale EdTech “Cool Tool”-toekennings. EdTech vereer individue en instellings wêreldwyd vir uitstaande bydraes om onderwys deur tegnologie te verbeter en die lewens van leerders te verryk.
Die Wolkskool is ‘n aanlyn leerbestuursplatform, wat duisende videolesse, werkkaarte en assesserings vir laerskool- en hoërskoolvakke bied, in Afrikaans. Deur van gevorderde tegnologie gebruik te maak, stel Die Wolkskool leerders in staat om hul akademiese prestasie te verbeter, ongeag tyd of plek. Die platform is ideaal is vir hersiening van werk, ekstra klasse, asook voorbereiding vir klasse in ʼn Omgekeerde Klaskamermodel.
Die Wolkskool is ook as finalis aangewys in die volgende kategorieë:
Kurrikulum en instruksie-oplossing
E-leer, gemengde, omgekeerde of afstand-oplossing
Leerbestuurstelsel-oplossing
Lesbeplanning-oplossing
Nuwe produk of diens (vrygestel in 2020 of later)
Hulpbronne/ander behulpsame webtuistes of hulpmiddel vir onderwys
Toets-voorbereiding-oplossing.
Die Wolkskool se KABV (CAPS)-belynde inhoud word deur meesteronderwysers ontwikkel. Verslae is geredelik beskikbaar om leerders se vordering te monitor. Dit verseker dat leerders teen hulle eie pas kan leer, terwyl onderwysers en ouers op hoogte gehou word van hul vordering.
“Tegnologie maak onderwys-oplossings moontlik wat in die verlede ondenkbaar was. Ons is ongelooflik trots op hierdie toekenning. Dit is ʼn weerspieëling van die harde werk en toewyding van Die Wolkskoolspan,” sê Valentyn van der Merwe, hoof van Innovasie by die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). “Ons strewe na uitnemendheid en die positiewe terugvoer van ons gebruikersgemeenskap inspireer ons om steeds meer innoverende oplossings te ontwikkel in die toekoms.”
Vir meer inligting oor Die Wolkskool, besoek wolkskool.co.za.
Nuutverkose skoolbeheerliggame staan voor die moeilike taak om skoolbegrotings te laat klop, veral in die lig van die toenemende wanbetalings en verpligte kwytskelding van skoolgelde. Met sommige skole wat slegs 40% van hul begrote inkomste uit skoolgelde invorder, bly daar min fondse oor vir noodsaaklike uitgawes soos die betaling van personeelsalarisse en die uitbreiding of onderhoud van skoolinfrastruktuur. Hierdie finansiële druk word vererger deur uiters beperkte bydraes van die Departement van Onderwys en die voortdurende probleem van oorvol klaskamers. Hierdie uitdagings maak dit noodsaaklik vir skoolbeheerliggame om kreatief te dink en innoverende oplossings te vind om te verseker dat elke leerder toegang het tot gehalteonderwys, ondanks die finansiële beperkings.
Een van die mees belowende oplossings vir hierdie kwessies lê in die doeltreffende aanwending van reeds bestaande skoolinfrastrukuur en die aanpassing van leerruimtes om meer buigsaam te wees. Deur kreatiewe benaderings, soos die omskepping van bestaande ruimtes en die integrasie van kosteeffektiewe tegnologieë, soos Die Wolkskool, kan skole dinamiese leerruimtes skep wat betrokkenheid aanmoedig en leerders toerus vir akademiese sukses. Hierdie praktyke bied ‘n kostedoeltreffende pad vorentoe en hou heelwat voordele in vir onderwysers. ‘n Versterkte en buigsame benadering tot onderrig bevorder beide interaktiwiteit en deelname. Innoverende leerruimtes inspireer innoverende onderrigmetodes.
