fbpx

Chris Chameleon pleit vir die behoud en uitbou van Afrikaans

 “Afrikaans is die taal van die onderdrukker, maar dit is ook die taal van die onderdrukte en word tans ook self onder druk,” sê die sanger Chris Chameleon.

Hy het onderwysers Vrydag toegespreek oor sy liefde vir Afrikaans, tydens die Skoleondersteuningsentrum (SOS) se jaarlikse onderwyserskongres in Kaapstad. Dié kongres is deur 165 onderwysers van amper 50 skole bygewoon.

Chameleon het die oorsprong van tale en in besonder die oorsprong van Afrikaans uiteengesit en verduidelik waarom dit belangrik is om die taal te bewaar.

“Taal is geskiedenis. Dit stel ons in staat om geskiedenis te verwoord. Dit is Wetenskap en Wiskunde. Dit is ’n belangrike deel van ons menswees.” Chameleon het uitgewys dat Afrikaans die taal van die onderdrukte is, omdat dit aanvanklik deur slawe aan die Kaapkolonie gepraat is. Dit is belangrik dat ’n mens hierdie perspektief kry, wat ons in staat stel om onsself (die sogenaamde onderdrukker) vry te maak,” het Chameleon gesê.

Chris het gesê as Afrikaanse persoon voel hy dat sy taal onderdruk word. “Afrikaans is ’n redelike eenvoudige taal, maar dit maak nie die taal dom nie. Dit maak dit baie meer briljant. “Vir Afrikaans om te oorleef, is dit nodig om dit in tersiêre instellings te gebruik.”

Chameleon het ’n beroep gedoen op Afrikaanssprekendes om dadelik in te spring en die taal te red. “As ons wag tot môre gaan dit te laat wees en dan gaan ons spyt wees. Elke taal is ’n persoonlikheid en wanneer jy daai taal wegneem vereng jy die menslike persoonlikheid.”

Chameleon het gepleit dat sprekers die taal uitbrei en uitbou en dat die lewering van Afrikaanse produkte moet uitbrei, omdat die taal baie potensiaal inhou.

Onderwysers is in ’n geweldige invloedryke posisie wat die Afrikaanse taal betref. Hul passie vir die taal kan jongmense beïnvloed om ook ’n bydrae tot die uitbou van die taal te lewer. 

Moenie toelaat dat huidige ekonomiese en politieke realiteite jou toekomshoop laat ontspoor nie.

Sluit vandag aan by die Skole-ondersteuningsentrum.