fbpx

Chaos met aanlyn-toelatingsproses in Gauteng

Die Skoleondersteuningsentrum (SOS) is vanoggend oorval met klagtes vanaf gefrustreerde ouers wat sukkel om hul kinders op die aanlyn-registrasieplatform by die skool van hul keuse in te skryf. Voornemende gr.1 -en gr. 8-leerders kon sedert 08:00 vanoggend by Gautengse skole inskryf vir volgende jaar. Applikante het egter verskeie probleme met die stelsel ondervind.

  • Verskeie applikante wat binne ’n 5km-radius van die skool woon, is outomaties op die skool se vierde waglys geplaas, terwyl hulle eintlik eerste in aanmerking behoort te kom vir ’n plek in die skool.
  • Sommige ouers kon glad nie op die stelsel inkom nie, of die platform het nie hul woonadres opgetel nie.
  • Engelse ouers het ook gekla dat hulle slegs by Afrikaanse skole kon inskryf, hoewel sommige Engelse skole nader aan hul woonadres geleë is.

“Die probleem is dat Lesufi skole probeer kaap deur beheer uit te oefen oor die registrasieproses, terwyl die GDO geensins die kapasiteit het om dit uit te voer nie,” sê Buys. “Skole moet nou bontstaan om die chaos te probeer uitsorteer, terwyl skole se eie aansoekstelsels in die verlede baie meer effektief was.”

Die SOS is ook teleurgesteld oor Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys, sê uitlatings met betrekking tot Afrikaans as onderrigtaal tydens ’n mediakonferensie Sondag.

Lesufi het die SOS en AfriForum gekritiseer, omdat hulle verlede week skriftelik geëis het dat die aanlyn-registrasieplatform voorsiening maak vir applikante se voorkeur taal van onderrig en leer. Dié platform het ouers ook aanvanklik verplig om die skool die naaste aan hul woonadres aan te dui as die skool van hul keuse. Die Departement het verlede week reeds die platform aangepas om voorsiening te maak vir taal van onderrig en ouers ’n verskeidenheid opsies van skole naby hul woonadres te bied.

Lesufi het Sondag daarop gesinspeel dat die groepe wat hulle beywer vir onderrig in Afrikaans, gekant is teen ’n nie-rassige samelewing en die vooruitgang van swart kinders. Hy het ook gesê dit gaan sy verstand te bowe dat bepaalde groepe vir Afrikaanse onderrig baklei, omdat daar nie meer Afrikaanse universiteite in die land is nie.

Melanie Buys, hoof van Ontwikkeling aan die SOS, sê dit is nie rassisties om jou te beroep op die grondwetlike reg van moedertaalonderrig nie. “Internasionale studies het herhaaldelik bewys dat kinders wat in hul moedertaal onderrig word, ’n groter kans op akademiese sukses het, selfs al sou hulle later aan ’n Engelse universiteit inskryf. Vir Lesufi om aan te neem dat Afrikaanse skole irrelevant is omdat universiteite Engels is, is ’n gruwelike mistasting,” sê Buys.

Buys sê Lesufi self is die oorsaak dat sekere kinders nie die nodige vaardighede het om suksesvol te wees in hul werk of tersiêre onderrig nie, omdat hy nie optree teen onderpresterende onderwysers of swak gehalte onderwys in Townshipskole verbeter nie. “Nou gee hy apartheid die skuld vir sy eie departement se tekortkominge.”

Die SOS moedig ouers aan om hul klagtes by die departement aan te meld, maar ook ‘n  epos aan toelatings@skole.co.za te stuur.

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.