Die tradisionele klaskamer
Tradisionele klaskamers bevorder didaktiese onderrigmetodes, waar die onderwyser as die sentrale figuur kennis oordra, terwyl leerders passief sit, gerangskik in netjiese rye, gefokus op die absorbering van inligting. Hierdie model, hoofsaaklik gerig op die memorisering en herhaling van feite, bied min geleenthede vir die ontwikkeling van vaardighede soos kritiese denke, kreatiwiteit, en die vermoë om saam te werk. Die rigiede uitleg van tradisionele klaskamers, met hul statiese meubelstukke, belemmer fisiese beweging en gee min geleentheid vir interaktiewe groepwerk of enige vorm van innoverende leeraktiwiteite.
Verskuiwing na innoverende leeromgewings
Die oorgang na innoverende leerruimtes baan die weg vir ‘n meer interaktiewe onderrigervaring en die toepassing van onderrigmetodes soos Stasierotasie en die Omgekeerde Klaskamer. Innoverende leerruimtes word gekenmerk deur hul buigsaamheid en die integrasie van tegnologie, wat ‘n dinamiese en samewerkende leeromgewing skep. Hierdie leerruimtes is veelsydig ontwerp om aan te pas by verskillende onderwys- en leerbehoeftes en maak onbeperkte verkenning moontlik deur digitale toegang tot wêreldwye hulpbronne. Dit lei tot ‘n ryker en meer betekenisvolle leerervaring vir leerders.
Koste-effektiewe aanpassings
Daar is verskeie koste-effektiewe maniere om bestaande klaskamers te omskep in meer innoverende en samewerkende leeromgewings:
Herorganiseer bestaande meubels
Herskep jou klaskamer met die meubels wat reeds tot joubeskikking is. ‘n Hersiening van jou klaskamer se bestaande uitleg kan ‘n reuseverskil maak. Ditkan wissel van gesellige leeshoekies tot effektiewe groepwerkstasies deur ʼn paar sagte kussings en die herrangskikking van tradisionele skooltafels of -lessenaars. Onthou dat leerruimtes verder strek as net tafels en stoele.
Verhoog mobiliteit en aanpasbaarheid
Klein veranderinge kan ‘n groot impak hê op die dinamikavan ‘n leeromgewing. Deur wiele aan tafels te heg of te belê in modulêre meubelstukke, kan jy ‘nruimte skep wat vinnig en moeiteloos aanpas by verskillende leeraktiwiteite. Oorweeg ook dieimplementering van opvoubare tafels of stapelstoele wat maklik weggebêre kan word om oopruimtes te skep vir groepsaktiwiteite of bewegingsgebaseerde leer, wat verder die buigsaamheiden veelsydigheid van jou klaskamer verhoog.
Benut bekostigbare tegnologie
Om digitale leer in die klaskamer te bevorder, hoef nie ‘n fortuinte kos nie. Maak gebruik van bekostigbare of tweedehandse tegnologieë, sowel as gratisaanlynbronne, om ‘n ryk, tegnologies-ondersteunde leeromgewing te skep. Onthou dat dieskoolbiblioteek ‘n uitstekende hulpbron is wat ‘n veilige en toeganklike plek bied waar leerdersaan ‘n verskeidenheid media vir navorsingsprojekte blootgestel kan word. Die integrasie vanaanlyn platforms, soos Die Wolkskool, hetsy in die klaskamer of in die biblioteek, dien aswaardevolle opvoedkundige gereedskap en ondersteun leeraktiwiteite.
Betrek leerders in die skep van oplossings
Moedig leerders aan om deel te neem aan dieherinrigting van hul leeromgewing. Deur hulle te betrek, ontdek hulle moontlik unieke eninnoverende oplossings sonder om noemenswaardige finansiële uitgawes aan te gaan. Hierdiebenadering bevorder nie net ‘n gevoel van eienaarskap en trots onder die leerders nie, maarstimuleer ook kreatiwiteit en kritiese denke, aangesien hulle praktiese oplossings vir hul eieleerbehoeftes ontwikkel.
Benut buitelugruimtes
Buitelugleer bied ‘n waardevolle, koste-effektiewe manier om dieleerervaring te verbreed. Oorweeg klein tuinprojekte, buitelugklaskamers, of eenvoudigewaarnemingsaktiwiteite wat gebruik maak van die skool se bestaande buitelugruimtes.
