Opgestel deur Reint Dykema, Kennisbestuurder AfriForum [email protected]
As graad 12-leerders op 1 Junie moet teruggaan skool toe gaan dit vir baie ouers voel asof hul kinders aanmeld vir die eerste skooldag in graadeen. Daar is soveel onsekerheid, angs en die onbekende wat wag in ‘n Covid-19 era wat die nuwe normaal is dat jy nie te vêr vooruit kan beplan nie. In skole is daar sosiale samesyn en Covid-19 maatreëls maak staat op sosiale afstand.
Net so is daar baie onsekerheid vir onderwysers wat moet skoolhou maar steeds daarop ingesteld moet wees dat dit veilig moet plaasvind.
Nuwe tegnologie het reeds die manier waarop skool gegee word verander tydens inperking. Die “spaarwiel” wat moes dien as noodwiel kan heel moontlik die hoofwiel word vir die toekoms.
Covid19 Opdatering 2020/05/20 Vlak 4. Dag 54 van inperking (12H00 SA tyd)
D-dag vir skole om te open is 1 Junie
Die minister van onderwys Angie Motshekga het gisteraand op ’n mediakonferensie aangekondig dat skole op 1 Junie heropen vir graad 12 en graad 7 leerders. Onderwysers moet op 25 Mei terugkeer na skole om reg te maak vir die heropening. Daar is nog nie ander datums of skedules gegee wanneer die ander grade moet terugkeer.
Minister Motshekga het met die mediakonferensie goed oorgekom en het deeglike voorbereiding getref. Dit is bemoedigend om te sien dat die heropening van skole vir haar belangrik is.
Daar is verstaanbare redes vir elke klip wat lê in die pad van die heropening van skole. Die uitdaging is om die kwessies sinvol op te los. Die gesondheid van leerders en onderwysers is vir alle partye van groot belang. Vakbonde voel baie sterk daaroor dat onderwysers se gesondheid voorkeur moet geniet.
Oor die wêreld heen het min kinders gesterf aan Covid-19 of verwante siektes. Kinders kan wel die siekte kry by skole en dit dan oordra aan die res van die gesin by die huis. Net so is onderwysers en veral ouer onderwysers en onderwysers met onderliggende siektes baie meer blootgestel aan Covid-19. Met die inperking van gaan afskaal na vlak 3 gaan baie meer ouers moet werk wat dit noodsaak dat kinders moet teruggaan skool toe.
Jonathan Witt wys op Twitter die volgende uit oor die verband tussen Covid-19 en kinders wat gesterf het daarvan: Children are at such low risk that fewer than 30 of them have died worldwide out of the 320 000 COVID deaths (0.009%). The average kid has a greater chance of being struck by lightning in their lifetime than they do of being killed by COVID.
Met die heropening van skole moet daar gekyk word na kwesbare kinders en onderwysers wat onderliggende siektetoestande het. Die korrekte hande was higiëne en masker dra maatreëls moet in plek wees. Sosiale afstand maatreëls moet geld in klase. Skole moet ook voorsien word van die regte sanitasie voorraad en waar byvoorbeeld water voorsiening en ander sanitasie ’n probleem is, moet die reggestel word.
In Suid-Afrika het ons die negatiewe situasie waar jy nie kan kies of jy lewens moet red deur Covid-19 inperking en of jy die ekonomie en werk moet red deur die hervatting van ekonomiese aktiwiteit. Die moontlikheid bestaan dat daar beide groot lewensverlies gaan wees asook groot ekonomiese skade en werkloosheid.
Inperking is net ’n onrealistiese droom in townships en die landelike omgewing waar baie mense skuilings en huisies moet deel, waar sanitasie swak is en sosiale toelaes maandeliks afgehaal moet word in rye waar geen sosiale afstand gehandhaaf word nie.
In Suid-Afrika is die heropening van skole nie net belangrik vir akademiese oorwegings nie, maar ook vir voeding waar baie kinders afhanklik is van ’n maaltyd by die skool.
Ruth Hall van PLAAS wys daarop dat 9 miljoen kinders nie kon deelneem aan die Nasionale Skool Voedingsprogramme nie. James Styan, die Wes-Kaapse regeringswoordvoerder het daarop gewys dat die Wes-Kaap wel daarin geslaag het om daagliks 1,2 miljoen etes aan kinders te verskaf soos wat die regering daar voor inperking reeds gedoen het.
Die onderwyskenner Eric Hanushek van die VSA wys daarop dat die kwaliteit van onderwys ‘n groot inpak het op die toekomstige groei van ‘n land se ekonomie en in sy verwysing die groei van die VSA ekonomie. Hy wys daarop dat skole voorbereid was vir enige ramp maar nie ‘n pandemie soos Covid-19 waar skole vir maande gesluit word.
Skole het dan ook geskuif na tegnologiese oplossings. In dieselfde video wys nog ’n kenner Margaret Raymond dat skole ‘n verskeidenheid van nuwe modelle aangeneem en beproef het. Tegnologie het nuwe opsies van onderrig oopgemaak soos wat aangepas moes word.
In Suid-Afrika het die Skoleondersteuningsentrum (SOS) met sy Wolkskool met die inperking sterk na vore getree as ‘n opsie om onderrig voor te sit terwyl die skole gesluit is. Die SOS het in 2 maande gegroei na 112 000 leerders. Daar is ook moeite gedoen deur die SOS om gedurende die tyd ook onderwysers te bemagtig. Die SOS het ook om die diens verder uit te brei op die Wolkskool nuwe funksies geskep wat onderwysers help met hul klaskamerbestuur.
Die Wolkskool se splinternuwe funksionaliteite vir onderwysers wat reeds geïmplementeer is, of binnekort (binne die volgende paar weke) geïmplementeer word sluit in: Dat onderwysers kan self klasse skep en leerders kan koppel. Dis ook moontlik om meer as een onderwyser per klas te hê. Die stuur van afkondigings, boodskappe en dokumente aan leerders en ouers. Toegang tot verbeterde vorderingsverslae van leerders of klasse (binnekort). Onderwysers kan opdragte skeduleer en leerders kan dit elektronies indien.
In effek beteken dit dat onderwysers nou die platform kan gebruik om hul eie inhoud (opdragte, video’s, lesmateriaal, videokonferensieskakels, skakels na vraelyste, ens.) aan leerders te kommunikeer. Tesame met die bestaande inhoud, skep dit ‘n uitstekende basis om vlakke van leer by jou leerders binne ‘n vaste raamwerk te bedryf.
Volg nuusartikels deur die dag op Facebook by Covid 19 Bulletin South-Africa
Terwyl ons die visionêre leiers van die GRA uit 1875 eer, staan GeRAT vandag as ‘n simbool van daardie erfenis, waar ons passie vir Afrikaans en sy kultuur voortduur. Deur op hierdie geskiedenis te bou, aanvaar ons die plig om die hart van Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te versterk en, 145 jaar later, bly ons standvastig en toegewyd aan die taal en kultuur wat ons so liefhet.
0 comments