Die pad vorentoe vir skoolbeheerliggame lê in innovasie en buigsaamheid. Deur die omskepping van bestaande leerruimtes na aanpasbare, tegnologies-gevorderde ruimtes, word nie alleen infrastruktuuruitdagings aangespreek nie, maar word daar ook ruimte geskep vir ‘n ryker, meer interaktiewe leerervaring. Met so ‘n vernuwende ingesteldheid kan skole nie net finansiële beperkings oorkom nie, maar ook omgewings ontwikkel wat leerders bemagtig met die noodsaaklike vaardighede vir die toekoms.
Die kernprobleem van onderwys in Suid-Afrika is nie een van toegang nie, maar veel eerder een van toegang tot gehalteonderrig wat suksesvolle uitkomste verseker.
“Die voorgestelde BELA-wetsontwerp is daarop gemik om die minder as 5% oorblywende Afrikaanse skole te dwing om te verengels. Die wetsontwerp sal uitnemende moedertaalskole vernietig sonder om die kernprobleem van ‘n tekort aan goeie skole op te los,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS). “Ons sien reeds dat die getal Afrikaanse skole wat die NSS in 2023 geskryf het, afgeneem het van 686 in 2021 tot 555 in 2023. Die gemiddelde getal kandidate per skool het egter toegeneem tot 124. Dit is aansienlik hoër as die nasionale gemiddelde van 101 kandidate per skool.”
Die SOS het Donderdag, saam met verskeie ander rolspelers, die geleentheid gehad om verdere mondelingse voorleggings oor die voorgestelde BELA-wetgewing te maak aan die Nasionale Raad van Provinsies.
Internasionale navorsing wys daarop dat die kwaliteit van ‘n onderwysstelsel nie die kwaliteit van sy onderwysers kan oorskry nie (McKinsey-verslag). Dit beklemtoon die kritieke rol wat bekwaamheid en toewyding van onderwysers speel in die vorming van ‘n doeltreffende onderwysomgewing. Die uitdaging lê nie bloot in die verkryging van toegang tot onderwys nie, maar in die onderwysstelsel se kapasiteit om leerders te ontwikkel wat suksesvol, goed-opgelei, en ten volle gereed is vir ʼn veranderende wêreld.
Fourie sê die aanvaarding van die voorgestelde BELA-wetswysigings sal ‘n daling in gemeenskapsbetrokkenheid meebring. “Die mag om besluite oor skoolbeleide te maak sal dan by departementele beamptes lê en nie by die gemeenskap self nie. Internasionaal sien ons dat daar in suksesvolle onderwysstelsels meer besluitnemingsbevoegdhede na die skoolvlak oorgedra word, selfs al word skole deur die staat gefinansier.” Deur gemeenskappe te bemagtig om verantwoordelikheid vir hul skole te neem, bevorder dit nie net ‘n kultuur van aanspreeklikheid nie, maar ook van gemeenskapsbetrokkenheid en -eienaarskap oor onderwysuitkomste.
Die SOS dring aan op die volledige onttrekking van die voorgestelde wetgewing en eis dat dit teruggestuur word vir ‘n deeglike heroorweging en opdatering. Die SOS glo dat ‘n proses wat die insette en perspektiewe van alle belanghebbendes in ag neem, noodsaaklik is om ʼn gebalanseerde en effektiewe raamwerk te ontwikkel wat nie net onderwysuitdagings aanspreek nie, maar ook die grondslag sal lê vir ‘n meer robuuste en toeganklike onderwysstelsel in Suid-Afrika.
Gimnasium Pretoria verander die spelreëls van die onderwyslandskap en staan aan die voorpunt van vernuwende onderrigpraktyke, gewortel in die beginsels van akademiese uitnemendheid. Deur ‘n strategiese vennootskap met die Solidariteit Beweging, reflekteer die skool ‘n toewyding aan die bevordering van die Afrikaanse taal en kultuur, asook sterk gemeenskapswaardes.
“Gimnasium Pretoria is verbind tot opvoedkundige uitnemendheid en gemeenskapsbetrokkenheid. Ons fokus is op die ontwikkeling van gebalanseerde kinders, gereed vir die uitdagings van die toekoms,” sê Louis Dekker, uitvoerende hoof van Gimnasium Pretoria.
Met die ondersteuning van die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS), implementeer Gimnasium Pretoria gevorderde onderwysmetodes om ‘n toekomsgerigte leeromgewing te skep.
“Samewerking met die SOS verseker dat onderwysers deurlopend toegang het tot vernuwende onderwysopleiding en hulpbronne soos Die Wolkskool,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. “Deur ‘n vennootskap met die SOS, benadruk Gimnasium Pretoria sy toewyding om gehalteonderrig ook vir die volgende geslag te bewaar.”
Die SOS het ‘n tweeledige strategie van “bou” en “behou”. Eerstens is daar ʼn duidelike fokus op die behoud van reeds uitnemende Afrikaanse skole. Tweedens word ʼn “bou”-strategie geïmplementeer om ʼn bloudruk te skep vir nuwe onafhanklike skole in gemeenskappe waar daar ‘n wesenlike behoefte is.
Johan Koekemoer, hoof van Onderrig en Leer by die SOS, verduidelik: “Onderwys is by ʼn keerpunt. Die tyd is nóú om ʼn nuwe koers in te slaan om gereed te wees vir ʼn digitale era. Gimnasium sal ons kinders plaaslik anker en globaal bemagtig om internasionaal te kan meeding. Dit skep nie net ‘n platform vir akademiese uitnemendheid nie, maar bou ook aan kulturele selfvertroue. Gimnasium sal vashou en voortbou aan die Afrikaanse taal, nie net omdat moedertaalonderrig bewese die beste is nie, maar ook omdat taal ʼn voertuig is van ons gemeenskap se idees, drome en ideale. Saam met ouers en die gemeenskap, wil ons die saad van Hoop gaan saai sodat ons kinders sal glo dat ʼn vry, veilige en voorspoedige toekoms moontlik is hier aan die Suidpunt van Afrika.”
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) se Matriekverslag vir 2023 bied vanjaar weer ‘n gedetailleerde en omvattende oorsig van die hoë standaarde van onderwys in Afrikaanse skole. Met indrukwekkende slaagsyfers en uitstaande akademiese prestasies in kernvakke, beklemtoon die verslag die sukses van moedertaalonderrig.
“Die 2023-matriekuitslae van veral Afrikaanse skole laat ’n mens vol moed vir die volgende geslag se potensiaal om ’n verskil te maak in ‘n snelveranderende wêreld,” sê Leon Fourie, uitvoerende hoof van die SOS. “Onderwys is nie net kennisoordrag nie, maar ook kultuuroordrag. Die kultuur van uitnemendheid in die meeste Afrikaanse skole speel ’n belangrike rol om uitstekende uitslae te verseker.”
Die SOS se Matriekverslag ondersoek die uitslae van die Departement van Basiese Onderwys (DBO) en die Onafhanklike Eksamenraad (IEB) met die primêre fokus op die DBO se uitslae. ʼn Diepgaande analise maak dit moontlik vir die SOS om belangrike tendense binne die DBO-stelsel te identifiseer en te evalueer, en vergelykings te trek met die resultate van die IEB-stelsel.
Hoewel Afrikaanse skole slegs 8% van die skole uitmaak wat die DBO se NSS-eksamen skryf, presteer hulle buitengewoon goed. Met ‘n slaagsyfer van 85,1%, oortref Afrikaanse skole die nasionale gemiddelde van 82,9%.
Die getal Afrikaanse skole wat die NSS geskryf het, het afgeneem van 686 in 2021 tot 555 in 2023, maar die gemiddelde getal kandidate per skool het toegeneem tot 124. Dit is aansienlik hoër as die nasionale gemiddelde van 101 kandidate per skool.
Die deurvloeisyfer in die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel, soos weerspieël in die Matriekverslag van 2023, toon ‘n beduidende uitval tussen graad 1 en matriek. Van die leerders wat in 2012 met graad 1 begin het, slaag slegs 47,4% matriek in 2023. Verder kwalifiseer net 40,9% van hierdie suksesvolle matrikulante vir universiteitstoelating. Dit beklemtoon die behoefte aan verbetering in onderwysgehalte en ondersteuningsmeganismes om leerders deur hul skoolloopbaan te ondersteun en te verseker dat hulle betekenisvolle kwalifikasies behaal. Beter slaagsyfers as gevolg van laer slaagvereistes, beteken min. Hierdie statistieke dui op ‘n dieperliggende probleem in die onderwysstelsel wat aangespreek moet word.
Ten spyte van ‘n daling van byna 1% in die getal leerders wat Wiskunde as vak gekies het tussen 2022 en 2023, slaag 8,5% meer leerders Wiskunde gedurende dieselfde tydperk. Daar is ook ‘n merkbare toename in die getal leerders wat onderskeidings in Wiskunde behaal het. Wiskunde speel ʼn belangrike rol in die ontwikkeling van fundamentele denkvaardighede soos logiese denke, probleemoplossing, en analitiese denke. Hierdie vaardighede is uiters belangrik en word wyd vereis in ‘n verskeidenheid beroepe, wat die noodsaaklikheid en waarde van Wiskunde in die onderwysstelsel onderstreep.
Fourie sluit af: “Die inligting vervat in vanjaar se SOS-verslag belig die toewyding van onderwysers en leerders wat saamwerk om merkwaardige resultate te bereik. Hierdie verslag is ‘n getuigskrif van die krag en uitnemendheid van Afrikaanse skole in Suid-Afrika.”
Die elektrisiteitskrisis in Suid-Afrika het ‘n enorme impak op onderriginstellings, veral skole. Die huidige omstandighede dwing skole om sélf vir hul kragopwekkers, sonpanele, brandstof en batterye te betaal om die ligte aan te hou, veral met eksamens wat nou afgelê word. Dit plaas ‘n addisionele finansiële las op skoolgemeenskappe, maar is vir baie die enigste uitkoms.
Die staat, wat verantwoordelik is vir die voorsiening van basiese dienste soos elektrisiteit, maak geen bydrae tot die implementering of instandhouding van hierdie alternatiewe kragbronne nie. Ironies genoeg word die infrastruktuur, wat deur die skoolgemeenskap befonds word, uiteindelik deel van die skool en daarom staatsbesit.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) het met verskeie skole gesels en hul terugvoer oor die situasie sluit die volgende in:
1. Kragtekorte het ‘n aansienlike impak op hoërskole, spesifiek vir vakke soos IT, Verbruikerstudiesen RTT wat ‘n praktiese komponent insluit en van elektrisiteit afhanklik is.“Die grootste impak is natuurlik op die hoërskole. Dit is baie duur vir die skole en raak die begroting ernstig,” het een skoolhoof aangedui.
2. Ander skole maak gebruik van alternatiewe oplossings soos omskakelaars (inverters), maarlangdurige beurtkrag laat hulle gereeld sonder antwoorde.“Almal moet maar net seker maak hul tablets en rekenaars is vol gelaai.”
3. Daar is skole wat reeds groot bedrae geld belê het in alternatiewe kragbronne soos sonpanele,selfs ten koste van ander prioriteitsprojekte.“Ons het die sogenaamde “bullet” gebyt en R2-miljoen se solar-sisteem geïnstalleer. Alhoewel ons beursie nou leeg is, het ons krag.”
4. Sommige skole is reeds vroeër die jaar gedwing om ‘n kragopwekker te installeer. “Behalwe diegroot koste aan diesel, behoort beurtkrag nie verder ‘n impak op ons te hê nie.”
Die impak van beurtkrag en die afwesigheid van krag tuis het ook ‘n groot invloed op leerders se voorbereiding vir eksamens, spesifiek tydens die matriekeksamen wat tans aan die gang is. Die SOS en skole doen ‘n beroep op die staat om hierdie kwessie dringend aan te spreek en die nodige ondersteuning daarvoor te bied.